Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars gaan Woensdag landwyd betoog
Die sanger Vicky Sampson, tans tussentydse voorsitter van Tumsa, gaan in Kaapstad aan die optog deelneem. Foto: Getty Images

Genoeg is genoeg.

Dít is die kreet van 20 Suid-Afrikaanse organisasies, verenigings en vakbonde in die kuns-en-kultuur-sektor wat beplan om Woensdag saam met hul lede na die Uniegebou in Pretoria, die parlement in Kaapstad en die premierskantore in al nege provinsies op te ruk.

Al dié belanghebbendes gaan die We March as One 4 the Arts-optog aanpak om ’n grieweskrif aan pres. Cyril Ramaphosa te oorhandig – en ’n pleidooi aan hom te rig om die sektor, wat in hul woorde reeds deur die pandemie “afgemaai” is, van ondergang te red.

Volgens Gabi le Roux, sekretaris-generaal van die Vakbond vir Suid-Afrikaanse Musikante (Tumsa), het die idee vir die optog uit talle oorde opgeklink toe belanghebbendes vergader het om probleme te bespreek wat hul lede met die nasionale departement van sport, kuns en kultuur se Covid-19-hulpfonds ondervind. Dié belanghebbendes het benewens Tumsa onder meer die burgerlike beweging Im4theArts en die Suid-Afrikaanse Kunste- en Kultuur-jeugforum (SAACYF) ingesluit.

“Dit is in daardie vergadering wat ons afgespreek het om ’n brief aan die minister van sport, kuns en kultuur (Nathi Mthethwa) te rig en ’n dringende vergadering te versoek, maar dit (die vergadering) het nooit gebeur nie,” sê Le Roux.

“Ons het toe op die optog na die Uniegebou besluit om ’n memorandum met ons griewe aan die president te oorhandig.”

Le Roux en Sibongile Mngoma, stigter van Im4theArts, het albei Dinsdag herhaaldelik op ’n aanlyn mediakonferensie gesê dat die Covid-19-pandemie, probleme met hulpfondse, en sekere Covid-19-maatreëls soos die aandklokreël, wat die bedryf steeds wurg, slegs die “katalisator” is vir kwessies in die kuns-en-kultuur-sektor wat sedert 1994 sloer – en wat kunstenaars in die land nie verder gaan duld nie.

Dié kwessies sluit onder meer in korrupsie en die wanbestuur van finansiering wat vir die kunste bedoel is; die aanstelling van politici wat geen ervaring of kwalifikasies in die kunste het nie, maar steeds besluite neem wat die bedryf beïnvloed; buitelandse inhoud wat voorrang geniet bo plaaslike inhoud; probleme met kopiereg en organisasies wat tantième invorder; en die regulering van die bedryf wat sedert 1994 geheel en al ongereguleerd is. Dié griewe is ook by die memorandum ingesluit.

“Ons vra nie vir enigiets onredelik nie – ons vra dat die sektor se waardigheid herstel word,” het Mngoma tydens die mediakonferensie gesê.

“Wat ons gevra word om te doen, is om bedelaars te word, en dit is nie wie ons is nie. Ons word soos kinders of selfs boemelaars hanteer, ondanks daarvan dat ons geskoold is. Dit is baie maklik om ons (kunstenaars) as ‘ongeskoolde arbeid’ af te maak, soos ons in ’n onlangse Staatskoerant beskryf is, maar ons is skool toe, ons het ervaring, en as die regering nie weet wat om met ons bedryf te doen nie, is daar talle mense in ons sektor wat weet wat om te doen.”

Dít is veral wat hulle onder Ramaphosa se aandag wil bring, sê sy.

“Praat met ons. Moenie ’n minister, wat om ’n politieke rede aangestel is en geen idee het wat om te doen toelaat om die bedryf te dikteer waarin ons daagliks werk nie, want niemand weet beter as ons hoe om dit te doen nie.

“Ons pleidooi is: Meneer die president, let asseblief op, luister na ons, maak ons weer belangrik.”

Benewens Tumsa, Im4theArts en die SAACYF gaan talle ander organisasies aan die optog deelneem, soos die plaaslike vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA), die Suid-Afrikaanse Maskandi-vereniging (Sama) en die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Vermaaklikheidskunstenaars (AESA).

Die optog begin om 09:00 op Kerkplein in Pretoria en om 10:00 voor die parlement in Kaapstad. Besonderhede oor optogte in ander provinsies kan verkry word deur ’n e-pos na Romeo Ramuada by ramuadatr@gmail.com te stuur.

Covid-19-maatreëls gaan landwyd toegepas word.

Die landwye optogte sal ook op die Facebook-blad https://www.facebook.com/groups/Im4theArts gestroom word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.