Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nas Hoosen, strokieskunstenaar, sterf aan Covid-19
Nas Hoosen (32)

Nas Hoosen (32), ’n draaiboekskrywer, illustreerder en kopieskrywer van Johannesburg, is Maandagaand in die Netcare Milpark-hospitaal in die stad aan Covid-19 oorlede.

Hy was vir ongeveer twee weke al in ’n geïnduseerde koma en het voor dit nog uit sy hospitaalbed getwiet. Dit blyk uit sy twiets dat hy van ongeveer middel Desember Covid-19 gehad het nadat hy eers negatief getoets is.

Hoosen was in 2015 ’n finalis in The Story Lab, ’n animasiestorie-slypskool in Los Angeles, wat deur die Amerikaanse animasiereus Disney in samewerking met die Kaapse animasie-ateljee Triggerfish aangebied is. Die regisseur Matthys Boshoff het Hoosen by dié slypskool ontmoet. “Sy vlymskerp humor het my dadelik opgeval. Hy het ’n storie ontwikkel oor ’n eensame robot in ’n wasteland.”

Vroeg in 2018 het Nas, Megan Godsell, Nonzi Bogatsu en Boshoff begin werk aan ’n reeks wat in die 1890s Johannesburg afspeel. “Die reeks is deurweek van Nas se stem, die is ’n neo-noir verhaal wat in Johannesburg afspeel, waar die stad as ’n stad van dromers van oraloor uitgebeeld word. Dit is ’n verskriklike verlies om die kreatiewe dryfveer agter die projek te verloor. En meer as dit die skryf-kameraadskap, ’n vriend en daardie sterk dosis oneerbiedige humor.”

Hy is in 2018 deur The Mail & Guardian aangewys as een van die top-200 jong mense onder dertig om dop te hou in Suid-Afrika. As draaiboekskrywer het hy vir verskeie reekse vir die SAUK geskryf onder meer vir Lithapo.

Sy illustrasies is in Phumlani Pikoli se kortverhaalbundel The Fatuous State of Severity gepubliseer, en sy strokies in die bundel Meanwhile... Stories about Queer Life in East & South Africa en het hy gereeld praatjies oor strokieskuns en visuele storievertelling in Suid-Afrika aangebied. Hy het ook ’n kunstenaarsverblyf vir strokieskunstenaars voltooi by die Arteles-kunstesentrum in Finland.

Hy was ook nou betrokke by Sector, ’n bundel met die komiese werk van plaaslike strokieskunstenaars. Hy het ook podsendings vir die BBC oor populêre kultuur gelewer. As joernalis het hy bydraes vir die BBC, The Guardian, Dazed & Confused en ander publikasies gelewer. Hy het nog voor sy dood aan die strokiesboek #GetTherapy gewerk.

Die kunstenaar Ben Rausch het saam met hom aan Red Air, ’n strokiesreeks wat opgeneem is in die bundel Sector, gewerk.

“Hy was so ’n inspirerende mens, met ’n aansteeklike humorsin en groot passie vir die lewe.”

Sy vriend Werner Olckers van die groep Westerlish het Hoosen só op Facebook gehuldig. “My broer, sielsmaat en beste vriend, kunstenaar, skrywer en ’n mooi mens. Ek is dankbaar dat ons vir ’n tydperk saam op die planeet was. Ek glo dat jy nou in die kroeg is saam met Bowie en Prince. Sê tog vir Andy Kaufman: “We get it now”.

Die joernalis Nadine Theron onthou Hoosen as ’n geliefde studentemaat in die departement joernalistiek aan die Universiteit van Johannesburg.

“Hy was my beste, beste vriend in die joernalistiekklas. As klasmaat was hy ongelooflik snaaks, intelligent, talentvol en ingelig. Hy wou altyd flieks maak of comicboeke skryf en het groot gedroom – dit het toe lagwekkend onrealisties geklink, maar hy het soveel meer bereik as waaroor hy selfs gegrap het.

“As vriend was hy beskermend, ondersteunend en baie eerlik. Hy het ’n diep deernis gehad vir mense en ’n intuitiewe aanvoeling vir hoe mense dink. Hy kon dalk gedagtes lees. Die wêreld is baie verveliger en bleker sonder hom.”

Meer oor:  Sterf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.