Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Love South Africa’ open in Kotze-galery in Bfn

Wild uit ’n ongewone hoek en inheemse plante is die onderwerpe van die uitstalling Love South Africa wat op 26 Februarie in Bloemfontein open.

Stamme in swart balpuntpen op wit monteerbord deur Jacobus Silwer.

Michelle Decker van Parys in die Vrystaat, wie se wildlewe-skilderye ver buite die landsgrense bekend is en veral in die VSA, het splinternuwe werke vir dié debuut-uitstalling geskep, terwyl Jacobus Silwer sy geliefde bome uitgebrei het en ook ander plantspesies en selfs bytjies en skoenlappers bygevoeg het.

Decker vertel haar kreatiewe proses begin by die neem van ’n foto. Sy kyk uit vir ’n veelseggende houding, ’n karaktervolle oomblik of ’n interessante hoek waaruit sy die dier kan afneem. Dit is dan die voorbeeld vir haar skilderye wat sy in sepia of volkleur skilder.

Watch Tower in akriel deur Michelle Decker.

In die uitstalling wat vandeesweek open, is haar gunsteling-werk ’n koedoe wat ’n blaar van ’n tak afvreet en wat sy van onder afgeneem het.

Daar is ook ’n kameelperd, buffel, leeu, ’n meerkat, apie en talle meer.

Decker sê akrielverf gee haar die moontlikheid om hoogs gedetailleerde tekstuur te skep en houding en beweging te aksentueer.

In haar sonreeks gebruik sy kleur “om die stemming van die dier en sy verhouding met die son in al sy helder skakerings uit te beeld”.

Volgens Floris Kotze, die eienaar van Kotze-kunsgalery, moet kunsliefhebbers nie tradisionele wildlewe-skilderye verwag nie. Decker se benadering is eiesoortig. Sy sê self sy het honderde ure in die veld deurgebring om die diere te bestudeer.

Talle mense ken Silwer as ’n sanger, maar sy oorspronklike nering is kuns. Hy het grafiese kuns studeer en teken jare al. Dit is eers in die onlangse tyd dat hy uitstallings hou wat sy kuns wyer bekend stel.

Silwer werk net met swart balpuntpen op wit monteerbord en sê hoewel hy graag plante teken, is dit nie al wat hy doen nie. Hy teken enigiets.

Vir die uitstalling het hy hom by inheemse plante bepaal, soos die kiepersol en kokerboom, proteas en aalwyne en nou ook bye en skoenlappers.

  • Love South Africa is van 26 Februarie in die Kotze-kunsgalery. Die werke is ook te sien op die webblad www.kotzekuns.co.za. Die galery is oop tot 18:00.
Meer oor:  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.