Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nasionale Kunsteraad: 2 direksielede bedank

Twee van die Nasionale Kunsteraad (NAC) se 18 direksielede het uit hul amp bedank – dít net ’n paar maande nadat hul termyn op 1 Januarie begin het.

Avril Joffe Foto: nac.org.za

Michelle Constant, SAfm-omroeper en voormalige hoof van Business and Arts South Africa (Basa), het die kunsteraad stil-stil in Februarie gegroet, terwyl Avril Joffe, ekonomiese sosioloog en vervaardiger, vroeër vandeesweek haar bedankingsbrief ingehandig het.

Tshepo Mashiane, ’n direksielid en hul woordvoerder, het die bedankings aan Netwerk24 bevestig.

“ ’n Amptelike aankondiging oor die bedankings moet nog gemaak word,” sê Mashiane.

“Joffe se bedankingsbrief is tans by die minister (Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur).”

Mashiane sê hy kan nie in dié stadium uitwei oor die rede vir Constant en Joffe se besluit of wat die inhoud van hul bedankingsbriewe behels nie. Hy kan wel bevestig dat Mthethwa Constant reeds met die redigeerder en regisseur Layla Swart vervang het.

“Die minister sal waarskynlik ook binnekort ’n plaasvervanger vir Joffe aanwys.”

Joffe sê aan Netwerk24 sy wil nie in dié stadium kommentaar lewer nie. Constant kon nog nie om kommentaar bereik word nie.

Die bedankings volg te midde van kunstenaars landwyd se woede oor die kunsteraad se bestuur van R300 miljoen se noodfinansiering wat in Desember (verlede jaar) in kunstenaars se sakke moes beland. Die kunsteraad het egter teen Woensdag nog net ’n raps meer as R54,8 miljoen uitgedeel.

Netwerk24 het reeds breedvoerig berig dat die kunsteraad dié noodfinansiering as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het. Hulle het kunstenaars genooi om vir dié finansiering aansoek te doen, maar uitbetalings is gestaak toe hulle ’n wiskundige fout begaan het: Die kunsteraad het 1 374 aansoeke goedgekeur en kontrakte met 613 van dié begunstigdes gesluit – voordat hulle besef het die R300 miljoen-noodfonds is uitgeput en dat hulle eintlik meer as dubbeld soveel geld nodig het om al die aansoeke te finansier.

Die kunsteraad se nuwe direksie het toe aangekondig dat die 613 kontrakte bloot gewysig gaan word, al is dit onwettig, en dat hulle heelwat minder geld aan elke begunstigde gaan uitbetaal sodat al die suksesvolle aansoekers ten minste iets kry.

Dít het kunstenaars landwyd erg ontstig. Die operasangeres Sibongile Mngoma het op 1 Maart ’n sitstaking in die kunsteraad se kantoor in Newtown, Johannesburg, begin wat sy op dieselfde dag tydelik gestaak het. Sy het die sitstaking op 3 Maart onverpoosd hervat en het teen Donderdag reeds 22 aande in die kunsteraad se raadsaal oornag om teen die debakel en die lot van kunstenaars in die land te betoog.

Die direksie het Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, hul finanshoof, ook reeds hangende ’n ondersoek oor die kwessie geskors.

Ons gaan beslis nie met enige geweld teen hulle (die sitstakers) optree nie. Suid-Afrikaners het ’n grondwetlike reg om te betoog, en ons respekteer dit. Ons wil daarom net aanhou om met die sitstakers in gesprek te tree.
Tshepo Mashiane, NAC-direksielid

Mashiane sê die direksie is tans nog op soek na ’n derde party wat die kwessie van voor tot agter kan ondersoek.

Hy sê die direksie sit tans met betrekking tot die sitstakers met hul hande in hul hare.

“Dit is werklik moeilik om te verstaan wat presies die sitstakers soek, want ons het al talle kere met hulle vergader en ons het aan al hul vereistes voldoen – ons het, byvoorbeeld, die agt vrae beantwoord wat hulle aan ons gestel het.

“Ons gaan beslis nie met enige geweld teen hulle optree nie. Suid-Afrikaners het ’n grondwetlike reg om te betoog, en ons respekteer dit. Ons wil daarom net aanhou om met die sitstakers in gesprek te tree.”

Talle kunstenaars, kunste-organisasies en -verenigings landwyd, soos die Feesteforum (Aardklop, die KKNK, die Standard Bank Innibos-kunstefees, die Suidoosterfees, die Toyota US Woordfees, en die Vrystaat Kunstefees) en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), het reeds hul solidariteit met die sitstakers betoon.

Die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (SAGA) het intussen Maandag ook hul steun aan die sitstakers gegee en pres. Cyril Ramaphosa in ’n verklaring gevra om dringend in te gryp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.