Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Linda Givon se dood bring einde van ’n era
Linda GivonFoto: Artthrob

Met die dood van Linda Givon (84), ’n legende en visioenêr wat deure internasionaal vir talle Suid-Afrikaanse kunstenaars oopgemaak het, kom ’n era tot ’n einde.

Givon, die stigter van die kontemporêre Goodman-galery in Johannesburg, is vroeër Maandag (5 Oktober) by haar huis in die stad oorlede. Sy was vir ’n geruime tyd siek.

“ ’n Mens kan nie in ’n paar woorde sê wat sy gedoen het nie, sy het die wêreld vir Suid-Afrikaanse kuns getransformeer, sy het nuwe kunstenaars na die wêreld gebring en ander na die buitewêreld,” het die kunstenaar William Kentridge gesê. “Sy het Suid-Afrikaanse kuns na kunsmarkte soos Basel en tallose ander markte geneem, sy het Suid-Afrikaanse kuns in verskillende museums oor die wêreld heen geplaas,” sê hy.

“Daarby het sy baie swart Suid-Afrikaanse kunstenaars ondersteun totdat hul werk posgevat het, met ongelooflike vrygewigheid. Daardie vrygewigheid is skaars, ek het dit ook ervaar.”

Hy sal altyd onthou met hoeveel entoesiasme sy sy kuns begroet het in die beginjare van sy kunstenaarskap. “Dit is die teken van ’n goeie kunshandelaar, daardie aanmoediging, sy het die respek van tallose kunshandelaars en kunslui regoor die wêreld gehad.”

Givon was ’n mentor vir “omtrent enigeen wat nou ’n naam is op die kontemporêre kunstoneel; dit is werklik die einde van ’n era”, het Neil Dundas, wat jare lank aan haar sy was as vennoot by die Goodman-galery, gesê.

“Haar visie, dapperheid en volharding om alle beperkings uit te daag en dít te bereik wat niemand in haar tyd kon bereik nie, is ’n inspirasie vir talle,” het Emma Bedford, senior kunsspesialis van die afslaer Aspire gesê. Bedford was voorheen as direkteur verbonde aan die Goodman-galery se tak in Kaapstad.

Die Goodman-galery in Parkwood, Johannesburg. Foto: Bongiwe Gumede

“Sy het Suid-Afrikaanse kuns na nuwe hoogtes gestuur en het talle platforms geskep waar kunstenaars kon uitblink.”

Bedford sê Givon se empatie vir kunstenaars en haar medemens “was legendaries en haar vrygewigheid het geen perke geken nie”. Sy het graag kunstenaars en hul gesinne ondersteun.

Bedford vertel dat sy verstom was toe Givon haar eendag vir middagete geneem het. “Sy het voorgestel dat ek na ’n kwarteeu die Iziko Suid-Afrikaanse Kunsmuseum verlaat en saam met haar die Goodman-galery in Kaapstad oopmaak. Ons het nooit teruggekyk nie.”

Givon kon wel taai wees. “Sy was egter net soveel pret. Sy het dit geniet om saam met kunstenaars en kunsliefhebbers te wees, het geskenke mildelik uitgedeel en was versot op blomme.”

“Givon is permanent deel van Suid-Afrika se kunsgeskiedenis en sy prestasies,” het die kunskenner en skrywer Amanda Botha haar nalatenskap beskryf.

As direkteur van die ikoniese Goodman-galery in Jan Smuts-laan in Parkwood, Johannesburg, het sy ’n reputasie sedert die laat jare sestig opgebou en word sy erken vir haar deurslaggewende rol in die bevordering van kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns.

Givon het die werk van David Goldblatt, Kentridge, David Koloane, Cecil Skotnes en Sue Williamson onder die aandag van die wêreld gebring gedurende die apartheidsjare toe die deure weens die kulturele boikot vir Suid-Afrika oorsee toegeklap het, sê Botha.

“Haar aansien en onkreukbare integriteit as galerydirekteur het vir die kunstenaars die deur oopgehou om internasionaal te kon deelneem,” sê sy.

Sy was ook die eerste kunsdirekteur van Afrika om op die vooraanstaande Basel-mark uit te stal.

’n Tak van die galery later ook in Londen oopgemaak. Dit is onder die bestuur van Liza Essers, wat in 2008 die leisels by Givon, toe reeds in haar sewentigs, oorgeneem het as die eienaar en direkteur van die Goodman-galery. “Dit is ondenkbaar om te dink hoe die Suid-Afrikaanse kunstoneel daar sou uitsien sonder die Goodman-galery,” het die kunstenaar Sue Williamson enkele jare gelede vir Artthrob geskryf.

Givon het in 1966 op 30-jarige ouderdom die Goodman-galery in Hyde Park, Johannesburg, oopgemaak, en het daar werke van Dumile Feni, Norman Catherine, Ezrom Legae, Cecil Skotnes en Johannes Segogela, onder vele meer vertoon. In 1996 het die galery na Parkwood verskuif.

Sy het kuns en geld aan vele kunsinstansies soos die Funda-sentrum in die land geskenk, en het kunssentrums in gemeenskappe ondersteun. Sy het onder meer die Artists Proof Studio help herbou deur ’n fondsinsameling te begin nadat dié die kunsopleidingsinstansie afgebrand het. Haar bydrae tot die kunsgalery by die Universiteit van die Witwatersrand is ook bekend, en daarby het sy kunswerke uit haar eie versameling geskenk vir die konstitusionele hof in Johannesburg.

Die kunsskrywer Melvyn Minaar meen sy neem steeds die leiding as ’n professionele kunshandelaar. “Sy het ’n ongelooflike oog gehad en kon vinnig nuwe kunstalent identifiseer, en dan het sy hulle behoorlik bestuur. Als het nou hand uitgeruk omdat alles oor geld gaan. Internasionaal was sy die een wat deure oopgemaak het vir Suid-Afrikaanse kuns.”

Givon is in 1936 in Johannesburg gebore en het ’n B.A. graad in die kunste aan Wits behaal. In Londen het sy ’n onderwys- en dramadiploma aan die London School of Dramatic Art behaal, en daarna het ’n internskap gevolg aan die Grosvenor-galery in Londen.

Meer oor:  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.