Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Magtige bekoring van see inspireer kunstenaars
Kevin Brand, een van die land se vindingrykste beeldkunstenaars, kielie die verbeelding met ’n hervoorstelling van die beroemde Broers Grimm se Bremen-storie van die ‘musikale diere’.Foto’s: Taylum

Die misterieuse en magtige teenwoordigheid van die see is al eeue lank ’n tema wat kunstenaars betower: opera, seelandskappe, gedigte, skeepsromans, matroosliedjies, sandkastele. Dis asof die klotsende branders, die gesuis van die bries, die eindelose ongetemdheid van water, wind, strande, rotse, skepe en alles wat daardie milieu definieer, veral beeldhoukuns tot grootse uitdagings kan aanspoor.

As die kunstenaar daardie kuns in die oopte van die woeste elemente tem, kan die simbiose manjifiek wees.

Internasionaal is daar byvoorbeeld die grootse beeldhouwerk Die kam van die wind van die gevierde Spaanse meester Eduardo Chillida tussen die seekranse by San Sebastian. In Noordwes-Engeland het die beeldhouer Antony Gormley se

Anni Snyman het voortgebou op die werk van 2015 toe sy en kollegas ’n natuurlike stuk rots as “kombuis” vir die inheemse dassies afgepen het.

dinamiese installasie Another Place met gietyster-mensfigure die Crosby-strand en gety met ’n geheimsinnige teenwoordigheid ingeneem.

In Seepunt, Kaapstad, skielik op die splinternuwe, glinstergroen grasperk, pronk ’n reuse-stel konsentriese sirkels. Ewe vol geheimenis. Soos in Spanje en Engeland staar en peins verbygangers.

Op die brawe rotse van Gearing-punt, neffens Kasteelklip op Hermanus, staan ’n klompie uiteenlopende kunswerke. Party eienaardig en ongewoon, ander sonder twyfel onder die bekoring en uitdaging van die bulderende branders kwalik ’n vislyngooi verder.

Bobbejaan en sy maat in die reddingsbootjie van Jean Theron Louw.

Hermanus se jaarlikse FynArts-kunsfees het in 2014 die projek ‘Beelde-op-die-Rotse’ hier met welslae staan gemaak. Wat kuns in die natuur en openbare ruimtes betref, het die feesdirekteur, Mary Faure, hiermee ’n sterk saak op ’n oorspronklike manier aangepak. Destyds was daar agt beelde in verskeie media. Vir ’n merkwaardige sewende keer neem twaalf kunstenaars vanjaar deel. Hulle is deur die bekende beeldhoukunstenaar en akademikus Gavin Young genooi.

Weer is die manier, medium en aanslag uiteenlopend. Al werk die jaarlikse ‘tema’ nie altyd so goed uit nie, is vanjaar s’n, die band tussen mens, dier en natuur, goed hanteer. Daar is gawe werk, goed genoeg vir kultuurtoerisme.

Al moes die fees in 2020, soos ander, sy uit- en opvoerings prysgee, is hierdie projek ’n dinamiese stelling oor kuns en die openbare ruimte. Lof aan Faure en die plaaslike owerheid.

Strijdom van der Merwe se klipsirkels by die promenade by Seepunt.

Die twaalf kunstenaars kom uit alle letterlike en figuurlike koerse: Anni Snyman van ’n landkuns-kollektief, Collen Maswanganyi, David Griessel, Guy du Toit, Jaco Sieberhagen, Jake Michael Singer, Jean Theron Louw, Karin Lijnes, Kevin Brand, Nanette Ranger, Right Mokure en Wilma Cruise.

Singer se indrukwekkende Marine Murmer takel die omgewing direk as ’n vergestalte vlietende figuur in die seewind vasgevang. Du Toit se kierts haas-met-sy-tas en Cruise se ondeunde bobbejaantjies maak hul eie stellings oor die natuur.

Bobbejaan en sy maat (Hermanus-berginwoners!) is ook Jean Theron Louw se pasmaats in haar slim, humoristiese reddingsbootjie. Kevin Brand, een van die land se vindingrykste beeldkunstenaars, kielie die verbeelding met ’n hervoorstelling van die beroemde Broers Grimm se Bremen-storie van die “musikale diere”. Besoekers sal merk hoe donkie, hond, kat en haan op die ou rioolpyp die seestorms uitdagend tegemoet loop.

Die bolders bo die Ou Hawe word geverf en kunstenaars kan met voorstelle daarvoor kom.

nni Snyman het voortgebou op die werk van 2015 toe sy en kollegas ’n natuurlike stuk rots as “kombuis” vir die inheemse dassies afgepen het.

Rotse en seeklippe is ’n sentrale “bestanddeel” van die aangrypende konsepwerk wat Emma Willemse in die romantiese Ou Hawe in 2015 geskep het deur ’n ouderwetse bootjie daarmee te vul. In ’n uitstekende jaar van puik kuns is hierdie eenvoudige werk, Counting Stones, met al sy nostalgiese nuanses steeds briljant. Lank mag dit daar bly.

Anni Snyman is ’n landkuns-kollega van die bekende Stellenbosser Strijdom van der Merwe, wat tans sy jongste werk Stone Tide aan die pragtig-hernude grasperk in Mouillepunt uitgelê het.

Tipies van hom gebruik hy gelade natuurlike materiaal: granietblokke wat van die 1742-seewal herwin is ná die muur se restourasie in 2018. Hy sê die steenronding is ’n eggo van die vloei van die getye. Dit is onder die stadsraad en belastingbetalersvereniging se steun bewerkstellig.

• Een van die Hermanus FynArts-kunsprojekte is die vrolike verwery van die bolders bo die Ou Hawe. Kunstenaars word genooi om voorstelle te maak en uit te voer. Reeds is daar ’n karnaval van karakters en kleure. Die volgende skildersessie is die naweek van 27 Februarie. Kontak admin@hermanusfynarts.co.za.

Meer oor:  See  |  Hermanus  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.