Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Nuwe seisoen het vir Esté Mostert aangebreek
Turning of Season (olie op doek, 58 x 40 cm) deur Esté Mostert.

’n Nuwe omgewing, vars energie en inspirerende omstandighede spreek uit Esté Mostert se eerste uitstalling in baie jare in Bloemfontein.

Dié skilderkunstenaar woon nou op ’n plaas naby Kestell waar “die lug silwerskoon is en geen stof neersif nie”. Wat daar wel is, is ’n deinserigheid wat sy pad deur haar kwas na die tonele op haar skilderdoek vind.

“My werke is steeds ’n romantisering van die werklikheid, en hoewel my omgewing verander het, probeer ek dit steeds universeel hou,” sê sy.

’n Ander aansig is tog opvallend en is volgens haar die wegbeweeg van gemengde media op ryspapier na meestal olieverf op doek.

Nog ’n verskil wat ’n mens oplet, is die vrouefigure wat ’n uitstaande kenmerk van Mostert se vroeëre werk is. “Hulle is steeds daar, maar nie altyd meer sentraal nie en ek vul hulle deesdae ook met ander figure aan.

“Ek het my lewe weer in balans gekry en is nou meer volwasse, dus neem die vrou nie noodwendig meer die hele ruimte in beslag nie.”

Hoe meer figure sy skilder, hoe meer is Mostert op die interaksie tussen hulle gesteld, wat nie beteken dat daar nie ook tonele van “stille samesyn” onder die 35 skilderye op uitstalling is nie.

Flute Music(olie op doek, 62 x 75 cm) deur Esté Mostert is onder die 35 skilderye wat sy tans in Bloemfontein uitstal.

Mostert sê met die rustigheid van iemand wat ’n vaste holte vir haar voet gevind het op die “mooi Oos-Vrystaatse plaas met ’n fontein, ’n stroompie en ’n dam, eende, ganse en skaduryke bome” wat in die nuutste versameling skilderye voorkom, maar wat “kreatief aangepas” is.

Die agtergrond in haar skilderwerk is inderdaad nuut, die lig is sagter en sy neig meer na pastelkleure.

Mostert se man, Johan van Biljon, “wat niks van kuns weet nie, maar wie se hande vir niks verkeerd staan nie”, het die melkstal op die plaas in ’n ateljee omskep waar sy skilder, kunsklasse gee en gereeld slypskole aanbied. “Dis die beste ateljee wat ek nóg gehad het,” sê sy.

Vroeë jareMostert het in Kroonstad grootgeword en van 1979 tot 1983 kuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer. Haar eerste pos was as taksidermis in die Nasionale Museum in Bloemfontein.

’n Ruk later het sy ’n raambesigheid gekoop en toe open die Ons Stad-kunsmark in Koningspark, ’n “wonderlike platform wat vir baie kunstenaars ’n afspringplek was. Daar het ons ons klandisie opgebou en wyer bekend geraak.

“Ek glo elke era het ’n platform, jy moet dit net identifiseer. Soos vir die meeste kunstenaars is my nuutste platform die internet.”

Haar werk word egter ook in galerye oor die land heen uitgestal.

Mostert het later ’n galery en ateljee by hul huis ingerig, maar ná 35 jaar haar tentpenne in Bloemfontein opgetrek. Sy het twee jaar in Parys gewoon voordat sy die permanente heenkome op die plaas by Kestell gevind het.

Haar grootste strewe nou is ’n verdieping in haar werk: “Ek wil kyk wat ek uit die omgewing kan haal wat ek nog nie gesien het nie,” verduidelik sy.

Stimulasie is ook vir haar belangrik en dit kry sy uit die kunsklasse en slypskole wat sy gee, hoewel dit eintlik ’n middel is waar sy die kennis wat sy oor jare opgebou het, met ander kan deel. Mostert straal behoorlik van plesier wanneer sy foto’s van haar studente se werk wys, sy erken min dinge klop die bevrediging wat onderrig bied.* Mostert se werke in haar Nuwe Seisoen-uitstalling kan van 18 tot 21 September in die Kotzé-kunsgalery in Dan Pienaar in Bloemfontein besigtig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.