Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Meer as net nostalgie

Hersiening / Revision – Willem Pretorius

Tina Skukan-galery, Pretoria

Nostalgie is alte dikwels die sleutel wat gebruik word om Willem Pretorius se landskappe en veral sy tonele van verlate swembaddens mee te ontsluit. Nostalgie is daardie vae hunkering wat ’n tyd of plek van gelukkiger assosiasies oproep.

Willem Pretorius se Abandoned Pool, Springfontein, olie op doek (116 x 80 cm).

Maar dié sleutel, wat ’n taamlike tamheid met hom saamdra, is gewis nie die enigste manier om toegang te kry tot dié skilderye nie. Is nostalgie die eerste gevoel wat ’n mens kry as jy na Johannes Vermeer se stil interieurs kyk? Is dit nostalgie wat voorop staan in Edward Hopper se weergawe van die troostelose Amerikaanse lewe?

Wat gebeur as ’n mens jouself verplaas en 100 jaar die toekoms in Pretorius se werk bekyk, los van die onmiddellikheid van die sosio-politieke gegewe en die oënskynlik soet sentimente van die verlede?

Pretorius is nie pessimisties in sy taksering van die platteland nie en dit kom ook nie so oor in sy werk nie. “Ek voel positief oor die platteland en sien op Rosendal (waar hy woon en werk) hoe mense vir mekaar omgee oor alle kleurgrense heen,” sê hy.

“Dit gee my hoop. Dit blaas ? nuwe, kreatiewe asem in die dorp. Daar is nie by my persoonlik ? hunkering na die verlede of ? soort sentimentele nostalgie daaroor nie. Dit ís bloot wat dit ís, alles gaan verby. Oud maak plek vir nuut.”

Soos wat hy dromer is, is Pretorius meteen ook ontgogelaar. Soos wat hy ’n stil poel water met weerkaatsing van berg en boom bedroom (Die goue straat) so parodieer hy die potsierlike olifant by die ingang na Olifantshoek (Olifantshoek) of die verblindende straatlig op ’n huis wat nooit so na aan die hoofstraat moes gestaan het nie (Trompsburg). Net soos wat hy oopoog is vir die vlietende oomblik van skoonheid in ’n landskap, sien hy elke kraak in mure én in mense se beplanning – sonder dat mense ooit direk aanwesig is in sy skilderye.

Dit is dié manier van kyk wat so eie aan Pretorius is, wat ’n mens ewenwel as sleutel kan gebruik: die oog wat skoonheid registreer, maar eweso verskuiwingslyne; die oog wat ’n bars kan kyk en die tydelikheid van alle dinge kan raaksien.

In sy visuele dagboekhou van plekke wat hom fassineer is sy leidsterre stilte, isolasie en die val van lig.

Kyk jy na sy skilderye hoor jy die stilte. Swembaddens sonder die kabbeling van water, waterlelies in ’n stil poel, vaal wintergras wat nie wuif nie, ’n Cortina wat nie luier nie, motors by ’n vulstasie wat nie wegtrek nie, ’n diesellokomotief wat nie dreun nie. Dit is asof die tonele wat hy skilder geen voor- of nageskiedenis het nie. Dit is net die brose oomblik wat geïsoleerd bestaan.

Olifantshoek, olie op doek.

In hul isolasie word strukture weer oorgeneem deur die natuur. Parys se swembad (Abandoned Pool, Parys 3) word ’n kuil met stiltes tussen riet. Hoewel die titel Buurman op huise in ? buurt dui en jy huise weerskante van die huis kan sien, kon dié nederige huis met sy toegetrekte vensters netsowel in die middel van nêrens gestaan het. Dit is juis die kunsmatige straatbeligting wat dié woning des te meer isoleer.

Wat kan meer (af)geslote en afgetrokke wees as die straat in Hanover-nag? En helder oordag is dit die fel lig in Abandoned Pool, Springfontein wat die stilte van ? Sondagmiddag in dié kwynende Vrystaatse dorpie as’t ware hoorbaar maak. Dit is meer as ’n verwaarloosde swembad wat dui op tydelikheid: Hoeveel lidmate het die deftige kerk met sy rug na die swembad nog?

Alles van waarde is weerloos, herinner die Nederlandse kunstenaar en digter Lucebert ’n mens. Dit is dié gewaarwording wat opval in Pretorius se Hersiening / Revision. Hersiening dan nie net met die betekenis van terugkyk nie, maar ook om goed wéér te sien vir wat dit is. En die moontlikheid van wat dit kan word. Want waar daar lewe is, is daar immer uitsig.

Dít is die insig wat Pretorius se werk nou het en 100 jaar later steeds sal bring. Lank nadat benouende buie van nostalgie getaan het.

* Tot 19 September

Tina Skukan-galery, Koedoebergweg 6, Faerie Glen, Pretoria.

Skakel 012 991 1733 of besoek tinaskukangallery.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Willem Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.