Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nasionale Kunsteraad ken fondse van R29,3 m. toe
Africa Melane, tussentydse hoof van Kaapstad Opera.

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het Dinsdag aangekondig dat hy finansiering van R29,3 miljoen aan 209 Suid-Afrikaanse kunstenaars en kunste-organisasies gaan toeken.

Dié stap volg op die NAC se uitnodiging aan kunstenaars vroeër vanjaar om innoverende digitale kunsprojekte voor te stel wat kan verseker dat die kunste in Suid-Afrika ondanks die Covid-19-pandemie en die staat van inperking kan gedy.

Kunstenaars is genooi om hul voorstelle in een van vyf kategorieë in te skryf. Die NAC het eindelik 58 projekte in die kategorie kunsplatforms, uitstallings en feeste vir finansiering goedgekeur; 32 projekte in die kategorie maatskaplike kohesie en nasiebou; 47 projekte in die kategorie innovering en die ontwerp en skep van nuwe werk; 46 projekte in die kategorie kapasiteitsbou; en 26 projekte in die kategorie strategiese projekte.

Volgens ’n mediaverklaring is tussen R5,6 miljoen en R5,9 miljoen aan elk van dié kategorieë toegeken.

Ricardo Peach, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, is verheug om te verneem dat die fees ook een van die begunstigdes is.

“Ons dink natuurlik dit is fantasties, en ons is so bly om ondersteuning te kry om die kunste aan die lewe te hou,” sê hy aan Netwerk24.

Hy sê die finansiering sal gebruik word om ’n danslaboratorium te stig wat deur Georgina Thomson op die been gebring sal word.

Thomson het op haar beurt verduidelik dat die laboratorium, bekend as Crossings, sal bestaan uit ’n reeks slypskole wat choreograwe, beligtingsontwerpers en komponiste byeen sal bring.

“Dié betrokkenes sal dan saamwerk en ten minste drie nuwe werke skep,” sê sy. “Ons hoop om die laaste deel (van die projek) in ’n ateljee met dansers te doen.”

Africa Melane, tussentydse hoof van Kaapstad Opera, sê ook hy sien uit na die werk wat die operageselskap sal kan doen met die NAC-finansiering wat hulle ontvang het.

“Dit is hoofsaaklik vir digitale innovering in opera in Afrika, en ons gaan saam met universiteite in die Noord-Kaap, die Oos-Kaap, Noordwes en ook hier by die huis, in die Wes-Kaap, werk,” sê hy.

“Dit is slegs met die ondersteuning van die Nasionale Kunsteraad dat ons in staat is om hierdie tipe werk te doen en opera aan ’n wyer gehoor bloot te stel.”

’n Volledige lys van begunstigdes – wat onder meer ook die Zip Zap-sirkusskooltrust, die Suid-Afrikaanse Nasionale Danstrust en die Vereniging van Gestremde Musikante in Suider-Afrika insluit – is op www.nac.org.za gepubliseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.