Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Musiek inspireer tekeninge

Die tekeninge geïnspireer deur die nege werke wat Danré Strydom en Grethe Nöthling vandeesweek in Bloemfontein uitvoer, is sonder vooraf beplanning gedoen en sonder dat die kunstenaar voorheen die musiek gehoor het.

“Ek het gevind ek lewer my beste werk wanneer ek onder druk is en nie tyd het om daaroor te tob nie,” sê David Griessel. Dié oud-Bloemfonteiner en deesdae ’n Kapenaar is bekend vir sy illustratiewe kuns van meestal deernisvolle vreemde gedaantes.

Elke kwashaal is op video opgeneem en sal op ’n groot skerm op die verhoog geprojekteer word sodat die gehoor kan sien hoe die tekeninge ontwikkel terwyl Strydom (klarinet) en Nöthling (klavier) ’n program van Suid-Afrikaanse werke uitvoer.

“Ek was so omgewe van die kragtige musiek en het so spontaan geskep dat ek self verbaas was oor die eindproduk. Ek kon kwalik glo ek het dit geskep.”

Van der Watt/Rietery (ink op papier, 29 cm x 42 cm) is een van David Griessel se tekeninge wat hy “improvisatories” vir Danré Strydom en Grethe Nöthling se klarinet-en-klavieruitvoering geskep het.

Griessel het ink en ’n Japanse kwas vir die tekeninge gebruik. Dié mensokwas maak dik en dun hale moontlik wat help om ’n werk heelwat vinniger te voltooi as met ’n balpuntpen wat tot onlangs Griesssel se voorkeurmedium was.

Hy het verseker die improvisatoriese skeppings is steeds in sy herkenbare styl waartoe die “magies-surrealistiese” musiek vir klavier en klarinet bygedra het.

Al nege kunswerke sal ná die konsert te koop wees.

Strydom sê die werke wat hulle speel, is kort en wissel van twee tot 12 minute. Die program begin met Notturno van Hendrik Hofmeyr, gevolg deur Heatwave van Clare Loveday, Three Pieces van die Bloemfonteinse komponis Stockton, Moments of Night van Peter Klatzow, Spieëltjie aan die wand van Stefans Grové, Kleine Chronik van Isak Roux, Game 1 for Lila van Surendran Reddy en Jazz Sonatina van Alexander Johnson.

Die samewerking tussen Griessel, Nöthling en Strydom word voortgesit met ’n CD wat later vanjaar uitgereik word en van die werke in die Opus ZA-program bevat.

Griessel gaan die omslag ontwerp.

Die twee musici het die helfte van die CD in Julie in België opgeneem. Die CD sal in Suid-Afrika voltooi word.

Strydom is ’n houtblaasdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) en eerste klarinetspeler in die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO). Nöthling het onlangs die OSM vir ’n klavierpos aan die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege verruil.

* 30 Augustus om 19:30 in die Odeionteater op die Kovsiekampus. Die kaartjies kos R120 (volwassenes), R80 (pensioentrekkers), R70 (UV-personeel) en R50 (studente, leerlinge en blokbesprekings). Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.