
Lekgetho Makola, die nuwe uitvoerende hoof van die Javett-kunstesentrum in Pretoria. Foto: Verskaf
Lekgetho Makola, ’n leier in die kunste met baie jare se ervaring in verskillende rolle, is as die nuwe uitvoerende hoof van die Javett-kunstesentrum by die Universiteit van Pretoria aangestel. Hy neem die leisels op 1 Februarie oor.
Makola, tans hoof van die Market Photo Workshop in Pretoria, is die eerste Afrikaan wat as voorsitter van die algemene jurie van die World Press Photo-eerbewyse aangestel is.
Onder sy leiding het die Market Photo Workshop in 2018 die Prins Claus-prys gewen.
Dié boorling van Limpopo se uitgebreide strategiese ervaring in kunste-administrasie sluit verskeie poste by museums in, onder meer dié op Robbeneiland, die Boijmans Van Beuningen in Rotterdam, Nederland, en die Durban-kunsmuseum.
In 2012 was Makola die medestigter van Kali TV in Washington DC en in 2016 het hy die Brand New Africa-stigting begin. Hy is ook ’n stigterslid van die virtuele kontinentale netwerk van opleidingsentrums vir fotografie in Afrika.
Makola se loopbaan het met studie in die visuele kunste aan die Durban-instituut vir Tegnologie begin waarna hy ’n meestersgraad in visuele kuns aan die Howard-Universiteit in Washington verwerf het.
Makola neem oor by dr. Samuel Isaacs wat die Javett-kunstesentrum tydelik bestuur het.