Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
’n Uitdaging van persepsies
Embed deur Lionel Smit.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Lionel Smit se uitstalling Close/Perspective in die Everard Read-galery in Rosebank duur tot 30 September.

Die afgelope tien jaar het hy ook die internasionale mark betree.

Invloedryke private kunsversamelaars volg sy loopbaan. Sy skilderwerk en bronsbeelde word dikwels lankal verkoop voordat die uitstalling begin.

Hy is gebore in Pretoria, waar hy ook sy opleiding ontvang het.

Deesdae woon hy in die Strand. Sy werk is al in Nederland, Duitsland, Indië, Amerika, Monaco, Engeland, Australië en Hongkong uitgestal in sowel solo-uitstallings en as by kunsmarkte.

Smit ondersoek identiteit met die figure wat hy skep. Een van sy beelde is van ’n Kaaps-Maleise meisie wat na jou terugstaar.

In sy meer onlangse werk bou Smit voort op hierdie idee deur herkoms en erfenis te verken.

Met Close/Perspective daag Smit persepsies uit wat betref hoe kuns waargeneem word. Idees en beelde kan verskillend geïnterpreteer word omdat die konteks van die werk verander na gelang van die spasie waarin dit uitgestal word. Een skildery strek oor 7 m teen een muur, teenoor ’n klein, delikate bronsbeeld in dieselfde vertrek.

Smit wend kleur aan om persepsies te verskuif en die skaal van die werke in verhouding tot die uitstalruimte is baie belangrik.

’n Skildery van hom is in 2013 in die National Portrait Gallery in Londen bekroon met die BP Portrait-prys.

Hy het ook onlangs ’n prys vir beeldende kuns van die Suid-Afrikaanse departement van kuns en kultuur ontvang. Nog ’n hoogtepunt in sy loopbaan was dat een van sy skilderye die voorblad gehaal het van ’n katalogus van ’n veiling deur die afslaers Christie’s.

Die Everard Read-galery is by Jellicoelaan 6, Rosebank.

Skakel 011 788 4805 of stuur ’n e-pos na ​gallery@everard. co.za vir meer inligting.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.