Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Meerlig’ skyn lig op ekologie
Foto:

Die Swellendamse kunstenaar Haidee Nel is onder die tien beeldhouers wat vanjaar by Gearing se Punt, Hermanus, uitstal as deel van die jaarlikse
Fynarts-kunstefees op die kusdorp.

Gepas is haar werk getitel Meerlig en beeld dit ’n meermin, ’n mitiese figuur wat in die wêreld tussen die see en land woon, uit. Die beeld van hars en vlekvrye staal vertoon die vrouefiguur wat met vloeiende hare na bo reik soos sy opswem uit die donker dieptes van die see na die oppervlak of hoe sy reik na die son. Haar meerminstert of rok wapper om haar.

Nel, bekend om veel kleiner beelde, se beeld is uiteraard geïnspireer deur die see en die Meerkat-teleskoop by Carnarvon waarvan die optiese teleskoop bekend staan as Meerlicht. “Soos die teleskoop ons help om die geheime van die heelal te verken, sinspeel ek hier op die idee dat Meerlig soos ’n soort teleskoop na ons binneste funksioneer.”

Die meermin is ’n skugter vismens. “Die werk lig die verhouding tussen mens en vis uit soos in die sprokie, die dieper betekenislading van die meermin het te make met transformasie, tussen diep, donker water en die hunkering of strewe na die son, na lig en menswees.”

Foto:

Soos die ander beelde het die werk ook ’n sterk ekologiese inslag – dit word opgerig op die uitkykpunt waar duisende toeriste elke lente na walvisse – ’n magtige seedier wat deur ons verbruik van plastiek bedreig word – kom kyk.

“Daar is geen antwoord op die vraag wat die toekoms vir ons inhou nie. Ek glo ons moet meer lig werp op dit wat vir ons donker is, dit waarvoor ons bang is. Selfs al skyn daar net ’n enkele lig bring dit inspirasie en hoop vir ons en ons kinders. Ek glo dat ons antwoorde sal kry en dat pyn tot skoonheid kan transformeer.”

Nel woon in en werk vanuit haar ateljee op Swellendam. Sy verkies ’n plattelandse lewe bo die stad “sodat ek vir my twee meisiekinders nog naby die natuur kan hou, dit is iets wat ek enige kind toewens”.

Haar kleiner beelde is te sien in die munisipale ouditorium op Hermanus saam met beelde van die ander kunstenaars wat by Gearing se Punt uitstal.

Haar beelde is ook in die Absolut Art Gallery op Stellenbosch, die Haidee Nel Artwing in Swellendam, by Lizamore & Associates in Johannesburg en in die Knysna Finearts Gallery. Vanjaar is werke van Frank van Reenen, Angus Taylor, Andre Stead, Lwandiso Njara, Marieke Prinsloo-Rowe, Marco Cianfanelli, Ruhan Janse van Vuuren, Strijdom van der Merwe en Mark Chapman te sien by Gearing se Punt. Die fees duur tot Sondag en sluit uitvoerings, fliekvertonings, praatjies, kos- en wynproegeleenthede in. Besoek www.hermanusfynarts.co.za.

Meer oor:  Ekologie  |  Meerlig  |  Hermanus. Swellendam  |  Haidee Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.