Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Mahlangu se werk onmiskenbaar eie aan Afrika
Esther Mahlangu Foto: Verskaf

“Wêreldwyd staan Esther Mahlangu se werk uit – dit is nie ‘abstrak’ nie, maar eerder voorspelbaar in die skoonheid daarvan.

“Haar werk is so onmiskenbaar eie aan Afrika. Sy het niks om voor te gee nie: As dit blou is, is dit blou. As dit geel is, is dit geel. Hierdie asembenemende eenvoud is die rede waarom sy hier én in die buiteland so gewild is.”

Aan die woord is Ruzy Rusike, die jong kurator van Esther Mahlangu 85, die huldigingsuitstalling in Johannesburg vir dié kunstenaar wat onlangs haar verjaardag gevier het. En met dié woorde som sy die gevoel op wat die werk van dié kunstenaar van Middelburg in Mpumalanga by ? mens ontlok.

Die ontwerpe en kleure – al sedert die 19de eeu eie aan Ndebele-argitektuur – het Mahlangu as klein meisie van haar ouma en ma geleer. Maar dié tradisionele versierings, met ’n kode van sy eie, het Mahlangu mettertyd verwyder van die huisomgewing op skilderdoek en ook op driedimensionele voorwerpe soos vliegtuie, motors, motorfietse en mannekyne aangebring. En wêreldwyd die aandag op dié Ndebele-ontwerpe gevestig. Die bekendste hiervan is ongetwyfeld die BMW 525i wat sy in 1991 as deel van die “BMW Art Car Project” versier het.

Mahlangu was in die geselskap van kunstenaars soos Frank Stella, Roy Lichtenstein en Andy Warhol die eerste vrou en die eerste nie-Westerse kunstenaar wat deur die motorvervaardiger gevra is om aan die projek deel te neem.

Esther Mahlangu se ‘Ndebele abstract’. Foto: Clint Brink

In 1990 was Mahlangu in Suid-Afrika onbekend – haar eerste solo-uitstalling in die land was eers in 2003. Van 1980 tot 1991 was sy betrokke by die Botshabelo-opelugmuseum ’n sentrum vir blootstelling van die Ndebele-kultuur aan besoekers. Dit is waar haar werk inderdaad deur oorsese besoekers raakgesien is, en toe Jean-Hubert Martin, die Franse kunshistorikus en kurator, in 1989 sy uitstalling Magiciens de la Terre (Towenaars van die aarde) in Parys aanbied, is Mahlangu genooi om ’n rekonstruksie van ’n Ndebele-huis in die Centre Georges Pompidou te versier.

Martin se uitstalling was belangrik in dié opsig dat die tradisionele formaat van ’n Franse uitstalling plek gemaak het vir etnosentriese praktyke – met ’n 50/50- verdeling tussen tradisioneel Westerse kuns en nie-Westerse kuns. Sonder mankemente was dié uitstalling nie. Nietemin het die naam Esther Mahlangu, die enigste verteenwoordiger uit Suid-Afrika, vasgesteek en is sy genooi om deel te neem aan New Identities wat in 2004 eers in Bochum in Duitsland te sien was en daarna in Pretoria en Johannesburg.

Rusike het die werk van Mam Esther, soos sy liefdevol na Mahlangu verwys, teëgekom in die kunsgeskiedenisklas op universiteit. “Wat my opgeval het,” sê sy, “was dat sy nie ’n kunsvorm gaan leen het nie – sy lewe in haar kuns en dit kom so vanself as asemhaal.”

Wat Mahlangu wel oor die jare gedoen het, is, soos sy sê, om “’n nuwe woordeskat van ontwerpe op te bou – een wat kan spreek tot die mense wat my werk waardeer”.

“Ek het grootgeword met spesifieke ontwerpe,” het Mahlangu by geleentheid gesê. “Alles was in aardse kleure en die verf was handgemaak van natuurlike pigment. Die ontwerpe was meestal geometriese vorms sonder enige figuratiewe verwysings of helder kleure.

“Deesdae gebruik kunstenaars helder kleure met verwysing na goed rondom ’n mens of dié soort goed waaroor ’n mens droom. Ek kombineer soms met die nuwe ook die oue omdat dit my herinner waar ek vandaan kom.”

Vir Rusike is Esther Mahlangu 85 ’n viering van nadenke oor ruimte en kleur – Afrika-kalligrafie, soos sy dit noem. “Ons dink nie aan geometrie as ons aan die natuur dink nie,” sê sy. “Maar ons behoort dit te doen.

“Die natuur is gegrond op fundamentele geometriese strukture. In dié uitstalling is dit Esther Mahlangu wat in gesprek gaan met die heelal.”

Tot 20 Desember.

Besoek Melrose Galery in Melrose Arch, Johannesburg en die webwerf www.themelrosegallery.com.

Meer oor:  Esther Mahlangu  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.