Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Minister sê jammer aan kunstenaars

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Maandag “onvoorwaardelik om verskoning gevra” vir die Nasionale Kunsteraad (NAC) se wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering.

Nathi Mthethwa Foto: Getty Images

Mthethwa het op ’n mediakonferensie in Pretoria verduidelik sy departement het in September verlede jaar R665 miljoen ontvang as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP). Hy het R300 miljoen daarvan aan die kunsteraad toevertrou met die opdrag om dit aan kunstenaars uit te deel. Dié taak is egter steeds nie voltooi nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat die kunsteraad weens ’n “wiskundige fout” meer aansoeke goedgekeur het as wat hy werklik kon finansier. Daarby het sommige aansoekers meer geld gekry as waarvoor hulle aansoek gedoen het, terwyl ander aansoeke goedgekeur is ondanks die feit dat dit nie aan die vereistes voldoen het nie.

Die kunsteraad het kontrakte met 613 van die 1 374 begunstigdes gesluit voordat hy besef het die R300 miljoen-noodfonds is uitgeput. Die kunsteraad se direksie het toe ingespring en besluit om bloot die kontrakte te wysig, al is dit onwettig, sodat al die begunstigdes ten minste iets kry.

Dié stap het onder meer tot ’n sitstaking gelei wat deur die operasangeres Sibongile Mngoma begin is. Mngoma het Maandag reeds 26 nagte in die kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, oornag om teen die debakel te betoog. Sy het voorheen gesê sy sal tot dag 700 daar bly as dit nodig is vir kunstenaars om te kry wat hulle toekom.

Ek wil ’n onvoorwaardelike en vaste belofte maak dat diegene wat vir hierdie growwe nalatigheid verantwoordelik is, aan die pen sal ry.
Nathi Mthethwa

Mthethwa het Maandag verantwoordelikheid vir dié lelike nadraai aanvaar.

“As die minister wat eindelik daarvoor verantwoordelik is om hierdie onaanvaarbare dilemma reg te stel, wil ek eerstens onvoorwaardelik om verskoning vra (aan kunstenaars) wat deur ’n instelling in die steek gelaat is wat ek geglo het die taak kon afhandel. Ek het die NAC vertrou om broodnodige verligting te bring in ’n tyd van ekonomiese kwesbaarheid weens die staat van inperking weens Covid-19.

“Ek wil ’n onvoorwaardelike en vaste belofte maak dat diegene wat vir hierdie growwe nalatigheid verantwoordelik is, aan die pen sal ry.”

Mthethwa het gesê dat hy by die tesourie vir meer geld aangeklop het om die penarie op te los, maar hulle het sy versoek weens die ekonomiese klimaat afgekeur.

Netwerk24 wou by Mthethwa weet waar hy volgende gaan aanklop om geld in die hande te kry, maar hy het nie die vraag beantwoord nie.

Hy het wel ’n forensiese oudit aangekondig om die kwessie van hoek tot kant te bekyk – ’n ondersoek wat die kunsteraad se direksie eintlik reeds op 17 Maart aan Netwerk24 bevestig het.

Vusithemba Ndima, die departement se waarnemende direkteur-generaal, het gesê hulle kan nie in dié stadium sê hoe lank die ondersoek gaan duur nie, maar hulle wil dit so spoedig moontlik afhandel.

Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, hul finanshoof, bly hangende die ondersoek geskors.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.