Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Mthethwa se MAT beding reddingsboeie vir kunstenaars

Kunstenaars wat weens die Covid-19-pandemie sukkel om kop bo water te hou, gaan reddingsboeie in die vorm van regshulp, ’n nasionale welstandsprogram, hulp met hul kinders se skoolfonds by openbare skole én dalk selfs belastingverligting kry.

Sharif Baker, sameroeper van die ministeriële taakspan. Foto: Gallo Images / Sharon Seretlo

Dít is Donderdag by Constitution Hill in Johannesburg deur Sharif Baker, sameroeper van ’n ministeriële taakspan (MAT) in die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, aangekondig.

Nathi Mthethwa, minister van dié departement, het die MAT in Maart aangekondig en gesê dit is op die been gebring om hom te help om die nood van kunstenaars in die land te verlig en die rol as tussenganger tussen die bedryf en die departement te vervul.

Benewens Baker, voorsitter van die Southern African Communications Industries Association (Sacia), bestaan die MAT ook uit China Mpololo, president van die South African Music Industry Council (Samic), Gabi le Roux, hoofsekretaris van die Vakbond vir Suid-Afrikaanse Musikante (Tumsa), Joy Mbewana, president van die Federasie vir Kulturele en Kreatiewe Bedrywe in Suid-Afrika (CCIFSA), Nozipho Nguse-Dlamini, president van die Cstahood-kunstestigting, en Thobela Dlamini van die South African Creative Practitioners in Unity-forum (Sacpu).

Hulle het saam die afgelope vier maande skouer aan die wiel gesit en met Mthethwa se steun talle inisiatiewe en ooreenkomste vir kunstenaars in vyf “strome” beding en gesluit, naamlik: 1) banksake en verhuurders, 2) algemene welstand, 3) skoolgeld, 4) kleinhandel en vervoer, en 5) die private en korporatiewe sektor.

Van dié inisiatiewe sluit die volgende in:

  • Benewens die moontlikheid om belastingverligting vir kunstenaars in die 2020-’21-boekjaar te bekom – ’n inisiatief wat die MAT nog met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens onderhandel – bied die departement van samewerkende regering en tradisionele sake regshulp aan kunstenaars wie se verhuurders hulle weens die niebetaling van huurgeld wil uitsit. Volgens Baker is dié uitsettings onwettig luidens die Wet op Rampbestuur.
  • Kunstenaars kry danksy die departement gratis toegang tot die Silapha-welstandsprogram waar hulle onder meer raad by kundiges oor sielkundige, finansiële en ander uitdagings kan kry.
  • Kunstenaars wie se kinders in openbare skole is, sal nòg agterstallige skoolgelde vir die 2020-skooljaar nòg skoolfonds in die 2021-skooljaar hoef te betaal. Dié vrystelling geld nie vir kinders in private skole nie.
  • Die MAT is tans ook besig om te onderhandel met meer as 20 ondernemings in die korporatiewe sektor wat finansiële steun en opleiding aan kunstenaars wil bied. Meer besonderhede hieroor sal later bekend gemaak word.

Baker sê dit is net die begin en dat hy en die MAT hul taak volstoom voortsit om kunstenaars en die regering te steun.

“Die regering kan nie alles self doen nie. Hul geldsakke is nie so diep dat hulle elke vyf minute kan sê daar is ’n eerste en tweede en derde en vierde ronde noodfinansiering nie.

“Ons moet ook probeer om onsself te help; die MAT werk daarom hard, saam en met ubuntu. Ons werk nog net vier maande hieraan. Ons het reeds ’n lang reis agter die rug, maar ons werk elke dag baie hard om ons doelwitte te bereik.

“Ons is onverbiddelik. Ons gaan nie tou opgooi nie.”

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Mthethwa het op sy beurt sy hoed vir die MAT gelig.

“Hulle gaan met al hul ondervinding ’n bydrae lewer. Hulle is met kunstenaars in gesprek en ons sal alles in ons vermoë doen om hul lewe beter te maak.”

  • Kunstenaars wat meer inligting oor enige van dié en toekomstige MAT-reddingsboeie wil hê, kan ’n e-pos na masechabak@dsac.gov.za stuur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.