Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nathi vra taakspan hoe hy kunstenaars moet help

Die departement van sport, kuns en kultuur (DSAC) het aangekondig dat Nathi Mthethwa, minister van die departement, ’n taakspan saamgestel het wat hom van raad moet bedien oor die stappe wat hy moet doen om die nood te verlig van kunstenaars in die land.

Nathi Mthethwa Foto: Getty Images

Luidens ’n mediaverklaring het sy departement weens die impak van die Covid-19-pandemie op kunstenaars se lewensbestaan reeds drie rondes noodfinansiering beskikbaar gestel én in samewerking met die departement van kleinsakeontwikkeling (DSBD) en die Solidariteitsfonds projekte van stapel gestuur.

“Hoewel duisende kunstenaars hieruit voordeel getrek het, is dit duidelik dat daar nog baie ander is wat nié het nie,” lui die verklaring.

“Die minister het daarom die taakspan saamgestel uit leiers in talle portefeuljes in die kreatiewe sektor in ’n poging om saam met die sektor minlike oplossings te vind.”

Die taakspan bestaan uit China Mpololo, president van die South African Music Industry Council (SAMIC); Gabi le Roux, hoofsekretaris van die Vakbond vir Suid-Afrikaanse Musikante (Tumsa); Joy Mbewana, president van die Federasie vir Kulturele en Kreatiewe Bedrywe in Suid-Afrika (CCIFSA); Lara Foot, hoof van die Baxter-teater in Kaapstad; Nozipho Nguse-Dlamini, president van die Cstahood-kunstestigting; Sharif Baker, voorsitter van die Southern African Communications Industries Association (SACIA); en Thobela Dlamini van die South African Creative Practitioners in Unity Forum (SACPU). Baker is as die sameroeper aangewys.

Elke lid van die taakspan sal op minstens een van vyf “strome” fokus:

  • Baker en Mpololo gaan hulle toespits op stroom 1, naamlik banksake en verhuurders. Die doel is om met die finansiële sektor in gesprek te tree oor maniere om kunstenaars tegemoet te kom, soos betalingsvakansies.
  • Stroom 2, algemene welstand, is Mbewana en Nguse-Dlamini se verantwoordelikheid. Hulle sal met die departement en diensverskaffers saamwerk om welstand-intervensies aan kunstenaars te bied.
  • Le Roux en Foot sal saam na stroom 3, skoolfondse, en stroom 4, kleinhandel en vervoer, kyk. Die doel van dié portefeuljes is om onder meer oplossings voor te stel wat sal verseker dat kunstenaars se kinders nie verhoed word om skool toe te gaan omdat hul skoolgeld nie betaal is nie.
  • Dlamini sal op sy eie omsien na stroom 5, die private en korporatiewe sektor. Sy fokus sal wees om skenkings en borgskappe te kry sodat kunstenaars kos op die tafel kan sit.

Luidens die verklaring sal dit ook die taakspan se verantwoordelikheid wees om tussengangers te wees tussen die departement en die nege sektore in die plaaslike kunste-en-kultuur-bedryf.

Gabi le Roux Foto: Facebook
Lara Foot Foto: Argief

Le Roux sê aan Netwerk24 hy was glad nie verbaas toe hy genader is om lid van die taakspan te wees nie omdat hy en Mthethwa danksy Mbewana die afgelope paar weke in verbinding was.

“Toe ek gevra is om lid van die taakspan te wees het ek gesê dit is ’n wonderlike idee.

“Ek kry die idee die minister wil nou na ons luister, en as die persoon met wie jy voorheen nie kon ooreenkom nie jou nooi om te sit en te gesels, moet jy die geleentheid aangryp om te sê: Kom ons gesels, ek sal jou my eerstehandse kennis en ervaring oor die afgelope vier dekades gee, en dit sal natuurlik fantasties wees as jy die raad wat ek jou gee, implementeer.

“Ek sien werklik daarna uit om deur die taakspan ’n bydrae te lewer.”

Foot sê op haar beurt sy “weet regtig nie” of die taakspan ’n stap in die regte rigting is nie.

“Al wat ek kan sê, is dat ek ’n verskil sal maak as ek kan; indien nie, sal ek my onttrek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.