Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
New Breed-wenners se werk ook virtueel te sien
Die New Breed-wenners van 2019 wat tans hul nuutste portefeuljes uitstal, is van links Bokang Nkejane en Miné Kleynhans (merietewenners), Neo Theku (algehele wenner), Bongani Tshabalala (publiek se gunsteling) en Kay Fourie (naaswenner). Foto: Eye Poetry Photography

Ná agt maande se harde werk aan ’n nuwe portefeulje van kunswerke is die wenners van verlede jaar se New Breed-kompetisie gereed om hul kuns aan die wêreld te vertoon.

Dié werke kan in Phatshoane Henney se prokureurskantoor in Bloemfontein besigtig word, terwyl dié wat nie so bevoorreg is om dit eerstehands te beskou nie die driedimensionele virtuele uitstalling kan besoek.

Phatshoane Henney bied die kompetisie in samewerking met die Oliewenhuis-kunsmuseum aan.

Magdel Louw, die koördineerder van die kompetisie, sê die bekende kunstenaar Pauline Gutter en Karen Brusch, die stigter van die Free State Art Collective, het op die moeilike manier deur Zoom-sessies die kunstenaars van raad bedien in die skep van die werke.

Die voordeel van die ongewone omstandighede weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls is dat die werke vir mense tot in die uithoeke van die wêreld toeganklik is, sê Louw.

Die kunstenaars, wat altesaam 25 werke gelewer het, is Neo Theku (algehele wenner), Kay Fourie (naaswenner), Miné Kleynhans en Bokang Nkejane (merietewenners) en Bongani Tshabalala (publiek se gunsteling).

Theku lewer met digitale drukwerk op aluminium kommentaar op die psige van die man, asook onbehandelde depressie in veral die swart gemeenskap. Dit blyk uit sy werk dat die probleme tot geslagsgeweld lei wat meebring dat kinders in gewelddadige huishoudings grootword.

Tshabalala fokus in sy digitale fotografiese werk op dieselfde dilemma.

’n Hoogtepunt van die uitstalling is Fourie se massiewe installasie wat uit 29 vlermuise van harpuis bestaan. Dit beeld die indringing van die mens in die ekostelsel uit en lewer ook kommentaar op die “misplaaste blaam” op vlermuise as die oorsaak van die Covid-19-uitbreking.

Fourie stal ook verskeie “verwikkelde en visueel treffende” houtskooltekeninge oor ander onderwerpe uit.

Kleynhans se kleurryke beeldhouwerke handel oor sosiale interaksie – kodes, intellektualisme en emosies – wat ’n speelse element aan die uitstalling verleen.

Nkejane se unieke styl gee stof tot nadenke hoewel dit ook ’n ligter element het.

Die uitstalling duur tot 31 Oktober en kan aanlyn besoek word by www.newbreedart.co.za of weekdae van 08:00 tot 17:00 by Phatshoane Henney, Markgraaffstraat 35, Westdene, Bloemfontein.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.