Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Met haar kuns besweer sy die mens se grootste vrees

In fyn gedetailleerde portrette van haar twee jong kinders, haar man en haarself, wat lyk of hulle rustig slaap, hul hande vreedsaam op die bors gevou, van hulle verskuil agter ’n kantsluier, belig die kunstenaar Ilené Bothma die grootste vrese van die mens.

Die vrees om dood te gaan en spesifiek die ondraaglike vrees vir die dood van geliefdes asook die vrese van moederskap, is die kunstenaar se fokus. Die werk spreek nou midde die Covid-19-pandemie te meer tot die kyker, hoewel die verwoestende sleurstroom van die koronavirus geen invloed had op haar tentoonstelling Life, Death & All the Fear In-between, wat tans in die 99Loop-galery in Kaapstad te sien is nie. Die werke moes al in Maart uitgestal word, maar die uitstalling is weens die inperking vertraag.

Haar werk kom uit ’n baie persoonlike plek, sê sy.

“Ek voel nie ek kan werklik kommentaar lewer oor iets waarvan ek nie ’n intieme ervaring het nie. Hierdie uitstalling het waarskynlik by die fear-element begin aangesien ek aan angs ly, maar was ook ’n direkte uitvloeisel uit my vorige uitstalling.”

Between Grief and High Delight het gehandel oor die intieme verhouding tussen moeder en baba. “Dit het onder meer uit tipe “Madonna en kind”-skilderye bestaan, waar ek my seuntjie borsvoed onder verskillende bedekkings asook keramiekwerke wat intieme aspekte van moederskap uitbeeld. Ek het aandag gegee aan die polariteit tussen die positiewe en negatiewe aspekte van ouerskap; die ongemak van die biologiese elemente; die meer visceral aspekte van geboorte; die ongelooflike krag en magteloosheid wat gevind kan word in hierdie verhouding.

“Maar kinders raak groter en hulle hou op om geborsvoed te word en daar kom ’n mate van skeiding. As ouer moet ’n mens leer om die leisels ’n bietjie losser te maak, en ek dink daarmee saam het die vrees gekom. So die gedagte om my kinders onder tipe swart rouklede en sagte kantlappe te verf, is my manier om uiting te gee aan enige ouer se grootste vrees.”

Deur die potensiële verlies aan haar gesin te ondersoek raak dit vir haar minder vreesaanjaend. “Dit is ’n katartiese ervaring.”

Sy het probeer om ’n dubbelsinnige gevoel te skep wanneer jy na die werke kyk, wat deur die intimiteit van die onderwerp – haar gesin – verhoog word.

“Die vraag is of die figure net slaap en of hulle wel dood is. Daar is ’n vreedsame element aan al die figure, ’n stilheid, dink ek, wat dit uit die realm van die makaber verwyder.”

Met die reeks van olieverf-portrette en kleiner waterverfwerke sluit Bothma aan by ’n lang kunstradisie van die uitbeelding van die mens se verhouding met die dood. Van die antieke Egiptenare se rituele en voorbereidings om ’n veilige oorgang van dooies na die hiernamaals te berei, die vanitas-stillewes van die Goue Era tot die omstrede Britse kunstenaar Damien Hirst se tentoonstelling The Physical Impossibility of Death in the Mind of Someone Living, sluit aan by hierdie werke.

“Dit is altyd interessant om jou werk binne die geskiedenis en die groter konteks van kunsgeskiedenis te beskou. Ons skep nie werk binne ’n leemte nie. Outomaties sal dit wat ons vooraf gegaan het, ’n invloed hê.”

Behalwe bogenoemde verwysings, het sy vir hierdie uitstalling ook gekyk na die sogenaamde Victoriaanse “post-mortem”-fotografie wat veral algemeen was in die 19de eeu, waar portrette van oorledenes geneem is.

“Hoe dit daardie onheilspellende element het, die ongemak, die ondersoeking en vaslegging van ons eie verganklikheid. Die gedagte van memento mori – wat letterlik vertaal ‘onthou dat jy moet sterf’).”

“Hoe dit daardie onheilspellende element het, die ongemak, die ondersoeking en vaslegging van ons eie verganklikheid. Die gedagte van memento mori – wat letterlik vertaal ‘onthou dat jy moet sterf’).”

Sedert haar studentedae aan die Universiteit Stellenbosch wentel haar werk hoofsaaklik rondom verhoudinge. “Verhoudinge tussen man en vrou, ouer en kind, die verhouding met myself en hoe die human condition uitspeel in die alledaagse. In die groot oomblikke en die klein oomblikke en hoe ontsaglik vreemd die lewe soms kan wees.”

“Ek stel belang in Freud se konsep van die uncanny, die sogenaamde unheimlich, wat letterlik vertaal as unhomely. Daardie vreemde dog ongemaklike gevoel wat ’n mens dikwels binne verhoudinge en die huislike konteks ervaar, is iets wat ek graag deur my skilderye in die kyker wil ontlok.”

Moederskap het haar lewe handomkeer verander, maar dit het ook ’n geweldige positiewe invloed op haar werk gehad.

“My ondersoek van die ontsaglike komplekse verhouding tussen ouer en kind het tog ’n nuwe dimensie aan my kunspraktyk gebring.

Wat dit wel moeilik maak, is om die tyd te vind om myself heeltemal in my werk te verdiep. Die manier wat ek skilder, die tekstielwerk, borduurwerke ensovoorts, het alles ’n rituele maar baie tydrowende element daaraan gekoppel. En ouerskap is ongelukkig, as dit die regte woord is, die tydrowendste ding wat jy kan doen. Dit beteken dat ek wel minder werke oor langer tydperke maak wat uit die aard van die saak soms frustrerend kan raak.”

Bothma is gebore en getoë in Port Elizabeth en het aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer. In 2003 verwerf sy die graad BA (visuele kunste) cum laude en in 2007 ’n meestersgraad (visuele kunste), beide aan die Universiteit Stellenbosch. In 2011 verwerf sy ’n tweede meestersgraad in die skone kuns (met onderskeiding) aan die Northumbria-Universiteit in Newcastle-upon-Tyne in die Verenigde Koningkryk.

Die 99 Loop-galery se adres is Loopstraat 99 in Kaapstad. Besoektye is Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 en Saterdae van 10:00 tot 14:00. Skakel 021 422 3766 met navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.