Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunswerke wat knaag aan die kyker
Johann van der Schijff se Monster in die donker – Casspir, 2019, brons, kiaat, sandsteen en goudblad (19 x 27 x 144 cm).

Daar is altyd snellers vir ’n noodtoestand – vir ’n tydvak in ’n land of in die loop van ’n mens se lewe. Die kunstenaar Johann van der Schijff het beelde geskep om sy noodtoestand te probeer besweer. Johan Myburg het gaan kyk.

Demone het ’n nuk om ’n ruk lank gepaai voor te kom; bedees en onder beheer. Net om wakker te word en in ’n ommesientjie, soos tevore, verwoesting te saai. Dikwels is daar ’n aanduibare sneller wat die hele spul in beweging kry, soos ’n grens wat oorgesteek word, of ’n konfrontasie van die een of ander aard.

Johann van der Schijff dui twee moontlike snellers aan wat gelei het tot die noodtoestand waarin hy is. Die een is die oproer wat in 2015 begin het weens die #RhodesMustFall-beweging op die kampus van die Universiteit van Kaapstad waar hy klas gee, en die ander een is die feit dat hy onlangs 50 geword het.

Eersgenoemde het hom, soos hy sê, in ’n krisis gedompel en gekonfronteer met kolonialisme, wit bevoorregting en identiteitspolitiek. As ’n wit, Afrikaanssprekende man het dit hom gelaat met die vrae wat Paul Gauguin 121 jaar gelede gestel het in die titel van ’n skildery: Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Waar gaan ons heen? Asof ’n 50ste verjaardag nie genoeg is om dié soort vrae te ontlok nie.

Mirages, Franse eikehout, 2019, staal, gegalvaniseerde staal en emaljeverf (58 x 166 x 170 cm).

Dat Noodtoestand, sy uitstalling in Lizamore & Associates ’n intens persoonlike verwerking is van dié vrae én duiwels van die verlede wat nou uit ’n sluimerslaap gewek is, benadruk hy in sy meegaande katalogus, maar ook in ’n rondleiding deur die uitstalling.

Maar die noodtoestand van die titel word ook in verband gebring met sy grootwordjare in Pretoria in die tyd van die 1985-noodtoestand, wat aan die staat meer magte gegee het as wat hy reeds gehad het. As ’n leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool het hy Mirages oor die Waterkloof-lugmagbasis gesien en hoor vlieg, en op pad huis toe het hy konvooie Ratels teëgekom. Saans was daar beelde van Casspirs en polisie-optrede in die townships.

’n Beduidende deel van die uitstalling bestaan uit speelgoedweergawes van dié troepedraers en ander gevegstuig in brons – op ooghoogte uitgestal in die vorm van ’n groot laer.

Asof Van der Schijff dié spoke van die verlede (nêrens gee hy aanduiding dat hy diensplig gedoen het nie) wil besweer, is die eerste werk wat die besoeker teëkom Threshold buite die galery – ’n kabel van vlekvrye staal met goue amulette wat soos in die Griekse mitologie en leefwêreld die besoeker beskerming moet bied voordat die galery binnegestap word.

Hoewel die werk in die uitstalling ’n klaarheid het, is die ambivalensie wat herinner aan dié van Janus, die Griekse god van die drumpel wat tegelyk vorentoe én agtertoe kyk, dralend in die galery. Op ’n voetstuk van kiaat met bladgoud en gedresseerde sandsteen staan sy bronsweergawe van ’n Casspir, Monster in die donker – Casspir, ’n beeld waarin hy slaag om die brutaliteit van dié voertuig te beklemtoon, selfs dalk meer as wat die voertuig in werklikheid dit kon regkry.

In die verhewe aanbod van dié “monster”, die melancholie wat na vore kom en die respek wat die kunstenaar vir die ontwerp van dié voertuig het (soos dit geblyk het in die rondleiding), blyk iets van die ambivalensie waarmee Van der Schijff as “wit Afrikaanssprekende man” sit en waarmee hy stoei binne sy noodtoestand.

Monster in die donker – G6, 2019, brons, staal, gegalvaniseerde staal en emaljeverf (60 x 130 x 60 cm).

In ’n reeks topografiese kaarte plaas hy homself binne en buite die apartheidsdroom, waarin die ontginning van goud (Goud 79 Au en Goud) ? belangrike rol gespeel het, maar ook sy verweefdheid met die geskiedenis van die land (Voorvaders, Trekarbeid en Skande). Nietemin is dié grond ook die plek waar hy wil woon (Paradys) en eindelik deel van wil word (Hiernamaals).

“ ’n Kunswerk kan knaag aan die toeskouer se private sienings, soos demone in die nag,” skryf Van der Schijff in die katalogus. En dit doen die individuele werke en die uitstalling in geheel. Wat het ’n mens aanvaar (om watter rede ook al), waarmee het jy afgereken en wat spook steeds by jou? En belangriker nog: Vir hoeveel van die spoke sit ’n mens snags kos en water uit om hulle aan die lewe te hou?

Tot 5 Oktober.

Lizamore & Associates is by Jan Smutslaan 155, Parkwood, Johannesburg. www.lizamore.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.