Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars sitstaak oornag in kunsteraad-kantoor

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het by monde van Julie Diphofa, sy waarnemende hoof, erken dat hy lelik drooggemaak het met die toekenning van noodfinansiering aan Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Nasionale Kunsteraad
Die Nasionale Kunsteraad sê groot foute is met die toekenning van noodfinansiering begaan.

Diphofa het Woensdag met sowat 15 kunstenaars in die NAC-kantore in Newtown, Johannesburg, vergader nadat die operasangeres Sibongile Mngoma Maandag ’n sitstaking in die einste kantoor van stapel gestuur het. Sy het boonop Woensdagaand in die kantoor oornag.

Mngoma het dit gedoen om haar stem dik te maak oor R300 miljoen se noodfinansiering wat die raad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het en wat hulle veronderstel was om teen Desember reeds aan kunstenaars uit te betaal.

Hoewel kunstenaars se sakke teen 17 Februarie nog leeg was, het die kunsteraad uiteindelik op 24 Februarie teen ’n slakkepas met uitbetalings begin en teen Woensdag glo R27,8 miljoen uitgedeel – dít ondanks die feit dat die finansiering bedoel was vir kunsteprojekte wat op 15 Maart ten einde moes loop.

Hoewel Mngoma Maandag van 09:00 tot rondom 18:00 botweg geweier het om die NAC-kantore te verlaat totdat sy ’n lys sien van al die kunstenaars wat suksesvol vir dié finansiering aansoek gedoen het én hoeveel die kunsteraad aan elke begunstigdes verskuldig is, is sy eindelik deur dr. Sipho Sithole, een van die direksielede, oortuig dat sy dié lys Dinsdag sou kry; sy is daarom met leë hande huis toe.

Toe sy dié lys nog nie teen Dinsdag om 17:00 ontvang het nie, het sy Woensdag om 09:00 saam met ’n handvol rolspelers in die kunstebedryf na die NAC-kantore teruggekeer om die sitstaking voort te sit.

’n Skermgreep van die vergadering waarin Julie Diphofa, waarnemende hoof van die Nasionale Kunsteraad, met die kunstenaars vergader het. Foto: Facebook

Diphofa het hulle egter verras toe sy met hul aankoms die raadsaal se deure “baie vriendelik” vir hulle oopgeswaai en ernstig gesels het oor die foute wat begaan is – foute wat Sondag daartoe gelei het dat die direksie die kunsteraad se hoof, Rosemary Mangope, en die finanshoof, Clifton Changfoot, hangende ’n ondersoek oor die kwessie geskors het.

“Wat basies gebeur het, is dat daar ’n groot ophef, druk en opwinding oor ons taak was om geld in die sektor in te spuit – maar daar was ’n blindekol wat ons nie gesien het nie: Ons geld was op,” het Diphofa gesê. Die vergadering is regstreeks op die Im4theArts-beweging se Facebook-blad uitgesaai.

Netwerk24 het vroeër berig dat die raad 2 486 aansoeke vir dié finansiering in twee strome ontvang het, waarvan 406 uit die staanspoor afgekeur is. Nadat ’n paneel die oorblywende 2 080 aansoeke beoordeel en 1 374 aansoeke goedgekeur het, is kontrakte met 613 van dié begunstigdes gesluit, voordat die kunsteraad besef het die R300 miljoen is op – en dat daar nie meer geld vir die oorblywende 761 suksesvolle aansoekers oor is nie.

Diphofa sê dié wiskundige fout sou nie gebeur het as die verwerking van al die aansoeke “foutloos” afgehandel is nie.

Toe Mngoma haar vra wat sy daarmee bedoel, het Diphofa gesê sy sal “oop kaarte speel.

Sommige begunstigdes is meer geld toegeken as waarvoor hulle aansoek gedoen het.
Julie Diphofa, NAC-hoof

“Aan sommige begunstigdes is meer geld toegeken as waarvoor hulle aansoek gedoen het. Iemand het byvoorbeeld aansoek gedoen vir R350 000 sodat hy 140 werkgeleenthede kan skep. Ons weet jy het baie meer geld nodig om 140 werkgeleenthede te skep, so die direksie het besluit om meer geld toe te ken sodat al dié werkgeleenthede werklik geskep kan word.”

Hulle het ook aansoeke goedgekeur wat nie aan al die vereistes voldoen het nie. Sommige aansoeke het, byvoorbeeld, ’n identiteitsdokument ingesluit wat nie gesertifiseer is nie of ’n verwysing wat nie geteken is nie, hoewel dit vereis is. Sy sê die raad het besluit om in dié gevalle klein toegewings te maak en die aansoeke desondanks goed te keur.

“Dít het ongelukkig ons toewysing (van die finansiering) opgestoot, wat tot die uitputting van ons begroting gelei het,” het Diphofa gesê. Sy het ook erken hulle “was verkeerd.

“Ons moet pa staan vir die foute wat ons gemaak het. As die hele proses foutloos was, sou ons nie ’n probleem gehad het nie, maar in die konteks van alles wat verloop het, moes ons die hele proses staak en dit weer nagaan.”

Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Netwerk24 het vroeër berig dat die kunsteraad se direksie aangekondig het dat die kunsteraad bestaande kontrakte met kunstenaars bloot gaan verbreek en voortaan nie meer as R10 895 aan enige kunstenaar gaan toeken nie, ondanks ’n belofte dat kunstenaars onderskeidelik R16 600 en R25 000 sal kry, afhangende van die stroom waarin hulle aanvanklik aansoek gedoen het.

Hieroor was kunstenaars boos, veral dié wat reeds met hul kunsteprojekte begin en ander kontrakte aangegaan het om hul projekte te realiseer.

Diphofa moes weens ander verpligtinge die vergadering verdaag voordat eenstemmigheid bereik kon word oor die beste pad vorentoe.

Mngoma het gesê sy gaan nie die NAC-kantore verlaat totdat die kwessie opgelos is en al die begunstigdes kry wat hulle kontraktueel belowe is nie.

Sy het Donderdagoggend aan Netwerk24 bevestig dat sy en ’n handvol kunstenaars in die kantoor oornag het.

“Ons het hier geslaap. Ons is hier. Ons gaan nêrens.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.