Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
KYK: Kunstenaar (87) nog lank nie gereed om penne te bêre

Die blydskap op André de Beer se gesig is duidelik terwyl hy teken: Sy oë verhelder en hy glimlag breed.

Dié 87-jarige kunstenaar van Pretoria se hande makeer niks. Behalwe vir die sketse wat hy nog af en toe doen, speel hy ook klavier.

Kelners sit gewoonlik ’n stuk papier op die tafel voor De Beer neer voordat hulle sy koffie gebring het – elkeen wil sý weergawe van hulle in ink daarop sien. Hy skerts egter dat hy deesdae meestal tjeks vir sy vrou, Silvia (85), teken.

De Beer praat opgewonde oor die stokperdjie wat hy van kleintyd af beoefen. Later jare het hy ’n bestaan daaruit maak deur skilderye te verkoop.

André de Beer hou een van sy mediese spotprente vas. Agter hom is ’n paar van sy vele skilderye teen die muur in sy huis. Foto: Deaan Vivier

Reeds op vyfjarige ouderdom het hy ’n tekening van ’n bobbejaan se gesig gemaak nadat hy ’n dieretuin besoek het. Dit was een van sy eerste tekeninge.

Oor die byna nege dekades het hy al “duisende” sketse, spotprente en skilderye gedoen. Boonop dit het hy ook beeldhouwerk gedoen.

Maar vandag is hy afgetree en doen net sketse – hoofsaaklik van mense.

“Daar het altyd penne en papier in die huis rondgelê en dan teken ek maar. Op skool het ek altyd penne byderhand gehad,” sê De Beer.

Dit is soveel jare later en steeds dra hy altyd ’n pen of twee saam met hom.

“Want as ons deesdae by ’n restaurant kom, dan bring hulle (die kelners) eers papier om sketsies te maak voordat hulle die koffie bring.”

’n Kunstenaar in wording

André de Beer (87) en sy vrou, Silvia (85), in hul huis in Pretoria waar sowat 120 van sy skilderye teen die mure spog. Foto: Deaan Vivier
Dit is vir my lekker om die spotprente te doen, want jy fokus op ’n tipiese eienskap van ’n gesig en dan oordryf jy hom so ’n bietjie en jy beeld die huidige situasie uit.

Sy eerste tekeninge was met potlode en later het sy ouers vir hom verf gekoop.

De Beer vermoed hy het sy kunstalent van die familie aan sy pa se kant geërf. Sy tannie, Suzy McDermid, was ’n bekende kunstenaar in die Oos-Kaap.

Hy het onder meer ’n BA-graad in skone kunste.

Vanaf 1964 tot 1970 was De Beer voorsitter van die National Art Society of South Africa en ook lid van die Kuratorium van die Pretoriase Kunsmuseum. Hy was ook kunsdosent, senior lektor, hoof van die kunsafdeling en viserektor aan die Onderwyskollege in Pretoria. In die 1970’s was hy ’n deeltydse spotprentkunstenaar vir die Pretoriase koerant Hoofstad.

Hy was nog nie eens 50 jaar oud nie toe hy ’n heeltydse kunstenaar word.

Skilderye, spotprente en geen einde

André de Beer blaai deur die lêer met spotprente oor rugby. Foto: Deaan Vivier

Teen die mure in die De Beers se tweeverdiepinghuis hang sowat 120 van sy skilderye wat aan hul vier seuns bemaak is.

Die boonste verdieping is as De Beer se kunskamer ingerig.

Sy inspirasie vir die skilderye kom uit onder meer die verskillende plekke wat hy saam met sy vrou besoek het soos Distrik Ses en Dorpstraat in Stellenbosch.

Hy het met olieverf, akrielverf en pastelle geskilder.

Hul seun Stefan de Beer skilder ook.

André de Beer teken op 87-jarige ouderdom steeds sketse van mense. Hy wys dat hy altyd ’n pen of twee by hom het om enige oomblik ’n skets te kan teken. Foto: Deaan Vivier

Silvia het jare gelede uiteindelik in masjinerie belê om De Beer se skilderye self te raam.

“En as ek hier bo klaar is dan vat sy die skildery en dan hoor ek die masjiene begin loop, want sy doen al die raamwerk,” sê De Beer.

In die kunskamer lê ’n aantal lêers op ’n tafel vol van De Beer se spotprente en sketse met verskeie temas: algemeen, rugby, medies, geboue en Parys (in Frankryk).

Sommige spotprente vertel ook ’n storie.

“Dit is vir my lekker om die spotprente te doen, want jy fokus op ’n tipiese eienskap van ’n gesig en dan oordryf jy hom so ’n bietjie en jy beeld die huidige situasie uit. Ek geniet dit verskriklik.”

Die einde aan De Beer se tekeninge is egter nie binnekort is sig nie en volgens hom is hy nog nie gereed om sy penne weg te bêre nie.

“As hulle my begrawe, sal ek dit vir hulle so aangee,” sê hy en beduie hoe hy sy penne vir iemand bo hom aangee.

“Dan kan hulle dit vir die volgende ou gee.”

Meer oor:  Spotprente  |  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.