Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
OB wil nou ingryp by sitstaking by kunsteraad

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), gaan haar moue oprol en self ’n poging aanwend om ’n geskil oor noodfinansiering tussen die Nasionale Kunsteraad (NAC) en ’n groep sitstakers op te los.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Die geskil hou direk verband met die wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering wat die kunsteraad verlede jaar as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het.

Die kunsteraad was veronderstel om die geld reeds in Desember aan kunstenaars uit te betaal sodat hulle kunsteprojekte kon skep wat teen 15 Maart ten einde moes loop. Die kunsteraad kon egter weens ’n “wiskundige fout” teen Donderdag nog net sowat R198,8 miljoen aan 1 229 begunstigdes uitdeel.

Dít het kunstenaars landwyd rooi laat sien en die operasangeres Sibongile Mngoma op 3 Maart genoop om ’n sitstaking in die kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, te begin. Mngoma en sowat 20 ander kunstenaars sal dié sitstaking teen Saterdag reeds vir 60 dae volhou – en hulle beplan om Saterdagaand vir die 60ste keer onder die tafels in die kunsteraad se raadsaal te slaap om teen die kwessie te betoog.

Hoewel die kunsteraad op 9 April ’n interdik bekom het om die sitstakers te verwyder, is dit nooit uitgevoer nie – en dit het Mngoma en die sitstakers ook nie afgeskrik nie. Sy het voorheen aan Netwerk24 gesê sy sal 700 dae sitstaak as sy moet om te verseker dat kunstenaars kry wat hulle toekom.

’n Sitstaking van 700 dae is egter presies wat Mkhwebane wil keer.

Ons wil al die partye om een tafel byeenbring en ’n alternatiewe dispuutoplossing begin om die kwessie oor die vertraging met die uitbetaling van fondse en vrae oor die deursigtigheid van NAC-prosesse op te los
Adv. Busisiwe Mkhwebane, OB

Luidens ’n mediaverklaring het Mkhwebane en haar adjunk, adv. Kholeka Gcaleka, verlede week afsonderlik met Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, asook die kunsteraad se direksie én die sitstakers vergader om oor die kwessie te gesels. Sy wil nou hê al dié partye moet saam vergader sodat hulle van aangesig tot aangesig ’n oplossing kan vind.

“Ons wil al die partye om een tafel byeenbring en ’n alternatiewe dispuutoplossing begin om die kwessie oor die vertraging met die uitbetaling van fondse en vrae oor die deursigtigheid van NAC-prosesse op te los,” sê Mkhwebane.

Sy wil ook die bewerings pak oor van die kunsteraad se direksielede wat glo uit die PESP-noodfinansiering voordeel getrek het.

Die OB het in die mediaverklaring ook weer verwys na ’n omstrede kunsteraad-beleid oor die toekenning en uitbetaling van finansiering wat sy verlede jaar ná ’n ondersoek bevind het ongrondwetlik is. Sy het die kunsteraad 60 dae kans gegee om dié beleid te hersien, maar dit is glo nie gedoen nie.

Mkhwebane het verlede week in haar vergadering met die kunsteraad se direksie glo vir hulle gesê dat hulle nie in hul huidige penarie met die sitstakers sou gewees het as hulle die regstelling toegepas het wat sy verlede jaar in haar verslag aanbeveel het nie.

Die kunsteraad se nuwe direksie, wie se termyn op 1 Januarie vanjaar begin het, het wel vir Rosemary Mangope, die uitvoerende hoof, en Clifton Changfoot, die finansiële hoof, hangende ’n ondersoek oor die PESP-kwessie geskors.

Volgens Tshepo Mashiane, die direksie se woordvoerder, is hulle nog in die proses om ’n derdeparty aan te stel om die ondersoek uit te voer.

• Die sitstakers het intussen in die kunsteraad se kantore ’n nuwe groep bekend as Abahlali gestig en nie net die liedjie “Nathi Must Go” daar gekomponeer nie, maar dit ook daar opgeneem, ’n musiekvideo daar verfilm, en dit aanlyn uitgereik.

Volgens Mngoma het hulle die liedjie geskep om “deur hul kuns” uiting te gee aan dít wat sy die afgelope 60 dae oor en oor gesê het: Mthethwa moet uit sy amp verwyder word en vervang word met iemand wat die nood van kunstenaars in die land begryp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.