Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Poëtiese stilte van Pierneef, ikoniese tonele wag op veiling
Jacob Hendrik Pierneef se ‘Boababs’, olie op bord, 44,5 cm x 59 cm.

Die oorheersende aanvraag na en belangstelling in Suid-Afrikaanse meesterwerke word opnuut bevestig deur die ruim aanbod op die jongste veiling van Strauss & Co, wat Dinsdag in Woodstock gehou en aanlyn aangebied word vir ’n wêreldwye kopersmark. Daar sal 227 werke opgeveil word.

Die belangrikste hiervan is die aanbod van tien werke van J.H. Pierneef wat werk uit verskillende tydperke van sy produktiewe loopbaan verteenwoordig. ’n Pierneef-werk is ’n gesogte kopie. Sedert 2009 het Strauss & Co reeds 615 Pierneef-werke verkoop met ’n gesamentlike waarde van R245 miljoen.

Irma Stern se ‘Roses in a Chinese Vase’, olie op doek, 50,5 cm x 38 cm.

Pierneef se ikoniese uitbeelding van ’n Bosveld-landskap van kremetartbome word gekenmerk deur ’n poëtiese stilte met ’n meditatiewe potensiaal. In hierdie geometriese aanslag in sagte pastelkleure en treffende komposisie is ’n sterk Afrika-gevoel, wat die werk gesog maak en wat opnuut Pierneef se meesterskap bewys. Die verkoopsprys van Boababs (1952) word tussen R2,5 miljoen en R3 miljoen geraam.

Elephant Castle, Selati River, Phalaborwa (1945) beeld die samevloeiing van die Selati- en die Olifantsrivier uit, waar daar eens ryk, natuurlike minerale, spesifiek koper- en ysterneerslae, was. Kort ná die voltooiing van die werk is fosfaat ontdek, wat in 1957 tot die stigting van die myndorp Phalaborwa lei. Die geraamde waarde van die werk is tussen R1,8 miljoen en R2,4 miljoen.

’n Belangrike Pierneef-werk vir Kaapse versamelaars is Fishing Boats, Hout Bay (1942), wat ’n klassieke Kaapse toneel uitbeeld. Dit toon twee vissersbote teen die agtergrond van vissershuise en berge. Die tonale harmonie en komposisionele balans is tipies van Pierneef se olieverfwerk uit hierdie tydperk. Die werk word gewaardeer tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Nog sewe Pierneef-werke word aangebied wat verteenwoordigend is van al die skilder se belangrikste tydperke. Benewens die groot olieverfwerke, word werke in pastel, houtskool en potlood aangebied. Hy het voortdurend geëksperimenteer met nuwe tegnieke in sy strewe om die kern van ’n landskap vas te vang.

Maggie Laubser se ‘Shepherd and Sheep’, olie op bord, 38,5 cm x 49 cm.

Van Erik Laubscher word ook tien werke aangebied. Dit sluit in van sy belangrikste Bolandse landskappe, wat saam met belangrike werke van kunstenaars soos Cecil Skotnes, Marjorie Wallace en Christo Coetzee afkomstig is uit die KWV-versameling, wat nou ontbind word.

’n Panoramiese landskap, Winter Vines, Kloovenberg (sic), in akriel, wat die Bolandse landskap in betowerende kleure vaslê, is Laubscher op sy beste. Die werk word vir tussen R400 000 en R600 000 aangebied. Dit is van die Riebeeck-Kasteel- en Tulbagh-omgewing.

Opwindend is die agt werke van Skotnes wat aan bod kom. Hieronder is ’n paneel wat die geskiedenis van die wynbedryf in Suid-Afrika verbeeld. Hierdie paneel, wat spesiaal vir die voorportaal van die KWV gemaak is, is indrukwekkend en enig in sy soort. Die werk The Origin of Wine/The Epic of Gilgamesh word gewaardeer tussen R800 000 en R1,2 miljoen.

Wat ook imponeer, is twee stillewes van Skotnes, Still Life with Bottles (’n geraamde prys van tussen R400 000 en R600 000) en Wyn wat die mensehart verheug (’n geraamde prys van tussen R60 000 en R80 000).

Van Wallace word vier werke aangebied. Tipies Wallace is die werke ’n verbeelding van haar daaglikse handel en wandel. ’n Werk waar sy langs die see by Onrus stap met haar honde; ’n werk waar seebamboes geoes word wat haar man, Jan Rabie, jellie van gekook het en die res kompos in sy tuin was; asook ’n studie van ’n verwagtende vrou, Rachel Otto, Breyten Breytenbach se suster, wat dikwels vir Wallace as model poseer het. Die werk was voorheen in die versameling van die digter Antjie Krog. ’n Belangrike werk uit die KWV-versameling is Funeral, wat die begrafnis van die Afrikaanse literator prof. Fransie Malherbe uitbeeld. Op die voorgrond is die kunstenaar, Rabie en Uys Krige sigbaar.

’n Studie van Maggie Laubser van ’n skaapwagter, bekend as Ou Booi, is een van die belangrikste werke op die veiling. Die werk is kort ná Laubser se terugkeer uit Italië na Suid-Afrika geskilder. Ou Booi was dikwels ’n model vir haar op haar familieplaas in die Swartland. Shepherd and Sheep (1924) se geraamde prys is tussen R1,2 miljoen en R1,5 miljoen.

Onder die drie werke van Irma Stern wat aangebied word, is ’n blomstudie, Roses in a Chinese Vase (1948), ’n betowerende werk. Die veilingsprys is tussen R2,5 miljoen en R3 miljoen.

’n Ander belangrike werk is The Madonna and the Child of Soweto (1976), ook bekend as Black Madonna, deur Larry Scully. Die werk is in ooreenstemming met sy ikoniese werk met dieselfde titel in die Regina Mundi- Katolieke kerk in Rockville, Soweto. Die werk, olieverf en collage op doek word gewaardeer vir tussen R70 000 en R100 000.

’n Seldsame verskyning op ’n veiling is olieverfwerke van Thomas Bowler. Sover bekend bestaan daar slegs 12 olieverfskilderye. Die twee werke, Arrival of the East Indiaman St Lawrence in Table Bay, Cape of Good Hope (ongedateerd) en ’n baaitoneel, Port Elizabeth (circa 1861), se veilingspryse is onderskeidelik tussen R100 000 en R150 000 en R150 000 en R200 000.

Belangrike kontemporêre werke van Arlene Amaler-Raviv, Beezy Bailey, Mustafa Maluka, Blessing Ngobeni, Tom Cullberg, Matthew Hindley, Ayanda Mabulu, Lionel Smith en Athi-Patra Ruga word ook aangebied. Daar is ook ’n stewig aanbod van kontemporêre fotografie.

• Die werk kan tot Sondag besigtig word by Brickfield Canvas, 2de verdieping, Brickfieldweg 35, Woodstock. Besoek die webblad www.straussart.co.za. Navrae: 021 683 6560 en 078 044 8185.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.