Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
’n Skilder se ode aan Karel Schoeman

Ná 43 jaar in Europa “met sy ongelooflike ooraanbod aan kultuur” het dit vir hom tyd geword om stil te word en na binne te keer.

So sê die kunsskilder Philip Willem Badenhorst van Prins Albert wie se uitstalling Karelsfontein eerskomende Saterdag in Die Breytenbach-sentrum op Wellington open. Die titel verwys na die werke van die skrywer Karel Schoeman, vir wie Badenhorst ’n groot bewondering het.

Die opening (op 30 Januarie, 11:00) word waargeneem deur nog ’n Schoeman-kenner, die skrywer Cas Wepener, wie se boek Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman in 2017 verskyn het.

Philip Willem Badenhorst Foto: Barry Lamprecht

Badenhorst sê sy inspirasie vir dié uitstalling spruit uit sy intense leeswerk van Schoeman se romans tydens sy 2017-sabbatsjaar in Prins Albert. “Schoeman se innerlike wysheid, die gelaagde teksture van die stiltes in sy werke en sy karakters se inwaartse pad van selfondersoek het my nog altyd getref. Wat ook uitstaan, is sy Europese karakters se onvermoë om die ongenaakbare uitgestrektheid van die Suid-Afrikaanse landskap, asook sy mense, te verstaan. Ek wou nooit die tekste letterlik uitbeeld nie, wel die sielkundige atmosfeer wat, in al sy werke, gloei soos warm kole in ’n sterwende vuur. Vir my lê die aantrekkingskrag van Schoeman se werke daarin dat ’n groot element van figuurlikheid uit die letterlike vertelling spruit.

“Ek het Schoeman die eerste keer as student in die 1970’s gelees, maar ek was toe te jonk om die diepgang werklik te verstaan. Karelsfontein het ontstaan nadat ek sy romans in 2017 en 2019 in gepubliseerde volgorde gelees het.”

Van die titels van die skilderye wat uitgestal word, is dié van plaasname in die Schoeman-romans, veral dié wat op “fontein” eindig. “Plase word altyd naby ’n natuurlike fontein of waterbron gevestig. Ek gebruik water graag as element vir die krag van die lewe en van hernuwing. My werk bestaan uit verskillende lae akrielverf wat liggies aangewend word. Ek het opgehou om met olieverf te skilder omdat dit te lank duur om droog te word.”

Die kreatiewe proses is vir hom ’n vorm van meditasie, sê hy. “Ek werk dikwels terwyl ek luister na ’n wye verskeidenheid musikale tradisies: Indiese Ragas, Irannese klassieke musiek soos dié van Kayhan Kalhor op sy kamancheh en sitar, Tibettaanse dreunsange, die musiek van Arvo Pärt, Björk, Radiohead, Sigur Rós en al die werke van ons oudste seun, Joachim, ’n jazzmusikant.”

Badenhorst vertel dat hy groot inspirasie uit die Karoo as landskap put. Sedert middel-2019, ná sy aftrede, woon hy en sy vrou, Marijke Coornaert, permanent op Prins Albert. “Dis nie vreemd dat dié omgewing so ’n groot invloed op my werk het nie, want ek is op ’n plaas in die Colesberg-distrik gebore. Ek was in die Vrystaat op skool en het daarna beeldende kuns by die Michaelis-kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.”

Hier het hy sy eerste graad met onderskeiding verwerf en sy jaargroep se klasmedalje, sowel as die gesogte Michaelis-prys, gewen. Dit het vir hom die pad oopgemaak vir ’n kulturele beurs om vir ’n meestersgraad by die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten in Antwerpen te studeer. “Dis hier waar ek Marijke ontmoet en die volgende 42 jaar gewoon het.”

“Weens aanvanklike burgerskapsprobleme het werksaanbiedinge stadig maar seker ingekom. Aanvanklik was ek vyf jaar lank stelontwerper vir ’n TV-kunste-onderhoudprogram, Eiland. Daarna was ek 20 jaar lank grafiese redakteur van ’n Nederlandse literêre tydskrif, De Brakke Hond, en toe, in 1990, word ek lektor in skilderkuns en tekenwerk by verskillende kunsakademies in Antwerpen. Ek het sedert 2009 ’n voltydse pos beklee.”

Dit was in 1995, ná ’n ses maande verblyf in Prins Albert om nét te skilder, dat sy kunsloopbaan werklik vlamgevat het. “Ek het in dié tyd Sogyal Rinpoche se The Tibetan Book of Living and Dying bestudeer. Dit het my verryk en geïnspireer. Die leef-deel het my oë oopgemaak. Dit was ’n tyd van selfontdekking, veral omdat ek grootgeword het in ’n NG en apartheidsgemeenskap.”

Die afgelope 12 maande werk Badenhorst daagliks in sy ateljee en talle nuwe werke het, veral in die inperkingstyd, ontstaan. “Ná Europa met sy ongelooflike ooraanbod van kultuur het die tyd aangebreek om na binne te keer, maar my aanslag en benadering tot my skilderwerk is nog dieselfde. Met elke werk probeer ek myself te herontleed, uitdaag en verras.”

In sy nuwe reeks werke het Peter Frankopan se The Silk Roads en Edmund de Waal se The White Road ’n groot rol gespeel.

“Die interessante geskiedenis van hoe die porselein via die Syroetes na die Weste gekom het, het beslis ’n invloed op my nuwe werke, maar weer eens probeer ek nié feite letterlik uitbeeld nie, eerder my interpretasie daarvan. Hierdie verhale is die inspirasie wat die poorte van my verbeelding open.”

Die Karoo sal altyd vir hom ’n uitverkore woonplek bly. “Dis die naaste aan my ideaal om stilte te vind. Prins Albert is ook die beste plek om, sonder enige afleiding, intens te kan lees. Uiteraard beïnvloed die omgewing my kleurgebruik . . . my werke het meer en meer monochroom geword het.”

En dit, sê hy, weerspieël dié fase in sy lewe om na binne te keer.

Meer oor:  Karel Schoeman  |  Skilder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.