Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Lugvaart-versameling in kollig
’n Miles Master II wat in Julie 1943 laag oor St. George-park tydens die viering van die Liberty Cavalcade gevlieg het waar generaal Jan Smuts die eregas was, geskilder deur Ron Belling. Foto: Verskaf

’n Unieke versameling skilderye wat al vir 20 jaar deel van die Oos-Kaap se grootste kunsskatte is, is tans weer in die kollig.

Die Ron Belling Militêre-lugvaart-kunsversameling is deel van die GFI-galery in Port Elizabeth se private versameling en kunsliefhebbers kan nou na ’n aanlyn onderhoud daaroor kyk.

Anna Stewart, die direkteur van die GFI-galery, het die onderhoud met Geoffrey Hamp-Adams, wat die eerste kurator van die galery was, gevoer.

Die Gutsche-familie, eienaars van die GFI-galery, het die gesogte versameling in 2000 vir die galery se private versameling aangekoop om te verhoed dat dit deur ’n moontlike kunsversamelaar gekoop en na Duitsland geneem sou word.

So het dié kosbare versameling wat ’n groot deel van die Baai se lugvaartgeskiedenis uitbeeld, bewaar gebly sodat belangstellende persone dit steeds by die galery kan besigtig.

Ron Belling, ’n Oos-Kapenaar in murg en been, is op 25 Maart 1933 in Oos-Londen gebore en het op 6 Julie 1998 by sy huis in Walmer, Port Elizabeth gesterf.

Belling was nie net ’n kranige kunstenaar nie, maar ook ’n skrywer en argitektoniese raadgewer in die stad.

Hoewel Belling ook verskeie stadstonele van Port Elizabeth geskilder het, was hy van kindsbeen af gefassineer deur skepe en vliegtuie en het hulle gedurig bestudeer en geskets.

Dié vliegtuig was ’n geskenk van die Britse regering. Detail soos die nommer op die vliegtuig was baie belangrik vir Belling. Let op na die bekende Campanile-kloktoring op die agtergrond. Foto: Verskaf

Hamp-Adams, wat self ’n lugvaart-entoesias is, het ’n paar skilderye uit die Ron Belling-versameling gekies om in die onderhoud te bespreek.

“Ek het mý liefde vir militêre vliegtuie by my oupa gekry wat destyds vir Handley Page Limited, ’n Britse lugvaartvervaardiger gewerk het,” verduidelik Hamp-Adams sy voorliefde in die onderhoud.

Nadat hy en sy gesin in 1975 in Port Elizabeth kom woon het, het hy met Belling bevriend geraak juis omdat hulle dié gemeenskaplike belangstelling in die lugvaart gedeel het.

“Die versameling van 154 skilderye is uniek in terme van die historiese agtergrond en die belangrike rol wat Port Elizabeth gedurende die Tweede Wêreldoorlog gespeel het,” sê Hamp-Adams.

In die onderhoud vertel hy onder meer van ’n skildery waar luitenant-kolonel Allister Miller in 1917 met sy vliegtuig op sy vlug vanaf Kaapstad na Port Elizabeth op die PE-gholfklub se baan ’n noodlanding moes doen.

“Gelukkig was daar destyds heelwat minder bome op en om die baan,” sê hy.

Hy bespreek ook ’n skildery van ’n Miles Master IIwat in Julie 1943 laag oor St. George-park tydens die viering van die Liberty Cavalcadegevlieg het waar generaal Jan Smuts die eregas was.

Daar is ook ’n skildery om ’n geldinsameling te herdenk toe ’n Northrop Nomad na die Donkin-reservaat in Sentraal gesleep was sodat mense seëls kon koop en op die vliegtuig kon plak. Die idee was om die hele vliegtuig daarmee te bedek.

Volg die skakel https://www.youtube.com/watch?v=Qxh9S4REfOI&t=15s om na die interessante onderhoud te luister.

Die GFI-galery, wat in die week van 10:00 tot 16:00 besoek kan word, sluit op 24 Desember 2020 en sal weer op 6 Januarie 2021 oop wees vir besoekers wat graag die versameling wil besigtig.

Skakel die galery by 041 586 3973 vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.