Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Onesies ‘breek skanse tussen mense af’

Jy kan Adele Varcoe nie miskyk nie. Sy is die een in die onesie. Of dit ’n troue of ’n piekniek is, of sy op die vliegtuig klim vir haar eerste besoek aan Suid-Afrika, ’n lesing in Oliewenhuis gee of ’n wildreservaat besoek, of dit koud of warm is, Adele is geklee in een van die 30 onesies in haar kas.

Adele Varcoe (middel) in een van haar nousluitende onesies wat haar handelsmerk en identiteit geword het.

(’n Onesie, uitgespreek whansie, kan as ’n volwasse babygrow, oftewel groeipakkie, beskryf word.)

Die eerste keer toe sy as student vir haar ’n onesie gemaak het met geen ander doel as om iets te hê om te dra nie, was die reaksie van verbygangers opvallend.

Mode en klere – volgens haar twee verskillende konsepte – het tog ’n uitwerking op mense, het sy besef en ondersoek begin instel na die sosiale uitwerking daarvan.

Dié onesie met onder meer spieëltjies het Adele Varcoe gemaak vir ’n troue waarheen sy genooi is.

Op die Vrystaat Kunstefees gaan sy met ’n onesie-projek bewys hoe kleredrag skanse tussen mense afbreek en die draer se selfbeeld verbeter.

“Ons gaan 1 000 eenderse onesies vooraf maak en in ’n vertoning uitdeel. Die vertoning sluit musiek in. Ja! Ons gaan tien naaimasjiene op Hofmannplein opstel en dit, asook skêre, aan mikrofone koppel. Dit is ons naaimasjien-orkes. Terwyl tien “kunstenaars” 20 onesies maak sal dié orkes ’n perkussie-uitvoering van ritmiese stik- en knipklanke gee.”

Adele het ’n soortgelyke projek in Melbourne, Australië, aangepak. Sy het eiehandig 300 onesies in agt groottes gemaak en mense gevra om dit aan te trek. “Ewe skielik het vreemdelinge met mekaar begin gesels en het verbygangers op straat met hulle kontak gemaak.

“Party het gesê die onesie laat hulle vry voel, ander het ’n sekere karakter aangeneem. Dit is ’n bewys van die kragtige stuk gereedskap wat klere is. Dit beïnvloed jou gedrag en hoe jy jouself beskou, dit bevorder interaksie en bring mense bymekaar,” sê Adele.

Sy dra vyf jaar al niks anders as onesies nie, die meeste nousluitend om haar lenige lyf. Sy het onesies vir ’n aandjie uit, ’n skitterblinke vir troues, formele en minder formele onesies.

Toe Adele ’n jaar in Londen deurgebring het, het sy haar onesies saamgeneem om daar te dra. Terug in Melbourne het sy nie geweet wat anders om aan te trek nie, toe gaan sy maar voort met haar onesies. Net een dag het sy dit nie gedra nie. Dit was vir ’n eksperiment en daardie dag was dit asof vriende en kollegas haar nie erkenning gegee het nie, vertel sy.

Adele het mode-ontwerp gestudeer en is nou ’n wêreldleier op die gebied van sosiologie en mode, waarin sy ’n doktorsgraad behaal het. Sy skep ook animasie, is ’n teksskrywer, maak sketse en doen performance-kuns.

Daarby is sy ’n dosent aan die RMIT-universiteit in Melbourne waar sy studeer het en bied sy oor die wêreld heen slypskole by universiteite en organisasies aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.