Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunswerke vir siggestremdes se opleiding opgeveil

Kunswerke deur onder andere David Kuijers, Derric van Rensburg en Selwyn Pekeur is deel van ’n nuwe aanlyn kunsveiling wat geld vir die opleiding van siggestremdes in Suid-Afrika insamel.

Cliff Brown se 'Divine' is op die The Art of Blind
Cliff Brown se 'Divine' is op die The Art of Blindness-kunsveiling te koop. Foto: Verskaf / Cliff Brown

Die veiling, The Art of Blindness, word deur die Hein Wagner-akademie in Worcester in samewerking met Red! Gala for Good aangebied.

Die akademie, ’n organisasie sonder winsbejag, is verlede jaar deur Hein Wagner, ’n blinde avonturier en motiveringspreker, gestig om siggestremdes met opleiding en vaardighede te bemagtig wat hulle sal help om finansieel onafhanklik te word.

Wagner sê 30% van die akademie, wat op die terrein van die Pionierskool geleë is, se inkomste word deur fondswerwing ingesamel.

“Kompetisie in die veld van geldinsameling is geweldig sterk, dus moet ons altyd poog om so kreatief as moontlik te wees wanneer ons projekte beplan,” sê hy.

“Die The Art of Blindness-kunsveiling is ’n unieke poging, nie net om geld in te samel nie, maar ook om bewusmaking te skep vir die diens wat ons aan siggestremde mense bied.”

Hein Wagner Foto: Alex Oelofse

Hy sê hulle poog om R1 miljoen met die veiling in te samel, onder meer vir die akademie se tegnologie-opleidingsentrum.

“Die geld wat ingesamel word, gaan spesifiek gebruik word om ons opleiding in kubersekerheid uit te brei en meer behoeftige studente te kan borg om deel te word van hierdie hoogs gespesialiseerde opleiding.

“Ons wil ook dringend ons behuisingsgeriewe opgradeer om sodoende vir ons studente ’n gemaklike en aantreklike leefomgewing te skep. Ons is baie positief dat hierdie inisiatief só suksesvol sal wees dat ons albei kan doen.”

Dié opleiding is uiters belangrik, sê hy, omdat dit enigiemand met ’n siggestremdheid sal help om toegang tot die arbeidsmark te kry.

“Die werkloosheidsyfer in die breër gestremde gemeenskap beloop bykans 95%, en die enigste doeltreffende manier om hierdie situasie te verbeter of om te keer, is deur middel van gefokusde, kreatiewe opleiding en werkskepping.

“Ons kan dit egter nie alleen doen nie. Daarom het ons die ondersteuning nodig van die publiek, ons kunsliefhebber-vriende en almal wat ’n hart het om die wêreld ’n beter plek te maak, veral vir mense wat met ’n inperking leef.”

Die veiling het reeds in September geopen en sluit op 30 November. Benewens Kuijers, Van Rensburg en Pekeur is werke deur Rick Becker, Cliff Brown, Vanessa Carosini, Andrew Cooper, Koos de Wet, Wilma du Toit, Junior Fungai, Joe Joubert, Richard Mackintosh, Paul Munro, Wakaba Mutheki, Sam Rankin, Marius Rossouw, Francisco Santana, David Thorpe, Glen Tong en D. Whyte ook op die veiling se katalogus ingesluit.

Kunsliefhebbers kan ook bie op ’n ondertekende afdruk van Tretchikoff se Lady from Orient.

Die veiling vind op https://www.heinwagneracademy.org/theartofblindness plaas. Stuur ’n e-pos na info@heinwagneracademy.org vir meer inligting.

Meer oor:  Hein Wagner  |  Veiling  |  Kuns  |  Visuele Kuns  |  Kunsveiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.