Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Michele Nigrini: ‘Ek skilder net wat my happy maak’
‘Showcase’ deur Michele Nigrini. Gemengde media op houtbord (100 cm x 100 cm).

Twee uitstallings wat visueel voortborduur op ’n sestien meter lange installasie wat die kunstenaar Michele Nigrini aan die begin van haar loopbaan, amper drie dekades gelede, geskep het, is binnekort in Graaff-Reinet te sien.

Veertig kunstenaars reageer op dié reusewerk, Kleursimfonie, in die uitstalling In Conversation with Colour Symphony in die Jan Rupert-kunssentrum.

’n Entjie verder op in die straat is Nigrini se solotentoonstelling, Outside In, in die Imibala-galery te sien. Beide uitstallings open op 5 Maart.

Kleursimfonie het sy vir haar meestersgraad by Tukkies in 1993 voltooi. Die sakeman Anton Rupert het dié werk asook al die ander beskikbare werk op haar eerste solotentoonstelling in Bellville gekoop en ’n spesiale krat laat bou sodat sy die reusewerk ook op ander plekke kan uitstal. Nigrini sê dié gebeurtenis het stukrag aan haar loopbaan gegee.

“Kleursimfonie ondersoek my belangstelling in kleur en die uitbeelding van die sewe kleurkontraste soos vasgelê deur die Switserse ekspressionis Johannes Itten. Ek het die afmetings van my destydse studio gebruik om die grootte van die werk te bepaal. Van links na regs dek die installasie die hele kleurspektrum en het dit die voorkoms van ’n reënboog.

“Die werk is bedoel om die toeskouer met die eerste oogopslag visueel te oorweldig. Van naderby is elk van die 395 (A4-grootte) blokkies ’n individuele kunswerk. Die projek het ’n jaar geneem om te voltooi.”

Die paneel is in 2014 ná 20 jaar weer in die Rupert-museum in Stellenbosch uitgestal en het daar gehang tot in 2016, waarná dit weer gestoor is.

Dié solo-uitstalling het ’n onvoorspelbare aanloop van sy eie gehad, vertel Nigrini. Tydens die staat van inperking het sy haar ateljee en galery, Meerkatkolonie, op Rosendal in die Vrystaat ná vyftien jaar opgegee.

Sy het in haar stoepkamer begin werk “en was nog nooit so produktief nie. Ek kon sesuur in die oggend in my pajamas werk of laat snags inval. Dit het my happy place geword.”

Toe kom die geleentheid om ’n solo in die Jan Rupert-kunssentrum aan te bied, en moes sy ’n groter werkruimte vind.

“Ek die pottingshed ontruim, ’n sementvloer gegooi en onder die afdak kon ek die groter skilderye voltooi. Omdat die afdak net drie mure het, voel dit asof ek buite werk, asof ek deel is van die tuin. Fisiek en met al my sintuie op steroïede. Dit was uitdagend om so in die elemente te sit en werk, want dit het sover omtrent elke dag van die jaar gereën.”

“Die stoep, plante, strukture, die voorwerpe, die vreugde om deel van die natuur wees, die lug en die lig, alles verskyn op die doek en als speel in op die skeppingsproses. Vandaar die titel van die uitstalling, Outside In”.

“Ek het gevind dat hoe nader aan die natuur ’n mens leef, hoe uitbundiger voel jy. Ek skilder net wat my happy maak. Ek het nog altyd my direkte omgewing gebruik as vertrekpunt. Want uiteindelik gaan dit oor die spel en interaksie van kleur, lyn en merk.”

Haar nuwe werk is eintlik ook ’n voortsetting 27 jaar later van wat sy in Kleursimfonie mee begin het.

“My nuwe werk is baie layered. Deel van die agtergrond is letters, simbole, patrone, stempels, koffievlekke, toevallige merke en ’n eksperimentering met handgemaakte kwasse en riete en stokkies en blomme.

“Ek stap net uit in die tuin en pluk wat ek nodig het om mee te werk. Selfs die houtskool wat ek gebruik is van gisteraand se vuur. My vriendin Zaria, wat ’n tekstielkunstenaar is hier in Rosendal, het vir my verjaarsdag ses handgemaakte kwasse gegee, gemaak uit onder meer potskuurders en haar eie hare. Dit gee my baie bevrediging om te werk met wat ek in my omgewing kan kry. Dit pas by ons selfonderhoudende ingesteldheid hier in die platteland waar Checkers nie om die hoek is nie.”

Sy is verras deur die getal inskrywings wat ontvang is vir In Conversation with Colour Symphony.

Die werk is baie uiteenlopend – van animasie tot borduurwerk tot samevoegings van herwinningsmateriaal. Die keuringsvereiste was kunswerke wat ’n ‘gesprek voer’ met Kleursimfonie en op een of ander vlak deur die paneel beïnvloed is.”

Die afgelope sewentien jaar is die Vrystaatse kunstenaarsdorpie Rosendal al Nigrini-tuiste. Dit sou ’n kunstenaarsverblyf (“residency”) wees om te werk aan ’n tentoonstelling, maar toe bly sy langer.

“Dit is ’n magiese plek wat jou elke dag voed en dit is ’n voorreg om hierdie tipe bestaan weg van die beskawing te kan voer. Waar die dag-tot-dag-probleme wat elke mens ondervind deur die mooi en spesiale van die omgewing verdun word. Waar die lewe so eenvoudig, maar tog so kompleks is. Waar jy nie in die stroomversnelling van mense, verkeer, winkels en robotte hoef op te kom vir asem nie, maar bloot net hoef asem te haal.

“Rosendal is soos ’n skoon doek wat jou die geleentheid gee om uit te vind wat jy graag wil doen en wees.”

• Die uitstallings word op 5 Maart om 17:30 deur Irna van Zyl geopen in die Jan Rupert-kunssentrum in Middelstraat 41. Covid-19-maatreëls geld. Die tentoonstellings kan van 8 Maart af aanlyn besigtig word. Besoek die webblad rupertmuseum.org.

Meer oor:  Graaff-Reinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.