Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars ontsteld oor U-draai met kontrakte

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het van sy begunstigdes die harnas in gejaag met die aankondiging dat hy heelwat minder noodfinansiering aan hulle gaan uitbetaal as wat hy voorheen in ’n kontrak aan hulle belowe het.

Dr. Sipho Sithole. Foto: Gallo Images

Dr. Sipho Sithole, een van die kunsteraad se direksielede, het Woensdag in ’n openbare Zoom-vergadering gesê dié stap word gedoen sodat die raad meer finansiering tot sy beskikking het om meer kunstenaars te ondersteun.

Sithole sê die kunsteraad is met aansoeke om finansiering oorval nadat die nasionale tesourie in November R300 miljoen as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) aan die raad en die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) toegeken het.

Volgens Sithole het die kunsteraad 2 486 aansoeke vir dié finansiering in twee strome ontvang – een vir kunste-organisasies om afleggings te keer en nog een vir die skep van nuwe kunsteprojekte.

Nadat 406 aansoeke gediskwalifiseer is het ’n paneel die oorblywende 2 080 aansoeke beoordeel en 1 374 aansoeke goedgekeur – hoewel die R300 miljoen in sy beursie nie eers die helfte van dié aansoeke kon finansier nie.

Terwyl die kunsteraad se vorige direksie, wie se termyn op 31 Desember geëindig het, aan ’n oplossing vir dié “skielike dilemma” gedink het, het hy in Desember 613 (van die 1 374) aansoekers ingelig dat hul aansoeke suksesvol is én kontrakte met hulle gesluit, waarin hy beloof het om elke kunstenaar wat aan ’n kunste-organisasie of -projek verbonde is R16 600 (in stroom een) en R25 000 (in stroom twee) te betaal.

Nadat 406 aansoeke gediskwalifiseer is het ’n paneel die oorblywende 2 080 aansoeke beoordeel en 1 374 aansoeke goedgekeur – hoewel die R300 miljoen in sy beursie nie eers die helfte van dié aansoeke kon finansier nie.

Die kunsteraad se nuwe direksie, wie se termyn op 1 Januarie begin het, het dié tameletjie by sy voorganger geërf en glo Sondag in hul soveelste “eindelose” laataandvergadering besluit dat ’n U-draai die beste oplossing is: Om die oorblywende 761 suksesvolle aansoeke te finansier, sal kontrakte wat reeds onderteken is, gewysig moet word sodat geen kunstenaar meer as R10 895 kry nie.

“Wat beteken dit? Dit beteken ons moet al die toekenningsbriewe aan aansoekers wat deur ons besluit geaffekteer word, heruitreik en ons weet dit gaan ongelukkigheid veroorsaak,” sê Sithole.

“Sommige begunstigdes sal ons waarskynlik hof toe sleep, en daar sal allerhande uitlatings wees oor hoekom die raad gedoen het wat hy gedoen het, maar op die ou end is ons Suid-Afrikaners wat weet dat mense sonder kos bed toe gaan – en dat ons die klein begroting wat ons so goedgunstiglik van ons regering ontvang het só moet verdeel dat almal wat dit verdien ’n klein deel kry.”

Dié besluit is in ’n vraag-en-antwoord-sessie ná Sithole en Rosemary Mangope, NAC-hoof, se spreekbeurt fel gekritiseer – veral deur begunstigdes wat op grond van hul ondertekende kontrakte reeds met hul kunsteprojekte begin het en medewerkers teen afgespreekte bedrae aangestel het.

Lara Foot Foto: Argief
Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Lara Foot, hoof van die Baxter-teater in Kaapstad, het begrip vir dié “onbenullige” wiskundige fout getoon, maar gesê die kunsteraad se oplossing daarvoor is onwettig.

“Die feit is julle het meer as 600 begunstigdes ’n spesifieke bedrag geld op skrif belowe, en dat die organisasies op grond van dié belofte kunstenaars gekontrakteer het – kunstenaars wat geld nodig het en nou gaan staatmaak op salarisse wat ons aan hulle belowe het.

“Om nou terug te kom en jul belofte oor die bedrae te verbreek, is – en ek wil nie fel byvoeglike naamwoorde gebruik nie – maar dit is eerstens eenvoudig onwettig en tweedens, wat doen ons nou met al die kunstenaars vir wie ons werk belowe het, maar vir wie ons nou nie werk kan gee nie omdat julle die kontrak wil herroep?”

Die sangeres Sibongile Mngoma, president van die Im4theArts-beweging en die South African United Cultural and Creative Industries Federation (SAUCCIF), het gesê Sithole se kommentaar dat hulle waarskynlik hof toe gesleep sal word, is “kommerwekkend”.

“Om dit te sê vir kunstenaars wat vir meer as ’n jaar niks verdien het nie, is gelykstaande aan om vir mense te sê hulle kan maar koek eet, wetend dat hulle dit nie kan bekostig nie – julle weet hulle (kunstenaars) kan nie ’n hofgeding bekostig nie. Dit is ’n baie traak-my-nieagtige stelling om te maak en dit laat ’n mens wonder of die mense by die NAC, ook die direksie, werklik die erns van die situasie waarin meeste kunstenaars hulle bevind, verstaan.”

Foot en Mngoma het die kunsteraad albei gevra om aan die departement van sport, kuns en kultuur, die tesourie, asook pres. Cyril Ramaphosa se voordeur te klop en hulle vir meer geld te vra sodat kunstenaars nie vir die raad se fout hoef te boet nie.

Netwerk24 het verlede week berig dat kunstenaars in Desember reeds uitbetalings moes ontvang, maar teen 17 Februarie nog nie ’n sent ryker was nie.

Mangope het Woensdag gesê uitbetalings sal dadelik begin. Sithole het gesê hy is met die direksie eens dat die kunsteraad daagliks op sy sosialemediaplatforms verslag moet doen oor watter begunstigdes se uitbetalings afgehandel is en hoeveel elke begunstigde ontvang het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.