Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Private kunsstigting open in Johannesburg

Al hoe meer private versamelaars en filantrope tree na vore om nuwe kunsinstellings op die been te bring terwyl openbare kunsmuseums al hoe swaarder kry met al hoe minder steun van die nasionale, provinsiale en plaaslike regering. Dit lei daartoe dat versamelings stagneer en geboue al hoe kwesbaarder word.

Die straatingang na JCAF in Forest Town, Johannesburg.
Die nuwe portaal wat die biblioteek en die uitstalruimte van JCAF verbind.

Dié neiging wat wêreldwyd begin toeneem, het in Suid-Afrika eers in Kaapstad gestalte gekry in Zeitz Mocaa en die Norval-stigting, toe in Pretoria in die Javett-UP-sentrum en nou ook in Johannesburg met die opening van die Joburg Contemporary Art Foundation (JCAF) se gebou in Forest Town.

Elkeen van dié instellings het ’n eie benadering en visie, hoewel die gemeenskaplike beweegrede vir die totstandkoming van dié instellings waarskynlik die private versameling van vier individue was – dié van Jochen Zeitz, Louis Norval, Michael Javett en Gordon Schachat.

Schachat het jare lank verskeie modelle en museums ondersoek vir sy versameling en eindelik besluit om nié ’n museum vir sy versameling te skep nie.

Waarmee hy vorendag gekom het, is ’n nuwe soort instelling wat nie self kuns besit of ’n tuiste vir ’n versameling is nie. Saam met sakemanne Adi Enthoven en Phuthuma Nhleko as trustees het hy JCAF in 2013 as filantropiese en hibridiese instelling tot stand gebring: nie ’n museum of ’n galery nie, maar eerder ’n kombinasie van akademiese navorsingsinstituut, innoverende tegnologielaboratorium en ’n platform vir uitstallings van museumgehalte.

Kort ná die amptelike opening van JCAF se gebou vroeër vanjaar het die inperkings ook ’n stok in die speke van dié instelling gedruk en was die eerste uitstalling, Contemporary Female Identities in the Global South, maande lank nie vir die publiek beskore nie.

Nandipha Mntambo se ‘What Remains, 2019’, teen die muur, Bharti Kher se ‘Warrior with Cloak and Shield, 2008’, en Wangechi Mutu se ‘A Dragon Kiss Always Ends in Ashes, 2007’. Foto: Graham de Lacy
Die onmiddellike visuele ooreenkomste tussen Bharti Kher se ‘Mother, 2016’, en Berni Searle se ‘Snow White, 2001’, is nie net opvallend nie, maar sit ook ’n gesprek aan die gang oor die plek van die lyf en rituele in die vorming van identiteit. Foto: Graham De Lacy
’n Blik op ’n gedeelte van die uitstalling met die werk van Bharti Kher, Wangechi Mutu en Nandipha Mntambo. Foto: Graham de Lacy

Nou is JCAF oopgestel en met inagneming van gesondheidsprotokolle kan mense aanlyn bespreek om dié uitstalling met die werk van Bharti Kher (Indië), Nandipha Mntambu (Suid-Afrika), Wangeshi Mutu (Kenia/VSA), Shirin Neshat (Iran/VSA) en Berni Searle (Suid-Afrika) te besigtig. Die kurator van die uitstalling is Clive Kellner, wat ook die direkteur van JCAF is.

Die gebou op die hoek van Sherwood- en Durrisweg, ’n klipgooi van Jan Smutsrylaan, was jare lank ’n tremstoor (tot die 1960’s toe Johannesburg nog trems gehad het) en die rooibaksteengebou dateer van die 1930’s.

Met inagneming van die argitektuur van dié tyd het Pierre Swanepoel van studioMAS op ’n sensitiewe manier ’n uitstalruimte van 450 m² ingerig.

In dié ruimte het Kellner, die man wat jare gelede direkteur van die Johannesburg Kunsmuseum was, ’n uitstalling geplaas met 12 kunswerke deur die vyf deelnemende kunstenaars.

Twee goed val ’n mens onmiddellik op: ’n kleinerige ruimte en min werk. “Ja,” sê Kellner, “en ons beplan ook net een uitstalling per jaar.”

Wat gaandeweg blyk is dat nie JCAF óf Kellner belang het in ’n horisontaal spreidende benadering nie, maar eerder in die diepgang wat ’n vertikale snit bied. Die uitstallings duur vir ses maande en die res van die jaar word onder meer aan navorsing en navorsingsgesprekke gewy. Een van die oogmerke is immers die verruiming van die publiek se begrip van moderne en kontemporêre kuns. Vir dié doel word samewerking met navorsers en navorsingsinstellings wêreldwyd benadruk, met fokus op die Suidelike Halfrond, en kry dit ook gestalte in openbare gesprek.

Saam met dié akademiese onderbou is JCAF trouens net so ernstig oor die beskikbaarstelling van inligting. Met geen teks in die uitstalling in sig nie – selfs nie eens die titel van werke nie – kan die besoeker allereers die kuns onbevange waarneem. ’n Nuttige app bied wel toegang tot heelwat konteks soos relevante sosio-historiese agtergronde, inligting oor die kuratoriale proses, die kunswerke en die kunstenaars.

Die hibriditeit wat blyk uit JCAF se benadering word eweneens weerspieël in Kellner se aanpak van dié eerste uitstalling wat tot 30 Januarie te sien is (verleng weens die inperkingstyd). “Die belang van ’n uitstalling met die werk van swart vrouekunstenaars kan teen die agtergrond van huidige wêreldgebeure kwalik groter wees,” sê hy. “Juis in dié tyd waarin ras en gender so verpolitiseer en gepolariseer geword het, kan hibriditeit ’n gangbare manier word aan die hand waarvan ’n mens nasionale, gemeenskaps- en individuele identiteitsvorming kan ondersoek.”

Met behulp van ’n geïnstalleerde houtplatform (spesiaal vir dié uitstalling) en subtiele beligting lei Kellner die besoeker na drie poele waarin die werk verdeel word: Die wêreld waarin die mens en natuur ontmoet; die mens-dier hibriede wêreld en laastens die wêreld waarin godsdiens onder meer ’n bepalende invloed het in die vasstelling van identiteit.

Besoek www.jcaf.org.za vir nog inligting en besprekings. Toegang is gratis.

Meer oor:  Phuthuma Nhleko  |  Museum  |  Zeitz Mocaa  |  Visuele Kuns  |  Kunste  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.