Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nasionale Kunsteraad kry weer bloedneus in hof

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het vir ’n tweede keer in die hof ’n bloedneus gekry oor sy omstrede uitbetaling van sogenaamde PESP-noodfinansiering.

Monica Newton, hoof van die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Foto: Verskaf

Die kunsteraad was dié keer in die sop omdat hy op 28 Januarie R8 miljoen in ’n kontrak aan die Nasionale Kunstefees in Makhanda toegeken het – maar op 8 Maart weens ’n geldtekort besluit het om niks meer as R3 486 400 uit te betaal nie. Die kunsteraad het bloot dié gewysigde bedrag in ’n addendum by die kontrak gevoeg.

Dít het die fees se bestuur nie geval nie, veral omdat hulle teen 8 Maart reeds kontrakte met diensverskaffers gesluit het om met die geld kunsteprojekte te finansier wat teen 31 Maart ten einde moes loop.

Die feesbestuur het hom op 31 Maart tot die hooggeregshof in Johannesburg gewend, waar regter Willem Wepener die kunsteraad se addendum met die gewysigde bedrag geskrap het. Dít het die feesbestuur in staat gestel om in ’n bykomende hofgeding op 31 Mei die volle bedrag van R8 miljoen te eis.

Regter Colin Lamont het in die hooggeregshof in Johannesburg beslis dat die aanvanklike kontrak steeds bindend is en die feesbestuur dus op die volle R8 miljoen geregtig is. Hy het die kunsteraad beveel om dit dadelik aan die fees te betaal.

Monica Newton, die kunstefees se hoof, sê in ’n mediaverklaring sy is verheug oor die beslissing. Sy hoop dit spoor ander begunstigdes aan om ook die bedrae te eis wat die kunsteraad hulle aanvanklik belowe het.

“Ons besef ons is ongelooflik gelukkig om in ’n posisie te wees waar ons volgens wet ons voet kon neersit, maar ons hoop die beslissing laat ander toe om ook hul stem dik te maak en die uitslag (van die hofsaak) te gebruik om hul eie sake te versterk.

“Ons hoop dit bring ’n keerpunt met betrekking tot die bestuur van en aanspreeklikheid vir die kunste, ook dat dit verseker dat kunstenaars kry waarop hulle geregtig is.”

Die kunsteraad se nuwe direksie, waarvan die termyn op 1 Januarie begin het, het toe op ’n omstrede ommeswaai besluit: om bloot die kontrakte te wysig, al het hulle erken dit is onwettig.

Netwerk24 het reeds breedvoerig berig dat die kunsteraad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) R300 miljoen ontvang het met die opdrag om dit aan kunstenaars uit te deel.

Die kunsteraad het kunstenaars genooi om vir ’n breukdeel van die geld aansoek te doen; hulle het eindelik 1 374 aansoeke goedgekeur. Nadat hulle kontrakte met 613 van dié begunstigdes – insluitende die Nasionale Kunstefees – gesluit het, het hulle besef hulle het weens ’n “wiskundige fout” te veel geld aan elke begunstigde uitbetaal en dat hulle nie eintlik enige geld vir die oorblywende 761 begunstigdes oor het nie.

Die kunsteraad se nuwe direksie, waarvan die termyn op 1 Januarie begin het, het toe op ’n omstrede ommeswaai besluit: om bloot die kontrakte te wysig, al het hulle erken dit is onwettig, en vir elkeen van die 613 begunstigdes tot 70% minder te gee as wat hulle aanvanklik belowe is, in ’n poging om te verseker dat al die begunstigdes ten minste iets kry.

Dít het tot ongelukkigheid, ’n sitstaking van 60 dae in die kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, en ’n hofgeding met die Nasionale Kunstefees gelei. Die kunstefees se hof-oorwinning baan nou die weg vir die ander begunstigdes om ook in die hof die geld te eis wat die kunsteraad aanvanklik aan hulle belowe het.

Tshepo Mashiane, ’n direksielid van die kunsteraad en hul woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê hulle bestudeer Lamont se uitspraak en sal hul kommentaar daaroor later in ’n amptelike verklaring verwoord.

Meer oor:  Tshepo Mashiane  |  Monica Newton  |  Pesp  |  Nasionale Kunstefees  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac  |  Naf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.