Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Lossgott bevraagteken menswees in solo
Hunter-gatherer 2 deur Kai Lossgott.

Kai Lossgott, wenner van die L’Atelier-kunskompetisie in 2015, se solo-uitstalling bevraagteken menswees in ’n tyd dat ons menswees impliseer dat ons omgewing vernietig word.

Hiermee word die mens se identiteit ook vernietig en daarom vra Lossgott onder meer of die idee van menswees dalk herdefinieer moet word.

Hunter-gatherer, tot 15 Junie in die Absa-kunsgalery in Johannesburg, is sy eerste uitstalling ná sy terugkeer uit Parys, Frankryk.

“In my kunsverklaring noem ek die uitstalling retro sci-fi,” sê Lossgott.

“Ons is in ’n tyd waarin die vernietiging van ons omgewing beteken dat ons onsself vernietig. In iets soos The Matrix is daar dinge van die verlede wat nou vreemd vir ons is, maar in wetenskapsfiksie werk dit. Sodoende kan jy ook die hunter-gatherer as ’n voorvader vir eendag in die toekoms sien, of ’n figuur wat oor die postapokaliptiese kan praat waarin scenario’s van ’n einde van die wêreld daagliks in ’n koerant verskyn.”

i - it deur Kai Lossgott.

Hunter-gatherer verwys na ’n mens wat ’n bestaan voer in ’n gemeenskap waar die meeste of alle kos bekom word deur daarna te gaan soek en te jag.

“Ons het gejag en dit is hoe ons oorleef het en hoe ons bestaan primêr gedefinieer is. Nou is ons by ’n punt waar oorlewing weer ’n groot vraagstuk word. ‘Hunting’ en ‘gathering’ is albei gedragsoorte. Daar is sekere filosowe wat sê dat ons vandag steeds dieselfde ding doen. Dalk is dit tyd om die idee van menswees te herdefinieer.”

Lossgott verwys na die teks “We Have Never Been Modern” deur die Franse filosoof Bruno Latour. Hierin bevraagteken hy die idee van moderniteit.

“Tog, in ’n sekere sin, as jy na ons gedrag as ’n spesie kyk, neem ons hulpbronne, verbruik dit en gooi dit weg. Dit alles gebeur op groot skaal. Ons het dit nog altyd gedoen, maar nou is ons soveel meer mense.”

hunter-gatherer 1 deur Kai Lossgott.

Die uitstalling bestaan onder meer uit twee video-installasies.

In die een vertoning tel ’n menslike hand stukkies voorwerpe op soos papier of glas.

In 'n een van die installasies loop Lossgott halfkaal in ’n mantel van deursigtige plastiek deur die strate van Parys, Berlyn, Zagreb en Dakar en versamel optelgoed wat hy netjies orden. Hunter-gatherer is oop vir verskillende interpretasies. Die kern daarvan is dat om ’n mens te wees, is om ’n verbruiker te wees.

Die uitstalling belig ook dat die betekenis van ’n sekere voorwerp mettertyd verander, veral vanweë die begrip van afvalmateriaal weens verbruikers.

Die werke in die uitstalling bestaan ook dan uit sulke voorwerpe wat voorheen ’n ander nut gehad het.

Lossgott noem die woord taksonomie.

“Die waarde van goed verander. Ons maak voorwerpe so goedkoop en vinnig as moontlik. Ek probeer in die rolprent na al hierdie dinge kyk. Die goed wat ek optel, is nou fragmente. Daar is byvoorbeeld stukkies glas. Dit kon soveel goed voorheen gewees het. Nou noem ’n mens dit ’n ‘ding’, want dit is nie eintlik meer veronderstel om te bestaan nie, hierdie stukkies.”

Hunter-gatherer handel oor die mensdom se gedrag. Meer nog handel dit oor die posisie van die mens en die menslike lewensduur.

“Wanneer ons uitgesterf het sal hierdie stukkies plastiek en so meer spreek van die tyd wat ons op die aarde was. Wat laat ons na? Die mens is nie die middelpunt van die heelal nie. En die heelal kyk eintlik na die mens, nie andersom nie.”

* Absa-kunsgalery, Mainstraat 161, Johannesburg.

Rondleidings word Saterdag, op 9, 13, 14 en 15 Junie hier aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.