Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Mona Lisa’ se oë volg nie haar waarnemers – studie
Volg die Mona Lisa se oë haar waarnemers?

In die wetenskap word verwys na die Mona Lisa-effek as die indruk wat ’n waarnemer kry dat iemand se oë hom volg.

Twee navorsers van die Cluster of Excellence Cognitive Interaction Technology (Citec) aan die Universiteit van Bielefeld in Duitsland het egter nou bewys dat dit, ironies genoeg, wel nie die geval met Leonardo da Vinci se wêreldbekende kunswerk is nie.

Die navorsingsresultate is in die wetenskaplike vaktydskrif i-Perception gepubliseer.

Hulle het bevind dat die Mona Lisa se oë in werklikheid teen ’n hoek van 15,4° na die waarnemer se regterkant kyk. Dit is goed buite die reikwydte waarin mense normaalweg ervaar dat daar na hulle gekyk word.

Dr. Gernot Horstmann en dr. Sebastian Loth, die navorsers wat bevind het dat die Mona Lisa nie reguit na haar waarnemers kyk nie.

Dr. Gernot Horstmann, ’n professor en lid van die neurokognitiewe sielkundenavorsingsgroep aan die universiteit se departement sielkunde en van Citec, sê mense is baie goed om aan te voel wanneer ander na hulle kyk. “Perseptuele sielkunde het dit reeds in die 1960’s bewys.”

Horstmann, wat ’n verklaring op die universiteit se webblad gepubliseer het, spesialiseer in oogbewegings en aandag.

Wanneer die oë op ’n foto of in ’n skildery teen ’n hoek van 0° uitkyk, ervaar die waarnemer dat daar na hom gekyk word – selfs al beweeg hy na links of regs.

“Iemand wat sydelings na hierdie figuur se oë kyk, sal dus steeds die indruk kry dat daar na hom gekyk word – maar dan moet die oë nie meer as sowat 5° aan enige kant uitkyk nie.”

Wanneer dié hoek wyer is, sal die kyker nie dink dat die figuur na hom kyk nie.

Hierdie effek is byvoorbeeld belangrik vir die mens se interaksie met karakters op ’n skerm.

“As jy wil hê dat iemand wat aan die regterkant van ’n vertrek staan, moet dink dat die karakter vir hom kyk, dan moet die oë reguit kyk – en nie na regs nie. Verrassend genoeg, as die oë na regs kyk, sal die persoon wat regs staan, dink die figuur kyk nie na enigiemand in die vertrek nie.”

In sy navorsing oor kommunikasie met robotte en avatars het Loth gereeld afgekom op die Mona Lisa-effek, wat verwys na die 16de-eeuse skildery van Da Vinci, wat in die Louvre-kunsmuseum in Parys hang.

“Die effek is onbetwisbaar en kan geïllustreer word, maar met die Mona Lisa, van alle skilderye, kry ons nie die indruk nie.”

Om hul waarnemings te toets, het Horstmann, Loth en 24 deelnemers aan die studie na die Mona Lisa op ’n rekenaarskerm gekyk. Die deelnemers het reg voor die monitor gesit, ’n opvouliniaal is op verskillende afstande van die skerm tussen hulle en die bekende vrou in die skildery geplaas. Die deelnemers moes aandui waar haar blik op die liniaal val.

Om te toets of enige kenmerke van haar gesig die waarnemers se persepsies beïnvloed, het die navorsers 15 verskillende dele van die skildery gebruik – van haar hele kop tot haar oë en neus. Elke beeld is drie keer en in lukrake volgorde getoon.

Halfpad deur die ondersoek het die navorsers ook die afstand tussen die monitor en die liniaal verander.

Data van meer as 2 000 metings is ingesamel en elke meting het getoon dat die Mona Lisa se blik nie reguit op die waarnemer val nie, maar 15,4° na regs is.

“Die term Mona Lisa-effek is dus ’n wanbenaming. Dit illustreer die sterk behoefte om na gekyk te word en om die middelpunt van iemand se aandag te wees – om relevant te wees vir iemand, al ken jy die persoon glad nie,” sê Horstmann.

Loth sê die rigting van die blik van karakters in die ontwerp van virtuele karakters of avatars vir rekenaar- of ondersteuningsprogramme is belangrik, juis omdat dit die aard van die kommunikasie bepaal. “Net soos by mense.”

Meer oor:  Mona Lisa-Effek  |  Navorsing  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.