Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nog hulp vir SA se kunstenaars
Die plaaslike kunstebedryf het in Maart vanjaar tot stilstand geknars. Baie kunstenaars verdien sedert Maart geen inkomste nie.

Die Covid-19-pandemie het die uitvoerende kunste wêreldwyd hard getref. Ook die plaaslike kunstebedryf het tot stilstand geknars met die verbod op openbare byeenkomste en die sluiting van alle teaters en openbare plekke.

Voor en agter die skerms is daar min of geen vooruitsig op ’n inkomste in die komende maande nie. Die kunstebedryf in Suid-Afrika is hoofsaaklik ’n vryskutomgewing en baie kunstenaars en tegnici het werkgeleenthede weens die pandemie verloor.

Die Tribuo-fonds is ’n inisiatief om die uitvoerende kunste in hierdie uitdagende tye ’n hupstoot te gee. Tribuo, Latyns vir “ek gee”, bied ’n geleentheid om ’n belegging in Suid-Afrika se uitnemende kunstenaars te maak, luidens ’n mediaverklaring.

Die niewinsgewende maatskappy is gestig in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, NATi) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en die US Woordfees) om vryskutkunstenaars te ondersteun.

Die fonds is afhanklik van steun van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen. Bydraes kan deur individue, korporatiewe maatskappye of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A-belastingkorting-sertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

“Die onderskeie vennote en rolspelers het die ekstreme nood van ons kunstenaars asook ander rolspelers in die bedryf raakgesien en besef daar sal iets gedoen moet word. Feeste en teaters moet fokus op infrastruktuur en die groter bedryf. Maar daar is nood onder die individuele kunstenaars en daar is ’n behoefte om hulle te help. Die publiek wil graag ’n rol speel en kunstenaars ondersteun, maar is nie altyd seker hoe nie. Die antwoord lê ook nie daarin dat alle inhoud nou aanlyn beskikbaar moet wees nie - dit voorsien nie ’n volhoubare inkomste vir ons kunstenaars en ook nie ons tegniese rolspelers nie. Ons hoop dat ons sakevennote in die land, en die publiek sal hande vat en ons kunstenaarsgemeenskap sal omarm. Want ons het dit nou broodnodig,” het Cornelia Faasen van NATi gesê.

Bydraes kan anoniem gedoen word, of skenkers kan erkenning daarvoor kry. Kontak info@tribuo.co.za vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede.

Kunstenaars kan van 6 Julie aansoek doen vir bystand. Die toekenning van die geld sal deur ’n paneel van onafhanklike bedryfskundiges hanteer word.

Wie kan aansoek doen?

• Suid-Afrikaanse burgers of permanente Suid-Afrikaanse inwoners.

• Vryskut- uitvoerende kunstenaars soos akteurs, musikante, dansers, tegnici, skrywers, regisseurs, choreograwe en ander personeel wat dit moontlik maak om werk op die planke te bring.

• Mense wat nie op enige gereelde, kontrak- of termyn-kontrakgrondslag in diens geneem is deur enige organisasie, instansie of produksiehuis nie.

• Mense wat kan bewys dat hulle op 15 Maart 2020 aanbiedinge of werkkontrakte onderteken het vir die tydperk 15 Maart tot 31 Desember 2020 wat intussen gekanselleer of uitgestel is; of wat kan toon dat verdere werkgeleenthede in 2020 onwaarskynlik is,

• Wat ernstige finansiële nood weens die pandemie ervaar.

• Wat die afgelope drie jaar aan minstens twee produksies by ’n erkende kunstefees deelgeneem het.

OF

• Deelname aan ’n minimum van drie produksies gedurende die afgelope drie jaar by ’n teater kan toon.

OF

• Deelname kan toon aan minstens twee plaaslik vervaardigde flieks en TV-reekse.

• Nie ’n heeltydse werknemer, bestuurslid, direkteur, beampte of onmiddellike familielid van enige van die fonds-vennote is nie.

• Nie gedurende die afgelope drie maande hulptoelae van meer as R10 000 ontvang het nie; en

• ’n SAID-belastingnommer kan verskaf en belastingnakomingstatus kan aandui.

Die stigterslede (en -organisasies) van die Tribuo-fonds skenk hul dienste gratis, met geen verwagtinge van betaling deur die fonds nie. Die interimbestuurskomitee bestaan uit Meiring, Faasen, dr. Leslie van Rooi (Universiteit Stellenbosch) en verteenwoordigers uit die feesteomgewing en ander rolspelers uit die bedryf.

PwC is as ouditeur van die fonds aangestel. Besoek: www.Tribuo.co.za.

Meer oor:  Kunste  |  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.