Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars kry nou baie kleiner deel van hulpfonds

Kunstenaars se maande lange wens is uiteindelik bewaarheid: Aansoeke vir die departement van sport, kuns en kultuur se R150 miljoen-hulpfonds gaan binnekort weer oopgestel word – maar daar is ’n vangplek.

Sandra Prinsloo Foto: Argief

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Maandag op ’n mediakonferensie gesê R61 miljoen is reeds ná die eerste ronde aansoeke uitgedeel. Kunstenaars en sportlui wie se inkomste deur die Covid-19-pandemie en die staat van inperking uitgewis is, maar nog nie uit die fonds kon munt slaan nie, kan nou aansoek doen om die oorblywende R77 miljoen – waarvan R65 miljoen aan sportlui en net R12 miljoen aan kunstenaars toegeken sal word.

Daarmee saam sal nie net 1 818 aansoeke uit die kunssektor dié keer goedgekeur word nie, maar elk van dié begunstigdes sal slegs R6 600 kry wat oor ’n tydperk van drie maande – September, Oktober en November – in gelyke paaiemente betaal sal word. Dié bedrag is heelwat minder as die eenmalige bedrag van R20 000 wat begunstigdes van die eerste ronde aansoeke ontvang het.

Die veteraan-aktrise Sandra Prinsloo het uit haar maag gelag toe Netwerk24 haar van dié verwikkeling inlig.

“Dít is my mening daaroor,” sê Prinsloo oor haar bulderlag. “Dit is belaglik! Sportmanne, in die algemeen, verdien heelwat meer as wat akteurs en tegnici in die kunste verdien. Dit is onverstaanbaar. Wat moet kunstenaars daarmee doen?”

Die musikant Corneille Hutten, een helfte van die bekroonde kitaarduo CH2, stem saam en sê dit is onregverdig dat begunstigdes in die eerste ronde R20 000 elk gekry het, maar dat kunstenaars nou met R13 400 minder tevrede moet wees.

“Hoe oorleef ’n mens op R2 200 ’n maand? Laat vaar eerder die regulasies vir teaters en restaurante en laat musikante hul eie geld verdien.

“Kunstenaars word net weer opsy gestoot en uitgewerk – en nou moet ons tevrede wees met dít? Hoe betaal ’n mens jou kos, medies, kar en verblyf met R2 200? Dit sit moontlik net kos op die tafel vir ’n gesin, dan is die res van jou rekeninge nog uitstaande.”

Hoe oorleef ’n mens op R2 200 ’n maand? Laat vaar eerder die regulasies vir teaters en restaurante en laat musikante hul eie geld verdien.
Corneille Hutten

Netwerk24 het in April berig dat Hutten se aansoek om finansiering uit die toe nog R150 miljoen-hulpfonds afgekeur is omdat hy glo nie sy aansoek betyds ingedien het nie – dít hoewel hy bewyse kon toon dat sy aansoek 14 uur voor die aanvanklike sperdatum van 6 April om 23:59 ingedien is.

Volgens Nocawe Mafu, adjunkminister van sport, kuns en kultuur, sal die departement later bekend maak wanneer kunstenaars weer hul aansoeke kan indien; aansoeke is tans nog gesluit. Aansoekers sal dié keer 14 dae hê om hul aansoeke in te dien.

Meer oor:  Kunste  |  Nathi Mthethwa  |  Sandra Prinsloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.