Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Parys ’n muse en weldoener
Eugene Labuschagne se Pink Facade, Paris, olieverf op bord. Die voorveiling-skatting vir die kunswerk is tussen R30 000 en R50 000.

As daar nou al ooit ’n stad was wat terselfdertyd ’n muse en weldoener vir kreatiewe siele was en vir hulle skuiling en beskerming gebied het, is dit Parys.

Vir Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars was die nou stegies en keisteen-paadjies, straatkafees en boheemse leefstyl ’n toevlugsoord, ’n plek om asem te haal weg van die stywelip-omies se oranje-blanje-sensuur en beheptheid met figuratiewe, realistiese kuns.

Hier kon jy oor die kleurgrens heen kuier en Henry Miller en D.H. Lawrence lees sonder dat die sensuurpolisie aan jou deur kom klop.

Die skrywer André P. Brink het daarna verwys as die stad wat hy bo enige ander stad liefhet. Vroeë 20ste-eeuse en moderne Suid-Afrikaanse kunstenaars het hier met abstrakte, nie-figuratiewe style geëksperimenteer, geïnspireer deur meesters soos Pablo Picasso, Henri Matisse en bewegings soos Fauvisme en Les Nabis.

Gerard Sekoto se Café Scene, Paris, gouache op papier, is na raming tussen R80 000 en R120 000 werd.

Vir wit Suid-Afrikaanse kunstenaars was ’n Paryse sojourn dikwels ’n geleentheid om hul horisonne te verbreed en tone nat te maak in die avant-garde, maar vir swart kunstenaars soos Gerard Sekoto en Ernest Mancoba was ’n skuif na Parys dikwels noodsaaklik om hul roeping uit te leef en as kunstenaars te ontwikkel. Vir hulle was die stad meer as ’n muse, dit was ’n plek waar hulle asiel gevind het.

Een van die mooiste stories van ubuntu tussen ’n wit en swart kunstenaar in die vreemde is die vriendskap tussen Eugene Labuschagne en Sekoto, wat as die doyen van swart Suid-Afrikaanse kunstenaars beskou word.

Labuschagne was so ’n bietjie van ’n rebel, ’n jukskeibreker, vertel Wilhelm van Rensburg, ’n senior kunsspesialis van die veilingshuis Strauss en Co.

Labuschagne se kunsonderwyser by die Pretoria Boys High School was die reeds moedswillige Walter Battiss, wat sonder twyfel Labuschagne se dwarstrekkerigheid aangevuur het.

“Ná skool het hy in die skone kunste studeer aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad, maar die konserwatiewe doktrines van sy lektor, die kunstenaar Edward Roworth, het hom koud gelaat.”

Vir wit Suid-Afrikaanse kunstenaars was ’n Paryse sojourn dikwels ’n geleentheid om hul horisonne te verbreed en tone nat te maak in die avant-garde, maar vir swart kunstenaars soos Gerard Sekoto en Ernest Mancoba was ’n skuif na Parys dikwels noodsaaklik om hul roeping uit te leef en as kunstenaars te ontwikkel. Vir hulle was die stad meer as ’n muse, dit was ’n plek waar hulle asiel gevind het.

Labuschagne het gehunker na die geometriese, holderstebolder lyne en persepsie van kubisme. Sy hande het gejuk om in ’n meer modernistiese styl te skilder. Die formele realisme van Roworth het hom glad nie aangestaan nie.

Hy het in 1947 opgeskop en saam met sy vrou Parys toe verhuis waar hy hom daarop toegespits het om sy kubistiese styl te slyp.

Sy eerste pogings is goed deur kritici ontvang en sy werk is in 1950 en in 1951 in die Salon de Mai uitgestal, langs dié van Picasso, Fernand Léger en Georges Rouault.

Labuschagne en sy vrou het ’n klein kamertjie op die Île Saint-Louis gehuur, ’n eiland in die middel van die Seine.

Toe Sekoto kort ná die egpaar ook in Parys aanland, het die paartjie hom onder hul vlerk geneem. Die twee kunstenaars het voorheen in Kaapstad ontmoet en hul vriendskap in Parys voortgesit, iets waarvoor hulle ná 1948, met die instelling van apartheid onder DF Malan, gearresteer sou word.

Hier het Sekoto bedags tekenklasse bygewoon by die Académie de la Grande Chaumière in Montparnasse.

Toe die Labuschagne’s later na ’n groter woonstel op die Rue des Ursulines in die 5de arrondissement verhuis, het Sekoto die huur van die woonstel by hulle oorgeneem.

In 1951 het Labuschagne na sy plaas in Piet Retief teruggekeer, waar hy voortgegaan het om in ’n abstrakte styl te skilder.

Sekoto, aan die ander kant, sou nooit weer na sy tuisland terugkeer nie.

Barbara Lindop, kunskenner en Sekoto se biograaf, sê Suid-Afrika het net bitter herinneringe vir die kunstenaar ingehou. Hy was die eerste swart kunstenaar van wie die Johannesburg-kunsgalery ’n kunswerk, Yellow Houses, gekoop het. Toe hy egter na sy eie werk in die galery wou gaan kyk, moes hy hom as ’n skoonmaker vermom om toegang te kry.

Selfs toe die winde van verandering ná 1990 begin waai het, wou hy nooit weer na Suid-Afrika terugkeer nie. Sekoto is in 1993 in Parys oorlede.

“Hy was nie meer ’n Suid-Afrikaner nie, maar ’n Fransman,” sê Lindop. Parys was vir 40 jaar sy tuiste; hier was hy geliefd en bekend.

Hoewel Parys vir Sekoto ’n toevlug was, het hy soos talle kunstenaars en skrywers voor haar wêreldse plesiere geswig.

Hy was ’n bedrewe komponis en musikant en het skrywers, kunstenaars en akademici van oor die wêreld heen ontmoet. Die laat aande waar hy as musikant in Parys se kuierplekke gewerk het en te veel alkohol het egter sy tol geëis en in 1949 is hy ná ’n senuwee-ineenstorting in die psigiatriese hospitaal St. Anne opgeneem. Tydens sy behandeling het hy sy medepasiënte geskets. Die sketse word gesien as ’n hoogtepunt in sy loopbaan en wys ’n diep, empatiese verstandhouding van depressie en ’n meesterlike uitbeelding van sy onderwerpe se menslikheid en broosheid.

Aanvullende bronne: www.gerardsekotofoundation.com, Strauss & Co 11 November-katalogus

Kassie

Die tema van Maandag se Strauss en Co-veiling is die invloed van Parys op Suid-Afrikaanse kunstenaars in die 20ste eeu.

Die kunsveiling is by die veilingshuis se kantoor in Sentraalstraat 89, Houghton, Johannesburg.

Kunswerke en lotte kan hier besigtig word, van vandag tot Maandag. Openingstye is 10:00 tot 17:00.

Die veiling vind Maandag plaas en begin om 19:00. Besoek straussart.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Strauss  |  Veiling  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.