Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
New Breed-kompetisie aanvaar nou ook digitale kuns

Digitale kuns, oftewel videokuns, kan nou ook ingeskryf word vir die New Breed-kompetisie vir Vrystaatse kunstenaars. Die kompetisie word vanjaar die vyfde keer aangebied.

Magdel Louw, die koördineerder, het op die bekendstellingsgeleentheid op Zoom gesê ’n bykomende aanwins vir die kompetisie is die toetrede van die vennote Art Bank of South Africa en die Free State Art Collective/Kunskollektief. Die Oliewenhuis-kunsmuseum is, soos vorige jare, weer betrokke by die kompetisie, wat deur die prokureurspraktyk Phatshoane Henney in die lewe geroep is.

Neo Theku, die wenner van die New Breed-kunskompetisie in 2019, by sy inskrywing ‘Suicide Mask’. Foto: Verskaf

Die doel van die kompetisie is om nuwe en opkomende kunstenaars blootstelling te gee sodat hulle ’n bestaan uit hul kuns kan maak.

Die enigste jaar wat New Breed nie gehou is nie, was in 2020 weens die koronaviruspandemie.

Geldpryse van altesaam R100 000 kan gewen word, waarvan die algehele wenner ’n hele R50 000 in sy/haar sak steek. Die naaswenner ontvang R20 000 en twee merietewenners, asook die publiek se keuse, kry R10 000 elk.

Louw sê enige medium is welkom, net nie performance-kuns nie. Hoewel geen tema voorgeskryf word nie, moedig sy kunstenaars aan om hul emosies, ervarings en die veranderings en gevolge van die afgelope tyd uit te beeld. Dit kan in enige medium geskep word, van fotografie, beeldhouwerk, tekstiel, tekenkuns, skilderye tot grafiese kuns en die gewilde hedendaagse digitale kuns.

“Dink net wat het ons almal onlangs deurgemaak, waar bevind ons ons nou en waarheen is ons op pad. Was dit traumaties, het dit innerlike groei meegebring, dalk verligting of verryking? Nie net die uitwerking van Covid-19 op ons lewe nie, maar die lewe in die algemeen bied ’n legio aspekte wat deur kuns uitgedruk kan word,” sê Louw.

Toni Pretorius, die eerste wenner van die New Breed-kompetisie, by haar wenwerk, ’n installasie van porselein met die titel ‘Amassing for our Carrion King’. Foto: Netwerk24

Sy het ook op die voordele van die nuwe vennote gewys.

ArtbankSA bied aan kunstenaars wie se werke vir die uitstalling gekeur word, verdere blootstelling deur dié organisasie se aankope en die uitstallings wat onder sy vaandel gehou word. ’n Slypskool vir die ontwikkeling van die kunstenaars se vaardighede is nog ’n rede om vir die New Breed-kompetisie in te skryf.

Karen Brusch, hoof van die Vrystaat Kunskollektief, sê alle kunstenaars wie se werk vir die uitstalling in Oliewenhuis gekies word, sal outomaties oorweeg word om by die organisasie aan te sluit. Om deel te wees van die kollektief, hou talle voordele in vir die ontwikkeling van ’n kunstenaar se loopbaan.

“Alle kunstenaars wat ernstig is oor hul loopbaan, skryf in vir kompetisies omdat dit bydra tot die ontwikkeling van hul kunsvaardighede, dit bied erkenning as ’n kunstenaar en hul werk kry waardevolle blootstelling,” sê Brusch.

“Vertel jou unieke storie of dit waaroor jy passievol voel en jy sal ’n kunswerk hê om in te skryf.”

Die vorige New Breed-wenners is Neo Theku (2019), Nkululeko Nkebe (2018), Mandi-Anne Bezuidenhout (2017) en Toni Pretorius (2016).

Reëls en belangrike datums

Alle werke moet tussen 1 Januarie 2020 en 13 September 2021 geskep wees.

Kunstenaars van 18 jaar en ouer wat in die Vrystaat woon, mag inskryf.

Inskryfvorms is te kry op die webwerf www.newbreedart.co.za of by Phatshoane Henney se kantoor in Markgraaffstraat 35 of by die Oliewenhuis-kunsmuseum. Lees dit noukeurig deur om uit te vind of jy vir die kompetisie kwalifiseer.

Inskrywings moet van 13 tot 19 September by Oliewenhuis ingehandig word.

Die kunstenaars wie se werke vir die uitstalling gekeur word, sal op 29 September verwittig word.

Die uitstalling duur van 5 Oktober tot 14 November.

Die wenners word op 4 November aangekondig.

Die publiek kan deelneem deur vir hul gunstelingwerk of -kunstenaar te stem. Besoek die amptelike webwerf www.newbreedart.co.za en help om die wenner van dié R10 000 te bepaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.