Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nasionale Kunsteraad hof toe oor sitstakers

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) gaan hom Dinsdag tot die hof wend in ’n poging om sowat 20 sitstakers in sy kantore in Newtown, Johannesburg, te verwyder.

Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Die sitstakers, insluitende die operasangeres Sibongile Mngoma, betoog sedert 3 Maart oor die kunsteraad se omstrede wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering.

Mngoma het teen Dinsdagoggend reeds 34 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal geslaap om teen die debakel te betoog. Sy sê sy sal daar bly totdat al die kunstenaars betaal word wat hulle belowe is, al beteken dit sy moet haarself vir die volgende 700 dae daar vaskluister.

Die kunsteraad se bestuur wil dít egter keer en het daarom reeds op 23 Maart ’n aansoek om ’n dringende interdik ingedien. Regter Motsamai Makume sal die aansoek Dinsdag om 10:00 in die hooggeregshof in Johannesburg aanhoor.

Luidens hofdokumente hoop die kunsteraad om die sitstakers met die interdik te dwing om hul perseel dadelik te verlaat en nie terug te keer nie; nie enige van die kunsteraad se werknemers, verteenwoordigers of subkontrakteurs mondelings of fisiek te dreig of te intimideer nie; en om geen van die kunsteraad se kantore en/of toerusting te beskadig nie.

Indien die sitstakers enige van dié reëls oortree, vra die kunsteraad die hof vir toestemming dat ’n “relevante liggaam”, soos die polisie, die kunsteraad “nodige bystand” kan bied om dié reëls af te dwing.

Volgens Mngoma is ’n afskrif van dié hofaansoek in die kunsteraad se voorportaal gelos dat die sitstakers dit oor die Paasnaweek kon bestudeer. Sy het Maandag aan Netwerk24 gesê hulle hou voet by stuk.

“Ons gaan nêrens heen nie, want hulle het nie die saak met behoorlike omsigtigheid hanteer nie. Daar is stappe wat jy moet volg voordat jy iemand kan uitsit en hulle het nie eens die eerste stap sinvol nagekom nie.

“Hulle is boelies wat staatsinstellings misbruik. Dit (die aansoek om ’n interdik) pla my nie. Ek wil eintlik hê dat hulle moet voortgaan om die wet te oortree sodat hulle hulself kan blootstel.”

Hulle (die kunsteraad) is boelies wat staatsinstellings misbruik. Dit (die aansoek om ’n interdik) pla my nie.
Sibongile Mngoma

Tshepo Mashiane, ’n NAC-direksielid en hul woordvoerder, sê hul hofaansoek is hul heel laaste uitweg, nadat hulle voorheen verskeie kere met die sitstakers in gesprek getree het om die situasie te ontlont.

“Ons nader die hof ook nou omdat die boekjaar onlangs (31 Maart) ten einde geloop het en die NAC sy jaarlikse aansoekproses om finansiering moet open. Ons kan dit nie doen as ons nie ons kantore kan betree nie. Van ons werknemers is bang dat me. Mngoma hulle weer as gyselaar gaan hou, so ons kan nie met die sitstakers op die perseel ’n veilige werkomgewing verseker nie. Ons nader die hof dus om hulle te verwyder sodat werknemers weer op kantoor aan die werk kan spring.”

Mngoma het die sitstaking eintlik op haar eie op 1 Maart begin. Die kunsteraad het haar toe daarvan beskuldig dat sy hul werknemers as gyselaar hou omdat sy hulle nie wou toelaat om die gebou te verlaat nie. Mngoma het die bewering ontken, die sitstaking op dié dag tydelik gestaak, en dit op 3 Maart hervat.

Meer oor:  Pesp  |  Tshepo Mashiane  |  Sibongile Mngoma  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.