Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Oorsig van Van Nazareth se werk op Hazendal te sien
’n Landskap van Herman van Nazareth wat op die wynlandgoed Hazendal te sien is.

Verskeie van die deftiger wynplase besef dat ’n kultuurmengsel bydra tot toeriste-aantreklikheid. Hazendal in die Bottelary-vallei is een wat uitblink, en tans is daar ’n tentoonstelling in die wynlandgoed se mooi uitstalruimte wat vir kunsaanhangers die rit die moeite werd sal maak.

Herman van Nazareth is nie maklik nie en ook nie maklik om in te perk nie. Dit definieer hom sekerlik in sy eie kunsnis. Daarom is sy werk ook vol prikkelende belofte vir die toegewyde kyker. En, omstrede soos hy soms kan wees, is daar talle aanhangers, asook diegene meer sinies. Nietemin verg sy kuns aandag en dié uitstalling is ’n uitstekende mini-oorsig van sy lang loopbaan.

Die kleurvolle Vlaam-Suid-Afrikaner het pas vandeesmaand 84 geword. En alle lof aan Ina Volosin en haar span op Hazendal wat ’n vernuftige klein oorsig van sy kuns netjies en presies uitstal. Daarbenewens is die landgoed se werf met sy poele en tuin uitstekend vir die bonkige beeldhouwerke wat die kunstenaar so graag op ongewone natuurlike plekke staan maak.

Een van Herman van Nazareth se kenmerkende kopbeelde wat in die uitstalruimte op die wynlandgoed Hazendal te sien is.

Die ruimtes van die uitstallokaal in ’n gerestoureerde buitegebou is subtiel neutrale agtergrond vir stelle skilderye wat Van Nazareth se temas oor die dekades uitbeeld.

Die woord “dekades” is van belang omdat dit juis so kenmerkend van sy kuns is dat daar ’n tydloosheid in die konsep, media en uitvoering ingebou is. So energiek uitgesproke soos immer, is sy beste werk dinamies eietyds – toe en nou. Skilderye van dekades gelede en beelde van destyds staan lewend en intrigant tydloos voor jou.

Net hier en daar is in hierdie tentoonstelling is tekens van ’n spesifieke era. (’n Ligte verwysing na pop, byvoorbeeld, of ’n meer jeugdige verf-aanslag.) Andersins wys die werke ’n deurlopende eksistensiële betrokkenheid met die aard van kuns self.

So bekend soos Van Nazareth se lummelbeelde van figure wat iewers tussen die menslike en die dierlike in ’n soort groteske-paradys bestaan, so is die barre eksistensiële portrette van sy voortgaande reeks vooraangesig-“koppe” dramaties in hul primordiale waarheid.

En dan is daar die landskappe. Hier is ’n heerlike muur of meer vol om daardie poëtiese sy van ’n minimalistiese blik te demonstreer. Met hierdie getuienis sou ’n mens kon argumenteer dat sy landskappe van sy beste kuns is.

’n Beeld deur Herman van Nazareth op die wynlandgoed Hazendal.

Sy beste kuns is geanker in ’n lewenslange omgang met die essensiële, amper primitiewe aard van die mens as wese, en dié se eksistensiële teenwoordigheid: sy omgewing, sy landskap en samesyn. Hy het ’n romantiese geloof in die uitdrukkingspotensiaal van die medium en manier, en van vorm, hetsy skilder of beeldhou. ’n Kunstenaar se kunstenaar is hy, al sou hulle nie altyd mekaar in die oë kyk nie.

Hier op Hazendal, waar ’n mens, sy bedryf en die natuur saamtrek, kan ons dié kunstenaar goed en met plesier in die oë kyk.

• Navrae: Hazendal, tel 021 903 5034.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.