Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars hoor straks oor ‘nuwe’ aansoeke vir hulp

’n Sprankie hoop wink vir kunstenaars wat nog nie voordeel getrek het uit die nasionale departement van sport, kuns en kultuur se oorkoepelende R150 miljoen-hulpfonds nie.

Masechaba Khumalo, woordvoerder van Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het bevestig dat Mthethwa volgende week op ’n mediakonferensie sal bekend maak of aansoeke vir finansiering uit die hulpfonds vir ’n tweede keer oopgestel sal word.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Mthethwa het die hulpfonds aanvanklik op 25 Maart aangekondig, waaronder kunstenaars wie se inkomste weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking uitgewis is, ook vir finansiering uit die fonds aansoek kon doen.

Grootskaalse ongelukkigheid is egter byna uit die staanspoor geopper, veral op die Facebook-groep Im4theArts, omdat talle kunstenaars onder meer weens ’n gebrek aan inligting, vlak 5-inperkings én tegniese probleme met die departement se e-posstelsel nie die sperdatum van 6 April kon haal nie.

Zimasa Velaphi, woordvoerder vir kuns en kultuur in die departement, het vroeër aan Netwerk24 gesê Mthethwa is bewus van dié kritiek en dat hy “definitief bekommerd” is, veral nadat hy deur die paneel wat die aansoeke geëvalueer het, ingelig is dat “sommige mense wat verdien om befonds te word, nie nou voordeel uit die hulpfonds kan trek nie”.

Volgens die departement se jongste lys van begunstigdes (...) het 2 003 begunstigdes uit die kunssektor saam R37 697 526,28 ontvang.

Die departement het in ’n mediaverklaring op 6 Mei gesê dat Mthethwa ná ’n vergadering met talle kunste-organisasies en -federasies vir eers teen ’n tweede ronde aansoeke besluit het sodat hulle eerder afgekeurde aansoeke kan herevalueer. ’n Mediaverklaring wat op 6 Julie uitgereik is, lui egter dat Mthethwa en die departement daarna kyk om aansoeke weer oop te stel.

Die minister sal volgens Khumalo volgende week uiteindelik uitsluitsel hieroor gee – ook presies hoeveel kunstenaars se aansoeke goed- en afgekeur is en hoekom sommige aansoekers tot R53 000 gekry het – dít nadat Mthethwa benadruk het dat geen aansoeker meer as R20 000 in die sak sal steek nie.

Volgens die departement se jongste lys van begunstigdes, wat op 3 Julie op sy webwerf gepubliseer is, het 2 003 begunstigdes uit die kunssektor saam R37 697 526,28 ontvang.

Khumalo sê Mthethwa sal ook volgende week bevestig presies hoeveel geld in die hulpfonds oor is.

Paul Loeb van Zuilenburg, dirigent en artistieke direkteur van onder meer die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes en die Stellenbosse Stadsorkes, sê hy het reuse-verliese weens die pandemie gely en sal dit verwelkom as aansoeke vir die noodfonds weer oopgestel word.

Paul Loeb van Zuilenburg Foto: Argief

“Ons het nog agt projekte vir die res van die jaar beplan gehad. Elke projek se omset het tussen R110 000 en R140 000 gewissel,” sê hy.

“Ek het sedert 10 Februarie geen artistieke werk gedoen nie, en ek glo nie daar gaan enigiets gebeur voor vroeg volgende jaar nie. Gelukkig kon ek aanhou aanlyn klasgee by die Universiteit van Pretoria; dit is darem ’n klein basisinkomste.

“Ek voel meer bekommerd oor my orkeslede en hul inkomste as my persoonlike situasie; daarom sou dit positief wees as dit (aansoeke) weer oopgestel kan word, maar as ek R20 000 tussen 16 mense moet verdeel sal dit ook nie regtig veel verskil maak nie.”

Loeb van Zuilenburg sê hy het aanvanklik voor die sperdatum vir finansiering uit die hulpfonds aansoek gedoen, maar het sedertdien “niks van enige aard gehoor nie – nie eens of dit ontvang is nie”.

Hy sê hy het ook nie by die departement appèl hieroor aangeteken nie. “Met wie praat ’n mens? Daar is geen kontakpersone nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.