Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars soek plekke vir hul straatkuns

’n Kunsprojek met ’n tweërlei doel – om maatskaplike probleme onder die publiek se aandag te bring en werk aan kunstenaar te verskaf – het die koördineerder van Bloemfontein só besiel dat hy besluit het om dit privaat voort te sit.

Litemba Mpambani se muurskildery op die hoek van Eerste Laan en Kellnerstraat in Bloemfontein. Foto’s: Oliewenhuis
Ook op die hoek van Eerste Laan en Kellnerstraat is “Big Cat Lady”. Die jagluiperd is een van talle nasionale simbole wat in die openbare kunsprojek uitgebeeld is.
“Vlieg soos ’n voël”: Qualitas-akademie, Wes-Burgerstraat 74, Bloemfontein.
“Skerm teen geweld”: Nando’s in Welkom.

Die aanvanklike projek was deel van die presidensiële werkverskaffings-en-stimulusprogram wat in samewerking met die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein aangepak is.

Marius Jansen van Vuuren se planne vir die voortsetting van die projek is om van sakelui en ander te verneem of hulle belang stel in muurskilderye om hul omgewings te verfraai.

Volgens hom het hy in die aanvanklike projek 100 mense aangestel wat onder sy leiding onooglike mure in Vrystaatse dorpe en in Bloemfontein beskilder het.

Dit klink eenvoudig, maar om dorpe te besoek, onderhoude met kandidate te voer, werksessies te hou, die materiaal af te lewer en die werk aan die gang te kry was ’n groot taak om binne vier maande af te handel. Kerstyd en die Covid-19-aanslae het ook die vordering vertraag, sê hy.

Die skeppingsproses het begin met werksessies wat hy met gekeurde kunstenaars in Bloemfontein gehou het, en daarna na die groepe in die verskillende dorpe geneem het.

Dié 100 kunstenaars het nie ’n tekort aan planne gehad vir die ontwerp van die muurskilderye, wat geslagsgeweld, die voorkoming van Covid-19 en gewilde nasionale simbole uitbeeld nie. Dit was temas wat in die presidensiële program voorgeskryf is.

“Vroue met leeuekrag” op ’n muur in QwaQwa.
“Waak teen die Covid-19-virus”: Kliniek se muur in Soutpan.
Koffiefontein

Van Vuuren sê hulle het op ’n “popkunsstyl besluit omdat skoon lyne en helder kleure besonder treffend in ’n afgeleefde omgewing vertoon”.

“Vroeër jare was openbare kuns beperk tot standbeelde en dié wat deur die beeld vereer is, en kyk gewoonlik af op mense. Deesdae se openbare kuns is groter as lewensgrootte uitbeeldings op grondvlak wat verbygangers opbeur al verkondig dit dalk ’n donker tema.”

Van die dorpe waar die muurskilderye gesien kan word, is Harrismith, Welkom, Soutpan, Thaba Nchu, Koffiefontein en verskeie plekke in Bloemfontein.

Litemba Mpambani, ’n 23-jarige kunsstudent in haar derde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het die kunswerk op die hoek van Kellnerstraat en Eerste Laan in Bloemfontein geskep. Kort nadat dié werk voltooi is, is sy naby die UV se hoofhek in ’n tref-en-trap-ongeluk doodgery. Haar kunswerk boots die buiteblad van die Times-tydskrif na.

Mmabana-kunssentrum, Thaba Nchu.
Nog ’n kunswerk op die hoek van Eerste Laan en Kellnerstraat in Bloemfontein is die kameelperde.
Dié kameelperd wat 8 m hoog op die Vrystaat Kunstefees uitgetroon het, was die begin van die kunstenaar Marius Jansen van Vuuren se loopbaan as gesogte skepper van enorme openbare kunswerke. Foto: Verskaf

Jansen van Vuuren is vol lof vir Ester le Roux, kurator van Oliewenhuis, en die kunstenaar Junior Mentz wat in moeilike omstandighede en met so min tyd groot staatmakers was.

“Daarby was die geesdrif van die kunstenaars in baie gevalle so aansteeklik dat ’n mens nie anders kon as om alles in te sit nie.”

Kontak Jansen van Vuuren by 082 777 2545 of mailbox@mariusjansenvanvuuren.com.

Wie is Marius Jansen van Vuuren?

Dié Bloemfonteinse kunstenaar het in Kimberley grootgeword en in 2009 die graad B-tech in visuele kuns aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein verwerf. In sy derde jaar is hy as die beste kunsstudent aan die SUT aangewys.

Hy was ’n kunsdosent aan die Motheo-kollege in Bloemfontein toe hy gevra is om ’n reuse-kameelperd vir die Vrystaat Kunstefees te ontwerp en te bou.

Dié opdrag deur Ricardo Peach, die vorige kunstefees-direkteur, het sy loopbaan in ’n rigting gestuur waarin hy steeds tuis voel en uitblink – die skep van reuse- openbare kunsstrukture.

“Die kameelperd was ’n waterskeiding in my loopbaan. Ek het by Motheo bedank en nog nooit weer teruggekyk nie.”

Ná voltooiing van die kameelperd van 8 m hoog in 2016 het hy opdragte gekry om ’n groter as lewensgrootte vos in 2017 in Sjanghai, China, ’n eekhoring van 12,5 m in 2018 in Almaty, Kazachstan en ’n yslike vark in 2019 in Manchester, Engeland op te rig.

Van Vuuren word dikwels as koördineerder van groot projekte soos die presidensiële program ter ondersteuning van kunstenaars in die Covid-19-tyd aangestel.


Meer oor:  Pesp  |  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.