Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Museums open oorsee, maar talle dalk verlore
’n Borsbeeld van die komponis JS Bach in Leipzig, Duitsland, het ’n gesigmasker gekry. Maskers of nie, talle museums is nog oorsee gesluit. Foto: Jan Woitas, Picture Alliance Getty Images

Sowat 90% van die wêreld se 85 000 museums wat deur die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (Unesco) herken word, het hul deure tydens die Covid-19-pandemie gesluit. Sowat 13% van hulle sal dalk nooit weer oopmaak nie.

Dit kom neer op een uit elke agt museums wat verlore gaan. Dié sluiting sal veral in Afrika, Asië en die Arabiese streke gevoel word.

“Die verwagting is dat 24% van die museums in Afrika geraak sal word, 27% in Asië en 39% in die Arabiese streke, terwyl net 12% in Latyns-Amerika, 10% in Noord-Amerika en 8% in Europa weens die Covid-19-inperking sal ondergaan,” berig die publikasie Business Insider.

Verskeie Europese kunsmuseums het begin Junie hul deure oopgegooi vir besoekers, maar sake is allermins weer “soos normaal”.

Volgens die BBC News word Amsterdam se Rijksmuseum gewoonlik daagliks deur sowat 12 000 mense besoek. Dit word tans tot 2 000 beperk en kaartjies moet vooraf aanlyn gekoop word, afstande van 1,5 m moet in die museum gehandhaaf word en maskers is verpligtend. Dit is nadat die enorme kunsmuseum deeglik ontsmet is.

Ander bekende Amsterdamse kunsmuseums wat ook oop is vir besoekers is die Rembrandt-huis en die Van Gogh-museum.

In Spanje het die Guggenheim in die stad Bilbao begin Junie oopgemaak, hoewel net van 14:00. Dié reëling is in oorleg met die museum vir visuele kuns gemaak wat soggens oop is en om 14:00 sluit. Nie veel toeriste word die somer verwag nie, daarom gee die museums mekaar ’n regverdige kans.

Besoekers word ook van 1 Junie in die Sistynse kapel in Rome toegelaat op voorwaarde dat hulle temperatuur normaal is. Talle gesondheidswerkers is aan diens om mense se temperatuur te neem.

Die Louvre in Parys, sekerlik die gewildste kunsmuseum ter wêreld, is egter steeds gesluit en sal na verwagting eers later in Junie sy deure oopgooi.

Volgens BBC News is alle museums in Brittanje voorwaardelik oopgestel. As Covid-19 weer ’n piek bereik, kan die museums verplig word om weer te sluit. Besprekings sal waarskynlik ook nog baie maande die enigste manier wees om toegang tot die museums te kry. – BBC News, Business Insider

* In Suid-Afrika is museums en kunsmuseums wat deur die regering gefinansier word, steeds gesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.