Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nasionale Kunsteraad kry eerste bloedneus in hof

Vreugdevure in kunstekringe brand landwyd hoog nadat die Nasionale Kunsteraad (NAC) in die hooggeregshof in Johannesburg vir die eerste keer op die vingers getik is oor die omstrede manier waarop hy R300 miljoen se noodfinansiering aan kunstenaars uitbetaal.

Monica Newton, hoof van die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Foto: Verskaf

Netwerk24 het vroeër berig dat die kunsteraad die noodfinansiering danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het, en eindelik 1 374 aansoeke vir dié noodfinansiering goedgekeur het. Kontrakte is met 613 van dié begunstigdes gesluit, voordat die kunsteraad se bestuur besef het hulle deel te veel geld aan elke begunstigde uit – en dat hulle nie eintlik enige geld vir die oorblywende 761 begunstigdes oor het nie.

Die kunsteraad se direksie het toe op ’n omstrede u-draai besluit: om bloot die 613 kontrakte te wysig, al is dit onwettig, en vir elke begunstigde tot 70% minder te betaal om te verseker dat elke suksesvolle aansoeker ten minste iets kry.

Dít het die bestuur van die Nasionale Kunstefees (NAF), een van die 613 begunstigdes wat ’n kontrak onderteken het, nie geval nie. Luidens hofdokumente het die NAF in Januarie ’n kennisgewing van die kunsteraad ontvang dat ’n toelaag van R8 miljoen aan hulle toegeken is. Die NAF wou die geld gebruik om drie kunsteprojekte te finansier en 284 werkgeleenthede voor 31 Maart te skep. Hulle het dadelik weggespring om die projekte op die been te bring en hul eie kontrakte met diensverskaffers te sluit nadat hulle die kunsteraad se bevestiging gekry het.

Die kunsteraad het die NAF egter op 8 en 9 Maart ingelig dat hulle die kennisgewing moet terugtrek en dit moet vervang met ’n aangepaste kennisgewing wat bevestig dat hulle slegs R3 486 400 sal kry – en dat hulle 36 meer werkgeleenthede, ’n totaal van 320, daarmee moet skep.

Die NAF het dadelik kapsie gemaak en Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, genader om teen die kunsteraad se ommeswaai te appelleer, maar hul appèl is van die hand gewys.

Nadat die kunsteraad glo in ’n mediaverklaring gesê het dié wat nie die aangepaste bedrag aanvaar nie, eindelik nie ’n sent sal kry nie, het die NAF besluit om die kunsteraad hof toe te sleep.

Regter Willem Wepener het die saak Maandag aangehoor en Woensdag beveel dat die kunsteraad die bedrag van R3 486 400 voor Saterdag om 13:30 aan die NAF moet betaal. Hy het ook beveel dat die kunsteraad se tweede, aangepaste kennisgewing geskrap moet word – wat die NAF sal toelaat om in ’n toekomstige hofgeding aanspraak te maak op die res van die R8 miljoen wat aanvanklik aan hulle belowe is.

Die hof het effektief die kunsteraad se standpunt verwerp dat hulle toelaagooreenkomste deur die bank mag wysig. Hulle kan nie, en dit is nou duidelik.
Monica Newton

Monica Newton, die NAF se hoof, het Netwerk24 by navraag na ’n verklaring verwys waarin sy sê dat Wepener se bevel ’n “reuse-oorwinning” in hul guns is, al het hy nie die kunsteraad beveel om teen Saterdag die volle bedrag van R8 miljoen te betaal nie.

“Honderde organisasies het dieselfde boodskap (dat hulle veel minder geld gaan ontvang as wat hulle voorheen belowe is) van die NAC gekry. Die hof het vandag ’n enkele en duidelike boodskap gestuur, wat die NAC se eiegeregtige benadering verwerp.

“Die hof het effektief die kunsteraad se standpunt verwerp dat hulle toelaagooreenkomste deur die bank mag wysig. Hulle kan nie, en dit is nou duidelik.”

Newton sê die bevel beteken ook dat die kunsteraad nie meer kunstenaars deur middel van ’n “vat-dit-of-los-dit-benadering” as gyselaar kan hou nie.

“Ons hoop dat die uitspraak ander organisasies sal aanmoedig om te betwis wat die NAC doen.”

Dr. Sipho Sithole, een van die kunsteraad se direksielede, het Donderdag in ’n openbare Zoom-webinaar gesê hulle neem kennis van die uitspraak en dat die bedrag van R3 486 400 glo reeds betaal is.

Hy het nie kommentaar gelewer oor die hof se beslissing dat die aangepaste kennisgewing verwerp is en die NAF kan aanspraak maak op die res van die geld nie.

Nog hofgedinge kom

Netwerk24 het in Maart berig dat die Suid-Afrikaanse Kunste- en Kultuur-jeugforum (SAACYF) sy eerste hofgeding teen die kunsteraad in minder as 30 minute verloor het.

SAACYF het probeer om ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Johannesburg te bekom om die kunsteraad onder meer te dwing om die noodfinansiering in sy besit binne vyf dae aan platsak kunstenaars uit te betaal.

Regter Marcus Senyatsi het SAACYF se aansoek met koste van die hand gewys en die saak van die hofrol geskrap omdat hulle nie kon aanvoer hoekom hul aansoek dringend is nie.

Die kunsteraad se regsverteenwoordigers het Senyatsi ook oortuig dat die kunsteraad al die noodfinansiering in sy beursie teen 31 Maart sal betaal – ’n sperdatum wat die kunsteraad Donderdag amptelik misgeloop het. Hulle kon teen Woensdag slegs sowat R98,9 miljoen aan 699 begunstigdes oorhandig. Tshepo Mashiane, nog ’n NAC-direksielid, het in die webinaar gesê die enigste rede dat die sperdatum nie gehaal is nie, is bloot omdat talle kunstenaars steeds weier om hul aangepaste kennisgewings te onderteken.

In Assitej SA se geval is hulle R448 200 belowe om 27 werkgeleenthede te behou. Die kunsteraad het R313 740 in die eerste van twee paaiemente aan hulle uitbetaal – maar toe besluit om die ooreenkoms te wysig en hul somtotaal na R294 165 te verlaag; Assitej SA skuld die kunsteraad dus ’n terugbetaling van R19 575.

Die hof het SAACYF genooi om weer vir ’n interdik aansoek te doen, sou die sperdatum van 31 Maart nie gehoorsaam word nie. Romeo Ramuada, president van SAACYF, sê aan Netwerk24 dat hulle teen Maandag sal besluit of hulle ’n heraansoek gaan oorweeg.

Yvette Hardie, hoof van die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA), het wel aan Netwerk24 bevestig dat hulle voortgaan met hul eie hofgeding teen die kunsteraad.

In Assitej SA se geval is hulle R448 200 belowe om 27 werkgeleenthede te behou. Die kunsteraad het R313 740 in die eerste van twee paaiemente aan hulle uitbetaal – maar toe besluit om die ooreenkoms te wysig en hul somtotaal na R294 165 te verlaag; Assitej SA skuld die kunsteraad dus ’n terugbetaling van R19 575.

Assitej SA wil die saak voor die hooggeregshof in die Wes-Kaap bring om dié terugbetaling te keer én die res van die geld te verhaal waarop hulle volgens hul kontrak geregtig is.

Meer oor:  Sipho Sithole  |  Tshepo Mashiane  |  Nathi Mthethwa  |  Pesp  |  Naf  |  Nasionale Kunstefees  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.