Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Pat Mautloa wen gesogte Helgaard Steyn-prys
Pat Mautloa se skildery ‘Urban Vibes’ wat aan hom die Helgaard Steyn-prys vir 2019 besorg het.

Die internasionaal erkende kunstenaar Pat Mautloa is die wenner van die Helgaard Steyn-prys en die gepaardgaande geldprys van R625 000. Sy skilderwerk Urban Vibes (City Buzz) het hom die wenprys besorg.

Dié prys word in ’n vierjaarsiklus toegeken vir ’n toonsetting, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns en is een van die grootste kunspryse in die land.

Met ’n loopbaan wat oor dekades strek, is daar min Suid-Afrikaanse kunstenaars wat Mautloa se statuur kan ewenaar. Bra Pat, soos hy bekend is, is in 1952 in Ventersdorp gebore en is ’n stigterslid en direkteur van die Bag Factory-kunsgalery, waar hy sedert 1991 ’n ateljee bedryf.

Mautloa se wenwerk verbeeld die wyse waarop die transito-energie en die pols van die stadslandskap met dié van sy inwoners se lewe vervleg. Daar is ook ’n sterk wisselwerking tussen die abstrakte en die figuurlike. As ’n gemengdemedia-element word die driekleurige plastieksakke verweef om ons aan die migrantegeskiedenis van die stad te herinner. Terselfdertyd verwys die element na die onlangse xenofobiese aanvalle wat duisende mense in die middestad van Johannesburg ontwortel het.

Pat Mautloa

Urban Vibes (City Buzz) plaas die kunstenaar as ’n transkulturele bemiddelaar midde-in die dinamiese verskuiwende stadsbeeld. Die werk is die beliggaming van ’n stedelike sublimiteit wat tegelyk ontsagwekkend en angswekkend is.

Mautloa het op hoërskool kuns aan die Jubilee- en die Mofolo-kunssentrum studeer en in 1970 die OK Bazaar-beurs ontvang waarmee hy van 1978 tot 1980 aan die Rorke’s Drift-kunssentrum in KwaZulu-Natal verder kon studeer.

Sedertdien speel hy ’n kardinale rol in die ontwikkeling van jong opkomende kunstenaars.

Sy werk is opgeneem in kunsversamelings van Hollard, Standard Bank, die Johannesburgse kunsgalery, die Iziko- Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Yellowwoods, Spier en Sasol.

Hy het ook aan talle solo- en groepuitstallings deelgeneem by onder meer die Goodman-galery, die National School of the Arts, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (Oudtshoorn) en die Universiteit van Johannesburg se kunsgalery. In 2016 was hy die KKNK se feeskunstenaar.

Een van sy hoogtepunte in sy loopbaan is sy deelname aan die Contemporary African Art Fair in Londen.

Die Helgaard Steyn-trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle Dr. J.H. (Jan) Steyn (1902-1983), ’n oudstudent van die eertydse Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat), ’n oud-LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye. Die trust is genoem na sy pa, ’n voormalige LPR van Bloemfontein en jongste broer van die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn.

Die huidige trustees is Hanneli Rupert-Koegelenberg, Gerard Rupert, Francois van der Merwe, Johannes van Niekerk en Absa Trust Bpk.

Die drie beoordelaars, Angela de Jesus van die Universiteit van die Vrystaat, Moya Goosen van die Noordwes-Universiteit en die onafhanklike kurator Richardt Strydom het Mautloa eenparig as wenner aangewys.

Vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-prys vir skilderkuns sluit in Pippa Skotnes (1987), Nel Erasmus (1991), Robert Hodgins (1995), Cyril Coetzee (2003), Bronwen Findlay (2007), Pauline Gutter (2011) en Penny Siopis (2015).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.