Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Legendariese kunshandelaar Joe Wolpe (98) oorlede
Joe Wolpe toe hy 90 jaar oud was.

Die legendariese kunshandelaar Joe Wolpe is Sondagoggend oorlede. Hy was 98 jaar oud.

Hy was ’n nabye vriend van die kunstenaar Irma Stern en hy was by haar in die hospitaal toe sy gesterf het.

Estelle Jacobs, eertydse hoof van die Kaapstadse Kunsvereniging (AVA) in Kaapstad, het Wolpe 40 jaar lank geken en beskryf hom as die man wat “moderne kuns na Kaapstad gebring het.

“Hy was van die eerste kunshandelaars in Suid-Afrika en het eerste David Hockney en later ook Henry Moore se werke in Suid-Afrika verkoop. Hy het hom veral op internasionale kunstenaars toegespits,” sê Jacobs, wat hom as haar vriend, mentor en baas beskryf. Sy het vir hom gewerk in die Wolpe-galery toe dit in Kasteelstraat in Kaapstad gesetel was.

Wolpe het sy kennis van visuele kuns as ’n ramer in sy pa se raamonderneming opgedoen. “Soos die kunstenaars ingekom het met hul werke, het hulle oor kuns gesels. Joe het sy ore gespits. Later het hy die raamonderneming bedryf en die kunstenaars het hom gevra om hul kuns namens hulle te verkoop,” sê Jacobs.

Hy het aanvanklik onder andere die kunstenaars Francine Scialom Greenblatt, Fred Page en Charles Gassner se werk verkoop.

Die kunskenner Amanda Botha meen hy het vrouekunstenaars se werk na die voorgrond geskuif, met baie wat net in groeptentoonstellings die geleentheid gekry het om hul werk te kon vertoon. “Benewens Greenblatt het hy die werk van Cecil Higgs, Ruth Prowse en Nita Spilhaus bevorder. Daarby het hy ook kunstenaars van die Noorde se werk in die Kaap kom wys – ek dink aan mense soos Gunther van der Reis en Johan van Heerden. So het hy provinsialisme afgebreek.”

Volgens Botha was sy toegang tot internasionale kunstenaars ook verstommend vir die tyd. Hy het die werk van Picasso en ander moderne kunstenaars van die hand gesit.

Sy beskryf Wolpe as ’n innemende persoon met ’n wonderlike humorsin, wat graag grappies vertel het.

Hy het in Seepunt in ’n huis in Ocean View-rylaan gewoon.

Die kunsresensent en skrywer Melvyn Minnaar beskryf Wolpe se bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunswêreld as enorm. “Veral in die Kaapse kunskringe was sy rol dinamies betekenisvol deurdat hy as kunshandelaar altyd kunstenaars vooropgestel het.”

Wolpe het ’n liefde en uitstekende “innerlike” oog vir kuns gehad. “Hy het die beste gou en goed raakgesien en bevorder. Met sy innemende persoonlikheid en vertrouensposisie het hy goeie leiding aan beide kunstenaars en kunsversamelaars gegee.”

Wolpe het in die 1980’s as ’n belangrike tussenganger opgetree om werk van internasionale kunstenaars in Suid-Afrika te kry. “Van die waardevolste eietydse Britse kunswerke in die Iziko-kunsmuseum is deur sy toedoen in daardie jare bekom.”

Wolpe het in sy later jare self begin skilder. “Hy het skilderye en collages, klein van formaat, geskep. Dit is modernisties en deurdrenk met filosofiese passie.”

Sy kunsvisie kan só, aldus Minnaar, opgesom word: “Hy had plesier en betekenis in die intiemste verhouding met die kyker in kuns gevind.”

Hy word oorleef deur drie kinders. Sy seun Max is ook ’n kunstenaar.

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.