Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nuwe kunsboeke: Illustrasie en insig

Boeke oor kuns verskyn met ’n ingeboude afwagting. En daar is ’n paar goeie nuwes op die rak.

Footnotes for the panther.

Vir die kunsliefhebber is daar die vooruitsig dat die publikasie ’n nuwe kollig op iets van die kunstenaar of die werk sal laat val. Of dalk ’n goeie agtergrondstorie of bietjie nuwe insig of toeligting sal bring. Omdat dit oor kuns gaan, is daar ook die vooruitsig van treffende visuele afbeeldings. Met ander woorde: as ons nie die galery of museum kan besoek nie, kan ons die prente bewonder.

Sodanige boeke kan ook wissel van spoggerige “koffietafel”-aard tot prestige-drukversorging. ’n Mooi boek bly ’n mooi boek.

Agt jaar gelede het die bekende kunsboekuitgewer Phaidon met The Art Museum vorendag gekom. Dis ’n bielie van ’n boek met net onder ’n duisend groot-groot bladsye met 2 700 kunswerke presies afgebeeld. Jy kan hom nie met een hand optel nie. By wyse van spreke jou koffietafel-kunsmuseum.

Wat ons wel in hierdie dae graag optel en versigtig, blad na blad bespied, is die nuwe boek oor Kaapstad se legendariese kleurvolle kunskaraker. Irma Stern: Are You Still Alive is deur die bekende kunshistorikus Sandra Klopper uit persoonlike briewe tussen die kunstenaar en twee goeie vriende saamgestel.

Klopper se navorsing is deeglik en openbarend. Die illustrasies is voortreflik. En die vreemde, bisarre voorblad is net die ding om aandag op die koffietafel te trek.

Die briewe wat Stern tussen 1934 en die jaar van haar dood, 1966, aan haar vriende Richard en Freda Feldman geskryf het, word as’t ware Stern se eie stem as verteller oor haar kuns, reise en waarnemings. Dis wonderlik persoonlik en ’n priemende refleksie van haar ego asook eksentrieke visie op die wêreld, maar ook meelewend intiem.

Art and Justice

Die grondwethof in Johannesburg is amper die eweknie van ’n kunsmuseum. Die gebou self is ’n wonderlike argitektoniese stelling van die plek se doel en geskiedenis. Daar is ’n pragboek Light on a Hill van 2006 wat hierdie storie boekstaaf. Van meet het die grondwetregters besluit dat kuns, goeie en opvallende kuns, die ruimtes sal laat leef.

Pas is die pragboek oor dié kuns herdruk. Art and Justice: The Art of the Constitutional Court of South Africa vertel en demonstreer hoe hierdie groot versameling kunswerke byeengebring is. Wat die boek so besonder maak, is dat baie van die kuns in sito in die mooi gebou gefotografeer is. Die kuratoriale versorging is opvallend en die pragfoto’s weerspieël die lewendige ruimtes.

Soos almal weet, is oudregter Albie Sacks die een wat daardie kunswiel aan die rol gesit het. Saam met sy regter-kollega Yvonne Mokoro het hy kunstenaars genader om deel te wees van die projek. Byna al die kunswerke is skenkings danksy Sacks se jarelange belangstelling en ondersteuning van plaaslike kuns. Hy vertel die storie self in die boek en dis boeiend. En as jy nog nie self daar was nie, is die boek se prente openbarend.

Van ’n ander aard is die nuwe, meer akademiese publikasie Public Art in South Africa Bronze Warriors and Plastic Presidents deur Kim Miller en Brenda Schmahmann.

Irma Stern

Die gestry oor monumente (dink #RhodesMustFall) het in Suid-Afrika ongewone en lewendige debatte ontlok. Daar is daardie bronshelde van die koloniale era en dan is daar die nuwe soort vir onlangse leiers, waarvan party esteties bra halfhartig is.

Saam met die twee redakteurs tob verskeie internasionale medewerkers oor dié veranderende kulturele situasie in Suid-Afrika. Standbeelde en monumente kom onder die loep, maar ook ander kunsmaniere van verering en huldiging, en hoe dié deesdae in die openbaar uitspeel.

Die vrae gaan oor hoe openbare visuele uitdrukking geskiedenis en herinnering uitbeeld. Ook hoe dit eietyds gesprekke oor ras, geslag en identiteit kan aanmoedig, uitdaag of besweer.

Dit is ’n skitterende, ernstiger boek vir diegene wat hoop daar is nie nog ’n Madiba-in-brons op die dorpsplein nie.

Art in the age of planetary civle war.

Nie alle kunstenaars kan goed gesprek voer oor hul kuns, filosofie of werksmetodes nie, maar ons superster William Kentridge is ’n man wat uiters vaardig met woorde is. Soveel so dat die splinternuwe Footnotes for the Panther: Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson jou van begin tot einde intrek.

Die rede is dat dit soos ’n lewendige en verhelderende onderhoud lees. Inderdaad is die prag-publikasie ’n transkripsie van tien gesprekke tussen Kentridge en sy vriend, die letterkundige en skrywer Denis Hirson.

Dit begin in Junie 2010 toe die twee saam in die openbaar gesels het tydens die opening van Kentridge se oorsig in Parys by die Jeu du Paume-mu­seum. Later privaat en andersins het hulle die gesprek oor die ingewikkeldhede rondom kuns, hul gesamentlike agtergrond as jong Johannesburgers en die uniekheid van Suid-Afrika as inspirasie vir beide se werk, voorgesit.

Soos bogenoemde boek oor Irma Stern, is hierdie intieme gesprek verhelderend en boeiend.

Bogenoemde publikasies oor kuns verteenwoordig ’n paar van die uitstekende boeke wat in alle opsigte aan hul eie verwagtings voldoen.

  • Uitgewers: The Art Museum (Phaidon); Irma Stern: Are You Still Alive (Orisha Publishing); Art and Justice (David Krut); Public Art in South Africa Bronze Warriors and Plastic Presidents (Indiana University Press); Footnotes for the Panther (Fourth Wall).
Meer oor:  Boeke  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.