Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Ou meesters ingespan om kolonialisme op doek te takel
‘Bloodties to Land’ (olie op doek, 40 cm x 40 cm, 2019) deur Nhlanhla Nhlapo.

Met die eerste oogopslag herinner die skildery aan dié van ’n Nederlandse ou meester. Die wolke, die lug, die landskap. Maar die kunstenaar se naam onder in die hoek strook nie met daardie era nie.

“Dié ou meesterskenmerk is geen tydelike gier nie. Dit is my kommentaar op Suid-Afrika se geskiedenis en kolonialisme. Ek weet nie waarheen dit my gaan lei nie, maar dit is die moeite werd om te verken.”

So skryf die Suid-Afrikaanse kunstenaar Nhlanhla Nhlapo per e-pos uit Gauteng.

Hy is ’n gebore Vrystater, het in Frankfort grootgeword en visuele kuns aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria studeer. Toe reeds het sy besondere talent opgeval wat hom wonderlike geleenthede gebied het.

Een daarvan was ’n kunsteverblyf in La Creuzette in Boussac, Frankryk, by die Suid-Afrikaanse kunstenaar Louis Jansen van Vuuren.

Hy het die hoogste lof vir Nhlapo, veral omdat hy “die instinktiefste kunstenaar” is wat Van Vuuren nog teëgekom het.

‘The First Wave of the Colonist’ (olie op Franse linne, 120 cm x 120 cm, 2020) deur Nhlanhla Nhlapo

Dié verblyf het Nhlapo aan ’n kunswêreld bekend gestel wat hom oorbluf het.

“Ek het die groot kunsmuseums soos die Louvre en die Pompidou-sentrum besoek waar ek die geskiedkundige werke met my eie oë gesien het. Ook die jongste kontemporêre kuns,” sê hy.

“In Louis se ateljee kon ek met die verstommendste tegnieke uit verskeie eras eksperimenteer. Net so belangrik was sy inspirerende stories.”

Nhlapo se kuns het ’n beskeie begin gehad. Hy sê hy het as kind onophoudelik geteken en eers baie later uitgevind daar is iets soos skilderye. Onderwysers op skool het gou bewus geword van sy talent, hom aangemoedig en hom van boeke voorsien wat hom ’n blik op Suid-Afrikaanse kultuur en Westerse kuns gegee het.

“Dit het my op eindelose verbeeldingsvlugte geneem,” sê Nhlapo.

Die eerste tasbare erkenning dat hy talent het, maar ook bewus geword het van beperkinge wat hy sal moet oorbrug, was ’n prys wat hy in 2009 in ’n kompetisie in die Vrystaat gewen het. Dit het hom die hupstoot gegee om ná skool kuns te studeer.

Aan die TUT het hy mentors gehad soos die bekende Gordon Froud en Jaco van Schalkwyk en algaande het sy kennis en insig verbreed.

Nhlapo sê hy hou van alle mediums en prosesse, maar die eenvoudige kwashale met olieverf is vir hom absoluut betowerend.

Wat hom betref, het hy nie ’n spesifieke styl nie.

“Solank ek uitdrukking deur kuns kan gee, is ek gelukkig. Ek geniet dit om in ’n subtiele, romantiese, poëtiese wyse met visuele beelde om te gaan, beelde wat jou ook laat dink.”

Talle van Nhlapo se skilderye bevat beelde uit sy jeugwêreld wat hy teen ’n agtergrond van ou meesterskenmerke plaas.

Hy is reeds van 2013 ’n dosent aan die TUT en het in 2019 ’n uitstalling in die Johannes Stegmann-galery van die Universiteit van die Vrystaat gehou.

Belangstellendes kan op Facebook en Instagram na sy werke kyk.

Meer oor:  Vrystaat  |  Nhlanhla Nhlapo  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.