Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Oliewenhuis weer oop vir kunskykers

Die deure van die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein is oop en mense kan vir die eerste keer in sewe maande ’n uitstalling in lewende lywe bywoon.

Die oudste werke in die Oliewenhuis-kunsmuseum se permanente versameling is dié drie skilderye van Bloemfontein deur Thomas Baines en die nuutste werk is Noria Mabasa se houtbeeld ‘Born from Fire’ Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum

Nog ’n rede tot vreugde is die uitstalling Creatively Contrasted: New views on the Permanent Collection, wat veel meer tot nadenke bied as wat die titel aandui.

Wil jy sien hoe Bloemfontein in die 1800’s gelyk het, kan jy drie werke van die reisiger-kunstenaar Thomas Baines beskou. Dit is die oudste werke in die Oliewenhuis-versameling, maar die eerste kunswerk wat aangeskaf is, is ’n roerende sepia-ets op papier van Das kranke Kind deur Dörte Berner, geskep in 1942.

Daarteenoor staan meer moderne uitbeeldings, onder meer Jeanette Unite se weerspieëling van die Marikana-slagting in gemengde media en Norman Catherine se skildery Ritual (1985, pastel op paper) wat die tendens van die 1980’s weerspieël, ’n hernuwing van wispelturige beelde met botone van simboliese betekenis.

Die beeldhoukuns sluit in bronsbeelde van Eduardo Villa (Torso, 1968) en Ezrom Legae (Head of a Wise Man) en die mees onlangs aangeskafte beeld, Born from Fire, ’n meesterlike houtkerfwerk deur Noria Mabasa. Haar werke is in verskeie galerye en versamelings in Suid-Afrika te sien, asook in Amerika, Nederland en België.

Links van die gangetjie is die skildery Ritual deur Norman Catherine en die bronsbeelde Head of a Wise Man deur Ezrom Legae (links) en Torso deur Edouardo Villa. Die werk teen die muur heel agter is Elephant peepsite deur Willem H.A. Boshoff. Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum

Die oudste fotografie in Oliewenhuis se permanente versameling is Child with a Replica of a Zulu Hut, Voortrekker Monument, Pretoria, Transvaal, wat die bekende David Goldblatt in 1963 geneem het.

Die mees onlangse foto is van rugbyspelers, getiteld Les Demoiselles d’ Pres Brandstraat, wat die Bloemfonteinse kunsdosent Gerrit Hattingh in 2016 geneem het.

’n Insiggewende groepering in die uitstalling is werke deur kunstenaars van kunstenaars, insluitende selfportrette deur Iris Ampenberger, Walter Meyer, Alexis Preller en Zak Benjamin.

Meer werke van dié kunstenaars is ook te sien.

’n Uitsonderlik kragtige werk is die tweeluik Urban Sanctuary deur Moraloki Lambert en Brigitte Hertell. Hy is ’n beeldhoukunstenaar, sy ’n skilder en saam het hulle dié werk in gemengde media en reliëf op bord geskep.

Daar is ook ’n houtbeeld van Vader Claerhout se gesig deur John Tladi, asook werke deur Claerhout self.

Nog waardevolle insluitings is werke deur Clare Menck, Stefan Ampenberger, Diane Victor, besonderse houtbeelde deur George Ramagaga, Janine Allen, Toni Pretorius, Walter Battiss, asook foto’s van Bloemfontein se Tweetoringkerk lank gelede en meer onlangs.

Al die werke is sedert 1987 aangeskaf, die jaar toe Oliewenhuis as kunsmuseum geklassifiseer is.

Creatively Contrasted kan ook virtueel besoek word by https://issuu.com/oliewenhuisartmuseum/docs/creatively_contrasted_exh_catalogue_oliewenhuis_ar.

  • Besoekers aan Oliewenhuis moet let op die nuwe besoektye: Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 15:00; Saterdag van 10:00 tot 15:00; Sondae gesluit. Die uitstalling duur tot 15 November.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.