Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Meyer was ’n voorloper
Walter Meyer Foto: catharina scheepers

Walter Meyer se Suid-Afrikaanse landskappe was van romantiek en ’n geïdealiseerde bestaan ontdaan en tekenend van ’n voorloper. Johan Myburg huldigdie kunstenaar.

Toe ’n Engelssprekende onlangs meer oor Meyer se skilderkuns wou weet, het ’n vriend lakoniek opgemerk: “Walter Meyer painted in Afrikaans.”

Meer as wat dié antwoord dalk jou mondhoeke laat lig, pyl dit reg na die hart van Meyer se skilderkuns – sy landskappe met of sonder murasies. Sy visuele taal het inderdaad bestaan uit skakerings van verlatenheid, uit tinte van versengende hitte, uit die nuanses wat ’n oop blou lug oor ’n stuk aarde bied: uit morfeme wat so eie aan die Afrikaanse woordeskat is.

Die mense wat in afgeleefde geboue op plase in sy skilderye geleef het, was waarskynlik Afrikaanssprekend, dié wat in verlate dorpies gewoon het, wat indertyd met nou roestende motorwrakke oor die weg gekom het. Maar hul stemme en die klanke van hul woorde het lankal weggesterf. Wat oorgebly het, is die lang skaduwees wat ’n enkele boom of lamppaal gooi.

Vaal gras, Kalahari (2008), olie op doek, deur Walter Meyer.

Meyer se taksering van die Suid-Afrikaanse landskap speel klaar met romantiek en ’n geïdealiseerde bestaan. Van die optimisme waarmee bouwerk destyds aangepak is, het net afskilferende verf op mure oorgebly. Landskappe lê dalk oop, maar nie uitnodigend oop soos wat ’n vroeëre tradisie van Suid-Afrikaanse landskapkuns dit voorgestel het nie. J.H. Pierneef en Hugo Naudé (om net twee te noem) se blik op die hoopvolle landskap lê ver agter Meyer se horisonne.

In soverre Meyer in Afrikaans sou geskilder het, het hy daarin geslaag om in sy visuele taal die menslike psige van die kontrei, dikwels die Vrystaat en die Noord-Kaap (die omgewing van Upington waar hy lank gewoon het), maar ook verder, weer te gee meer as wat ’n portret dit sou kon doen. Dit is juis in die afwesigheid van mense dat hy hul geknotte drome en (nasionalistiese) strewes verewig.

Sy trefkrag wat so bly spook, is gesetel in sy hantering van realisme. Spaarsamig laat hy oortollige detail uit sodat die skildery meer sê oor dít wat uitgelaat is as wat verbeeld word. Meer as ’n skildery van ’n opstal of ’n mankolieke windpomp, of selfs ’n stedelike woonstelgebou, gaan dit eerder oor gevoel, die besinning oor plek in die wêreld, as oor die uitbeelding van die wêreld.

Volmaan, Bethulie, olie op doek, deur Walter Meyer, ongedateer.

Dit was dié gevoel, die leegheid, wat Meyer getrek het na die benadering van die Amerikaanse skilder Edward Hopper (1882-1967) wie se werk hy tydens sy studie aan die Staatliche Kunstakademie in Düsseldorf (1987-1989) teëgekom het. In Duitsland het hy die Suid-Afrikaanse landskap gemis.

“Dit [Hopper] het my aan Suid-Afrika laat dink. Toe ek terugkom in die land, was ek oorweldig. Ek het alles met nuwe oë gesien. Ek dink dit was ’n gevoel van uit myself kom,” het Meyer jare gelede in ’n onderhoud met Sean O’Toole gesê.

In Düsseldorf was sy leermeester Michael Buthe, ’n Duitse kunstenaar wie se werk die invloed van abstrakte ekspressionisme, dada, minimalisme en performance ingesluit het. Ondanks sy skoling in abstraksie was Meyer ’n bietjie moeg van al die kontemporêre kuns. Hy wou nie kuns maak waarvan mense nie die betekenis kan snap nie. “Ek wou goed maak wat toeganklik sou wees vir almal, vir gewone mense,” het hy opgemerk.

Maan kom op, olie op doek, deur Walter Meyer, ongedateer.

In 1995 het Lloyd Ross ’n kort dokumentêre fliek oor Meyer gemaak, waarin die konseptuele kunstenaar Kendell Geers aanvoer dat Meyer voeling met die werklikheid verloor het en nie rekening daarmee hou dat kuns verander het nie. Geers het Meyer se werk beskryf as nostalgies, as ’n hunkering na ’n verlede toe alles “goed” was.

In soverre nostalgie in Meyer se werk figureer, is dit nie die soet variëteit wat deesdae so wyd voorkom nie. Daarvoor was Meyer te veel van ’n buitestander. En is daar te veel onheilspellende skadu’s in sy werk. Daarvoor is sy hantering van lig te fel en sy oog te krities.

Die landskap in Meyer se skilderkuns is nie ’n voortsetting van die “oopgrond”-mite soos wat ’n mens dit in die werk van Pierneef teëkom nie – eerder die teenkant daarvan, eerder die afsluiting van ’n ideologiese raamwerk waarbinne waan dekades lank voortgewoeker het.

Langs die Gariep, olie op doek, deur Walter Meyer, ongedateer.

Dié rigting wat Meyer ingeslaan het, is benewens ’n vars inspan van bestaande visuele taal ook braaf. Soos wat ’n mens van ’n voorloper verwag.

Dit was Hopper wat opgemerk het: “Groot kuns is die uiterlike uitdrukking van die binnelewe van die kunstenaar, en sy innerlike lewe sal in sy persoonlike blik op die wêreld gestalte kry.”

  •  Meyer is in 1965 in Aliwal-Noord gebore. Hy het in Pretoria grootgeword en onder prof. Nico Roos en John Clarke kuns aan die Universiteit van Pretoria (1983-1986) gestudeer. Hy is op 22 Desember 2017 vermoor in Upington waar hy gewoon het. 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.